loading
Artikels
2 maande gelede
solidariteit-se-mentorskapprogram

Foto Krediet: OkayDeer

ʼn Blik op Solidariteit se mentorskapprogram 

Deur Ané Janse van Rensburg 

ʼn Mentor is daar om jong mense aan die begin van hul loopbaanpad te bemagtig om die nuwe avontuur met vertroue aan te pak. Spesialiste in verskeie beroepe stel hulself deur Solidariteit beskikbaar om as beroepsmentors op te tree. 

Solidariteit gesels met Chereé Meyer, Solidariteit se jongwerkende-organiseerder, om al die besonderhede oor die mentorskapprogram uit te vind: 

Wat behels Solidariteit se mentorskapprogram ?

Die program behels dat jong mense, wat die behoefte het om in hulle loopbaan te groei, na Solidariteit toe kom en dan met ʼn beroepsspesifieke mentor in verbinding tree. Die mentee benader die mentor met ʼn spesifieke behoefte bv. iets wat hulle wil aanleer. Elke mentee word by ʼn mentor geplaas wat oor ʼn stel vaardighede beskik wat die mentee graag sou wou aanleer om dan later in hulle beroep te kan gebruik en sodoende bevorder te kan word.  

Wat word by die program ingesluit? 

Dit hang van mentorskap tot mentorskap af, maar die volgende is altyd deel van die aanbod: Jy as mentee kry ʼn mentor en julle ontmoet mekaar dan vir vier tot ses maande. Dit kan een keer ʼn week wees of elke twee maande; dit gaan afhang van julle behoeftes en wat julle onder mekaar ooreenkom. Die mentor en die mentee sal self besluit wat hulle in die program gaan doen. Jy as ʼn mentee gaan met ʼn spesifieke behoefte na die mentor toe. Byvoorbeeld, indien jy in ʼn kommunikasierigting werksaam is en jy ʼn behoefte het om meer oor Google Ads te leer, kan jy daardie spesifieke behoefte aan jou mentor bekendmaak. Die mentor kan dan sy of haar kennis met jou deel rakende daardie spesifieke vaardigheidstel.  

Wat hoop die program om te bereik? 

Die hoofdoel van die program is om kennis terug te ploeg. Daar is ʼn generasie van jong mense wat nou begin werk wat nie noodwendig baie ervaring het nie. Hulle kan dus baie vinniger ontwikkel om hulself te bevorder, sou hulle by ʼn mentor leer. Mentees hoef ook nie net harde vaardighede te leer nie. Hulle kan sagte vaardighede ook aanleer en hoe om professioneel in die werkplek te wees. Indien jy, byvoorbeeld, sukkel met konflikhantering, is dit ook ʼn vaardigheid wat jy vir jou mentor kan vra om jou aan te leer. Wanneer ʼn mens ʼn kringloop begin waar mense met ervaring hulle kennis terugploeg in jonger mense, dan maak ons die eerste generasie wat die werkplek betree baie sterker. 

Hoe nou gemaak as jy graag ʼn mentor wil wees? 

Enige iemand wat iets het om terug te gee, in terme van professionele kennis, kan ʼn mentor wees. Jy hoef nie al 10 of 15 jaar werksaam te wees nie. Jy kan twee of drie jaar werk en nog steeds meer weet as iemand wat sopas die werkersmag betree. As jy voel jy het iets wat jy vir iemand kan leer wat sopas begin werk het, of wat nog jonk is in die werkplek, kan jy ʼn mentor wees. Dit kan ook byvoorbeeld iemand wees met skaars spesialisvaardighede wat min mense weet hoe om te doen as hulle begin werk. As jy voel jy wil graag daardie iemand wees vir ʼn jong werkende, dan kan jy ʼn mentor wees.  

Hoe kan jy aansoek doen om ʼn mentor te kry? 

Jy kan ons mentorskapblad besoek, of ʼn e-pos na mentorskap@solidariteit.co.za stuur. Jy kan dan sê wat jou behoeftes is, wat jy wil leer en watter stel professionele vaardighede jy wil aanleer. Jy kan dalk ook moontlik van beroep wil verander en dan die behoefte hê om met iemand te gesels wat in daardie beroep werksaam is om te hoor wat jy sal nodig hê om die skuif te maak. Daarna kan jy vra of ʼn spesifieke mentor beskikbaar is, waarna ons die mentor sal vra of hulle beskikbaar is en of jy as mentee ʼn goeie passing sal wees. Jy sal dan ʼn vraelys invul en jou CV aanstuur. ʼn Passing word gemaak waarna die mentorskapprogram dan afskop.  

Hoe lank duur die program? 

Die program duur vier tot ses maande. 

Vind die program aanlyn of in persoon plaas? 

Dit kan beide aanlyn en/of in persoon plaasvind. Die mentee en mentor besluit self hoe gereeld hulle mekaar wil sien. Dit hang ook af van al twee se liggings. As die mentor nabygeleë is kan julle mekaar byvoorbeeld oor middagetes ontmoet.  

Wat sou jy sê is die voordele wat die program vir beide die mentor en mentee inhou? 

Die mentor kry die geleentheid om sy of haar kennis terug in die gemeenskap te ploeg. Die mentor kry ook die geleentheid om ʼn jong mens te leer ken en te sien groei. Daar kom baie bevrediging daaruit om iemand te mentor en om te weet dat hulle by jou iets leer en dat hulle self jou as ʼn mentor wou gehad het. Die mentee kan daarmee saam professionele vaardighede aanleer, waaruit jou loopbaan saam met ʼn mentor kan groei. Jou mentor is iemand wat jy as ʼn verwysing op jou CV kan gebruik. As ʼn jong mens bou jy ook ʼn lekker netwerk, want jy kry ook toegang tot jou mentor se netwerk.  

Hoeveel kos die program?  

Die voorwaarde om aan die mentorskapprogram deel te kan neem, is dat jy ʼn lid van Solidariteit moet wees. Die mentorskapprogram is dan gratis saam met die kostes verbonde aan ʼn Solidariteit-lidmaatskap, wat nog vele ander voordele ontsluit.  

Solidariteit wil jong werkendes versterk om te verseker dat hulle loopbaandoelwitte verwesenlik. Sluit vandag nog aan by Solidariteit deur op hierdie skakel te klik, en skep vir jouself ʼn toekoms waar jy vry, veilig en voorspoedig kan leef en werk. 

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel