loading
Artikels
2 weke gelede
die-krag-van-mentorskap-vir-ambagslui

Foto Krediet: OkayDeer

Die krag van mentorskap vir ambagslui

Die Solidariteit Ambagnetwerk verbind mentors met jong ambagslui sodat waardevolle kennis en vaardighede aan die volgende generasie oorgedra kan word. Mentorskap bou selfvertroue, werksetiek en gemeenskappe, wat noodsaaklik is vir ʼn suksesvolle loopbaan. Lees hier meer oor die waarde van mentorskap vir ambagslui.


Deur Kyla-Ann du Toit

In die wêreld van ambagte is praktyk en ervaring van kardinale belang. ʼn Mentor – iemand met jare se ervaring wat sy kennis aan ʼn student of jong werkende oordra – is dus van onskatbare waarde. Die Solidariteit Ambagnetwerk speel ʼn belangrike rol in hierdie oordrag van kennis deur mentors en jong ambagslui met mekaar in verbinding te bring.

Ons het met Ferdie van Niekerk, ʼn ervare ambagsman, en Stephen Montgomery, ʼn jong meulmaker, gesels oor die waarde van mentorskap:

ʼn Mentor se perspektief: Ferdie se insigte

Ferdie se passie vir die ambagte kom van kleins af en is beïnvloed deur sy pa wat self ʼn mentor vir ambagslui was. Hy beskou die oordra van kennis as ʼn noodsaaklikheid om die ambagte lewend te hou. “Baie van die oplossings wat ek in my loopbaan moes vind, was nie in boeke beskikbaar nie,” verduidelik Ferdie. “Daardie kennis is iets wat ek met trots aan jonger generasies oordra.”

Vir Ferdie is ʼn goeie mentor iemand wat altyd bereid is om te help. Hy moedig sy studente aan om probleme met selfvertroue aan te pak. “As daar ʼn probleem is of ʼn gebrek aan vaardigheid is, moet jy die eerste een wees wat opstaan om dit reg te maak,” sê hy. “Dis hoe jy leer en jouself onvervangbaar maak in die ambagbedryf.”

ʼn Student se ervaring: Stephen se pad na meesterskap

Stephen besef die waarde van ʼn mentor. “Om iemand te hê wat jou nie net die tegniese aspekte leer nie, maar ook hoe die lewe in die bedryf werk, is ongelooflik waardevol,” sê hy. “Dit bou karakter en help my om ʼn sterk werksetiek te ontwikkel.”

Hy hoop om deur ʼn mentor se leiding meer te leer oor sy gekose rigting en hoe hy sy vaardighede kan verfyn. “Die grootste uitdaging tot dusver was om al die verskillende gereedskap reg te leer gebruik. ʼn Mentor kan my help om dit veilig en doeltreffend aan te wend.” Sy raad aan ander ambagstudente is eenvoudig maar kragtig: “Moet nooit bang wees om vir hulp te vra nie. Jy het meer potensiaal as wat jy dink.”

Die rol van die Solidariteit Ambagnetwerk

Ferdie het eers bewus geword van Solidariteit se Ambagnetwerk toe hy aan die #JouYster-kompetisie deelgeneem het. Sedertdien het hy gesien hoe dié beroepsnetwerk ʼn belangrike rol speel in die bevordering van ambagte. “Die Ambagnetwerk verbind mense met dieselfde passie en skep ʼn gemeenskap waar ons van mekaar kan leer.”

Mentorskap is nie net ʼn eenrigtingpad nie – beide die mentor en die student leer by mekaar.

  • Ferdie se wenk: Wees altyd die een wat eerste opstaan om ʼn probleem op te los. Dit wys jou passie en help jou om vinnig te groei in jou beroep.
  • Stephen se wenk: Moet nooit huiwer om vrae te vra en by ervare mense te leer nie. Dit kan jou loopbaan ʼn hupstoot gee.

Mentorskap is ʼn kragtige manier om nie net tegniese kennis oor te dra nie, maar ook om ʼn sterk ambagsgemeenskap te bou. Die Solidariteit Ambagnetwerk speel ʼn sleutelrol in hierdie proses deur vir ervare ambagslui geleenthede te skep om hul kennis met jong studente te deel. Vir enige aspirant-ambagsman of -vrou is ʼn mentor ʼn waardevolle rigtingwyser na ʼn suksesvolle loopbaan.

Wil jy ʼn mentor vind of ʼn mentor wees? Klik hier vir meer inligting oor Solidariteit se mentorskapprogram.

Sluit vandag nog aan by die Solidariteit Ambagnetwerk en bou saam aan ʼn toekoms vir die ambagte!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel