
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Die gevaar van oorregulering in die regsberoep: Hoe rasgebaseerde sektorkodes regslui benadeel
Die regsberoep, meer as enige ander beroep, behoort onwrikbaar geskoei te wees op meriete, integriteit en regverdigheid. Ongelukkig word hierdie beginsels al hoe meer bedreig deur sektorkodes wat ras- en geslagsverteenwoordiging afdwing. Lees verder om uit te vind hoe rasgebaseerde sektorkodes alle betrokkenes benadeel.
Deur Leré Nel
Hierdie sektorkodes, wat omvat is in artikel 9 van die Wet op Breëbasis Swart Ekonomiese Bemagtiging (BBSEB-wet), is bedoel om transformasie in die regsberoep te bevorder. Dit het egter dikwels die teenoorgestelde uitwerking: dit beperk die vryheid van regspraktyke én die keuse van kliënte, en dit benadeel sekere groepe onregverdig.
Die probleem met ras- en geslagskwotas
Een van die grootste probleme wat rasgebaseerde sektorkodes inhou, is dat dit regsfirmas dwing om sekere aanstellings op grond van ras en geslag te maak, eerder as op meriete. Hierdie voorskrifte raak nie net die eienaarskap en bestuur van regsfirmas nie, maar beïnvloed ook die verkryging van werk. Dit skep ’n situasie waar regspraktisyns wat nie aan spesifieke demografiese kriteria voldoen nie, uitgesluit word van geleenthede, ongeag hul kundigheid of ervaring. Verder is die veronderstelling dat sekere groepe nie suksesvol kan wees sonder regeringsinmenging nie, onakkuraat, en dit ontneem individue van hul reg op gelyke mededinging. Hierdie kwotas poog om ’n vlak van ras- en geslagsverteenwoordiging binne die regsberoep te vestig wat onmoontlik is om reg te kry, aangesien dit glad nie in ooreenstemming is met die werklike ras- en geslagsdemografie van diegene wat reeds die professie beoefen nie. Om hierdie verregaande doelwit te bereik, word daar hindernisse gestel vir dié wat nie die “regte” geslag of kleur is nie.
Beperking van regsverteenwoordiging en vryheid van keuse
Die wetgewing en regulasies wat sektorale transformasie afdwing, plaas ook onregverdige beperkings op kliënte se vryheid om hul eie regsverteenwoordigers te kies. Korporatiewe entiteite en individue word in sommige gevalle gedwing om sekere regspraktisyns te gebruik om aan die transformasieverpligtinge te voldoen, selfs al verkies hulle ’n ander prokureur of advokaat. Hierdie inperking op vrye keuse ondermyn die belangrikste beginsels van die regsberoep en plaas ’n onnodige regulatoriese las op sowel regsfirmas as hul kliënte.
Solidariteit se standpunt oor die beskerming van regspraktisyns se regte
Solidariteit beskou hierdie vorm van oorregulering as ’n ernstige bedreiging vir die onafhanklikheid en funksionaliteit van die regsberoep. Ons is gekant teen beleid wat regspraktisyns verhinder om vryelik hul praktyk te bedryf of wat hul regte beperk deur onregverdige rasgebaseerde kriteria op te lê. Regsfirmas behoort die vryheid te hê om hul eie besluite oor aanstellings en praktykbestuur te neem sonder politieke inmenging.
Die regsberoep moet sy kernwaardes van vryheid, billikheid en meriete behou. Oorregulering deur middel van sektorkodes het verreikende negatiewe gevolge en moet heroorweeg word om ’n regstelsel te verseker wat op gelyke geleenthede en uitnemendheid geskoei is.