loading
Artikels
6 dae gelede
wees-n-mentor-en-hoe-om-n-mentor-te-vind

Foto Krediet: OkayDeer

Wees ʼn mentor en hoe om ʼn mentor te vind

Jong werkendes is op soek na mentors wat bereid is om te luister, by wie hulle kan leer en wat hulle kan help om by ʼn wêreld wat tegnologies vinnig verander aan te pas. Of jy ʼn mentor wil wees of een wil vind, is die sleutel vir ʼn suksesvolle mentorskapprogram om proaktief te wees en betekenisvolle verhoudinge te bou. Ontdek hoe Solidariteit se mentorskapprogram jou kan help om jou loopbaan met selfvertroue ʼn hupstoot te gee.


Deur Reon Janse van Rensburg

Om in die hedendaagse vinnig veranderende werksomgewing ʼn mentor te wees vereis ʼn moderne benadering. Hier is ʼn paar sleutelpunte om in gedagte te hou:

Verstaan Gen Z se wêreld

Gen Z is tegnologies vaardig, sosiaal bewus en het ʼn waardering vir ʼn balans tussen werk en lewe. Hulle wil nie net geleer word nie, maar ook inspraak hê in sake en betekenisvolle gesprekke voer. Mentors moet dus bereid wees om nie net raad te gee nie, maar ook te luister en saam met die mentee te leer.

Bou ʼn verhouding op wedersydse respek

Tradisionele, hiërargiese mentorskap werk nie altyd vir Gen Z nie. Hulle verkies ʼn samewerkende verhouding waar idees vrylik gedeel word en hulle nie bloot as “leerlinge” gesien word nie. ʼn Goeie mentor moedig dialoog aan en waardeer die vars insigte wat jonger generasies bring.

Wend tegnologie op ‘n slim manier aan

Mentorskap hoef nie net by ontmoetings in persoon te bly nie. Zoom-gesprekke en WhatsApp-groepe bied nuwe maniere om te kommunikeer en leerinhoud te deel.

Moedig selfstandigheid aan

ʼn Mentor se doel is nie om iemand van hom of haar afhanklik te maak nie, maar om mentees toe te rus om onafhanklike besluite te neem. Leer jou mentee hoe om probleme sélf op te los en sy of haar eie netwerke te bou.

Hoe om ʼn mentor te vind

Om ʼn mentor te vind, begin by ʼn bewustheid van jouself– weet wat jy benodig en watter soort ondersteuning jou loopbaan kan bevorder. Hier volg ʼn paar wenke:

Solidariteit het ʼn mentorskapprogram van stapel gestuur om jong werkendes ʼn hupstoot in hul loopbaan te gee. Hierdie program, wat boonop in Afrikaans aangebied word, het ten doel om jong mense te bemagtig om hul beroep met die nodige kennis en vertroue aan te pak. Spesialiste in verskeie beroepe, wat roepinggedrewe is, bied hul dienste vrywillig aan om as beroepsmentors op te tree om só die kennis en ervaring wat hulle al opgedoen het met jong mense in die betrokke beroep te deel. Lees hier meer oor wat die program behels.

Soek rond in jou netwerk: Baie mentorskapverhoudings begin informeel deur kollegas of professionele kontakte. Reik uit na iemand in jou bedryf met wie jy dink jy goed oor die weg sal kom en wat ook in staat sal wees om jou te leer.

Wees proaktief: Moenie net wag vir ʼn mentor om na jou toe te kom nie – nader mense wie se werk en leierskap jy bewonder. ʼn Paar sekondes se braafheid kan jou toekoms verander.

Hoe om ʼn mentor te word

As jy al diep spore in jou beroep getrap het en graag in ʼn jong werkende se loopbaan wil belê deur jou kundigheid en ervaring met dié persoon te deel, kan jy gerus as mentor optree vir jong mense wat nuut in jou beroep is. Skep jou gratis profiel op Solidariteit en klik hier om vandag as mentor te registreer.

Die krag van mentorskap vir die toekoms

In 2025 is mentorskap nie net ʼn tradisionele leerproses nie; dit is ʼn dinamiese, tweerigting-verhouding waarin albei partye groei. Of jy nou ʼn mentor is of op soek is na een, die belangrikste is om oop te wees vir nuwe maniere van leer, aan te pas by veranderende werksomgewings en verhoudings te bou wat gebaseer is op respek en wedersydse groei.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel