Foto Krediet: Pexels
Gekopieër
Die impak van sosiale media op tieners se gesondheid en welstand
Deur Karen Waldeck
Die teenwoordigheid van sosiale media in tieners se lewens kan ouers en opvoeders soms bekommerd maak. Die volgende vraag ontstaan dikwels: Wat is die impak van sosiale media op tieners se gesondheid en welstand? Sosiale media het ʼn groot invloed op aspekte soos selfbeeld en selfvertroue, maar daar is darem ook nie slegs ʼn negatiewe impak nie. Daar is soveel goeie dinge wat baie mense miskyk. Die Common Sense se 2022-sensus het getoon dat sosiale media ook ʼn positiewe impak op tieners kan hê.
Watter positiewe impak het sosiale media op tieners se gesondheid en welstand?
Een van die grootste voordele van sosiale media vir tieners is die vermoë om met mense te kommunikeer wat belange en passies deel. Sosiale media maak dit ook moontlik vir tieners om gemeenskappe en ondersteuning te vind wat hulle nie noodwendig in hul onmiddellike omgewing sou kon kry nie. Dit kan bydra tot sosiale integrasie, selfvertroue en ʼn gevoel van identiteit.
Sosiale media kan ook ʼn waardevolle hulpmiddel wees vir tieners wat daarin belangstel om idees en menings met ander te deel. Platforms soos Solidariteit en Maroela Media bied hulle die geleentheid om hul stem dik te maak, die jongste nuus te bespreek en aan debatte deel te neem. Dit stimuleer kritiese denke, empatie en verantwoordelikheid ten opsigte van belangrike sake en alledaagse dinge in die samelewing.
Daar is ook ʼn groot verskeidenheid inligting op sosialemediaplatforms beskikbaar. Tieners kan sosiale media gebruik om hulself op te voed, byvoorbeeld deur te leer oor gesondheidskwessies, maatskaplike kommentaar, tegnologie, kultuur en nog baie meer. Dit gee tieners die geleentheid om hul kennis te verbreed en ʼn bewustheid van die realiteit van die lewe daar buite te ontwikkel.
Watter negatiewe impak het sosiale media op tieners?
Een van die grootste bekommernisse rondom sosiale media is die invloed wat dit op tieners se selfbeeld en selfvertroue kan hê. Met dié dat die meeste inligting en foto’s op alle platforms geredigeer is, skep dit ʼn onrealistiese beeld vir tieners. Dit kan ʼn negatiewe impak op tieners selfbeeld en selfvertroue hê, wat op sy beurt weer kan lei tot emosionele probleme soos angs, depressie en die gevoel van minderwaardigheid.
Daar is ook ʼn toenemende bewustheid van die invloed wat sosiale media op tieners se geestesgesondheid het. Tieners spandeer dikwels ure aanlyn wat ʼn negatiewe invloed op hulle slaappatrone en algemene welstand kan hê. Die voortdurende blootstelling aan sosiale media kan ook sosiale isolasie veroorsaak, aangesien tieners geneig is om minder persoonlike interaksie te hê en meer tyd aanlyn deur te bring. Hierdie gebrek aan sosiale interaksie kan tot gevoelens van eensaamheid lei en angs en depressie veroorsaak.
Sosiale media kan in die langtermyn ook ʼn negatiewe impak op akademiese prestasie hê. Volgens Afrikaans.com verwys die navorsing van Marie Brits daarna dat sosiale media verslawend kan wees en tieners dus nie meer sonder hulle selfone kan klaarkom nie. Dit kan daartoe lei dat tieners meer tyd aanlyn spandeer en dit kan hulle studie sowel as tydbestuur nadelig beïnvloed. Daarom is dit uiters belangrik vir ouers om skermtyd gedurende skooldae te beperk, ongeag hoe oud of jonk jou kind is. ʼn Goeie balans tussen sosiale media en skoolverpligtinge is een van die belangrikste dinge wat tieners in hierdie era moet aanleer.
Maroela Media deel die moets en moenies van sosiale media met ouers. Sosiale media kan óf ʼn positiewe óf ʼn negatiewe impak op tieners se lewens hê. Ouers speel ʼn groot rol in die balans van tieners se lewens en dit is dus van kardinale belang dat ouers en tieners bewus is van die invloed daarvan op gesondheid en welstand. Ouers moet egter hulle tieners bewus maak van die belangrikheid van ʼn gesonde balans tussen die realiteit en sosiale media.