Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Die krag van Solidariteit
Deur dr. Dirk Hermann
Waar kom Solidariteit se krag vandaan? Ek bedoel nie uit ʼn geestelike oogpunt nie, want vanuit ʼn geestelike oogpunt kom ons krag van ons Skepper.
Ek praat van ons fisiese bron van krag – gewone mense wat hard werk.
Solidariteit se voete staan stewig in die gemeenskap en ons werk vanuit die gemeenskap. Ons gemeenskap bestaan grootliks uit mense wat werk.
Ons put ons inspirasie uit mense wat in moeilike omstandighede steeds vorentoe beur en daar is vir mekaar.
Ek dink aan Steve Scott uit die mynbedryf wat sy lewe vir sy kollegas gegee het en vir 17 jaar as president van Solidariteit gedien het.
Ek dink aan ons huidige president, Blackie Swarts, werksaam in ʼn staalfabriek, wat lede verteenwoordig soos enige regsgeleerde dit kan doen.
Ek dink aan ons vise-president, Henk Kruger, wat vir ʼn mynboumaatskappy in Kathu werk en voltyds sy tyd aan ander wy.
Ek dink aan oom Giel Odendaal, wat reeds 50 jaar lid van Solidariteit is, wat afgetrede lede op ons hoofraad verteenwoordig.
Ek dink aan Deon de Vries, ʼn gemeenskapsman in murg en been, wat tot onlangs by Sasol gewerk het en sedert 1985 lid van die Solidariteit-hoofraad is.
Ek dink aan elke lid van ons hoofraad wat onbaatsugtig in diens van ʼn groter saak en ons lede staan.
Ons hoofraad bestaan verder uit verteenwoordigers van die metaal- en ingenieursbedryf, Eskom, die mynbedryf, die chemiese bedryf, asook die finansiële, onderwys-, gesondheids- en regsektore.
Ons hoofraadslede vergader elke maand en gee aan ons mandate. Ons nasionale raad vergader jaarliks waar hulle verslae ontvang, en mosies en finansiële state goedkeur.
Elke bedryf het ʼn bedryfsraad, en die beroepsnetwerke het adviesrade.
Ons het honderde verteenwoordigers en adviesraadslede. Elke vyf jaar is daar ʼn verkiesing vir al Solidariteit se verkose strukture.
Só word dit wat ons lede beleef en wil hê, deurgegee aan ons voltydse amptenare. Ons is bloot in diens hiervan.
Dit is by hulle wat ons hoor wat die gevolge is wanneer produkte nie, weens gebrekkige spoorinfrastruktuur, na hawens vervoer kan word nie.
Dit is hulle wat kan vertel wat met smelters gebeur wanneer daar kragprobleme en weghol-elektrisiteitspryse is. Dit is hulle wat die prys sal betaal wanneer die Amerikaners se Agoa-wet sneuwel as gevolg van die regering se roekelose buitelandse beleid.
Dit is hulle wat korttyd werk wanneer daar ʼn tekort aan skroot is. Dit is hulle wat met ʼn permanente swaard oor die kop leef van moontlike afleggings.
Dit is hulle wat die druk in die onderwys ervaar wanneer die staat verder sentraliseer. Dit is hulle wat skielik met ras-eise in die regsektor gekonfronteer word.
Dit is hulle wat jaar ná jaar in rasverslae as oorverteenwoordig aangedui word. En so kan ek aangaan.
Hulle is hoogs ingelig, want hulle staan op die voorste linie in die werkstryd.
Dit is ook hulle wat besluit het dat Solidariteit moet bou. Dit is op hulle vergaderings waar daar besluit is dat Solidariteit-lede R10 per maand tot ʼn Boufonds moet bydra.
Dit is hulle wat goedgekeur het dat ons Helpende Hand, Sol-Tech, Akademia, Bo-Karoo Opleiding en vele meer moet begin.
Hulle is die hedendaagse helde van ons tyd.
Dit staan in skrille kontras met die enkele kommentators wat die krag van hierdie gewone mense onderskat omdat hulle dit nie verstaan nie.
Die enkelinge skep ʼn strooipopwêreld waarin hulle Solidariteit kritiseer, terwyl die werklike Solidariteit by hulle verbygaan.
Solidariteit was nog altyd gewone mense wat in moeilike omstandighede planne maak vir die toekoms.
Mense wat nie wag vir beter tye nie, maar help om dit self te skep.
Dít is Solidariteit se krag.