loading
Artikels
1 maand gelede
die-krag-van-vroue-in-landbou-hannelet-jordaan-wys-die-pad-vorentoe

Foto Krediet: OkayDeer

Die krag van vroue in landbou: Hannelet Jordaan wys die pad vorentoe

Vroue in die landbou speel ʼn sleutelrol en doen baanbrekerswerk deur innovasie, passie en tegnologie. Hannelet Jordaan se inspirerende loopbaanreis wys hoe data-ontleding en volhoubare praktyke produsente help om ingeligte besluite te neem en winsgewendheid te verbeter. Lees hier meer oor ʼn storie van visie, volharding en verandering wat jou sal aanmoedig om self ook ʼn verskil in hierdie bedryf te maak.


Deur Johan Barnes

In ʼn tyd waarin landbou nie net oor tradisie gaan nie, maar ook oor innovasie en volhoubaarheid, tree vroue toenemend na vore as dryfkragte agter verandering en vooruitgang. Een so ʼn vrou is Hannelet Jordaan, wie se reis in die landboubedryf ʼn ware inspirasie vir enige jong vrou is wat daarna streef om haar merk in dié sektor te maak.

Hannelet het op ʼn plaas buite Sterkstroom grootgeword en het reeds vroeg ʼn liefde vir landbou ontwikkel. Ná sy in 2015 aan Hoërskool Hangklip gematrikuleer het, het sy besluit om haar passie te volg deur BSc Veekunde aan die Universiteit van Stellenbosch te studeer. Sy het in 2019 haar graad voltooi en dadelik met haar MSc in Veekunde in 2020 begin – ʼn studie wat later sou fokus op die ekonomiese impak van verskillende metodes van slaggereedheid en die rol van moderne tegnologie daarin.

Ten spyte van die COVID-19-pandemie wat haar studies kortstondig vertraag het, het sy die tyd gebruik om haarself verder in die bedryf te vestig. Haar liefde vir data-ontleding en wiskunde het daartoe gelei dat sy begin het om skaapdata te ontleed – en so is ʼn produksie-ontledingsmodel gebore. In 2021 het sy by BKB begin werk met die doel om hierdie model te kommersialiseer. Vandag is sy die bestuurder van DSS (Decision Support Services) – ʼn groeiende onderneming wat data van meer as 200 000 diere op hul stelsel ontleed en produsente help om ingeligte besluite te neem.

Hannelet glo dat elke uitdaging eintlik ʼn geleentheid is – vir groei, vir nuwe perspektiewe, en vir verbetering. “Die groot ding is dat jy goed met feite moet wees en jou feite moet kan staaf,” sê sy. DSS is juis uit so ʼn behoefte gebore – om produsente te help om hul winsgewendheid te verbeter ondanks stygende insetkoste. Sy besef dat enigiets nuuts altyd kritiek sal lok. “Die geheim is om te luister na wat mense regtig sê en daaruit te leer. Dié wat niks doen nie, kry ook geen kritiek nie. Doen dit in elk geval. Glo in wat jy doen.”

Haar werk maak reeds ʼn tasbare verskil. DSS bied aan produsente ʼn wetenskaplik gefundeerde maar praktiese hulpmiddel wat hulle in staat stel om besluite met meer sekerheid te neem. Sy sien hoe die model nie net produksie verbeter nie, maar ook hoop bring – deur te wys dat daar lig is, selfs in uitdagende tye. Met skaap- en bokmodelle reeds in plek en bees- en afrondingsmodelle op pad, glo sy dat die beste nog voorlê.

Vir jong vroue wat hul plek in die landbou wil vind, bied Hannelet eenvoudige, maar kragtige raad: “Be yourself, back yourself.” Glo in jouself, ken jou storie en gebruik jou passie. Elke mens wat ons ontmoet, bied vir ons ʼn geleentheid om te leer – en om te inspireer.

Vandag is daar, meer as ooit tevore, ruimte vir vroue om in die landbou te skitter. Of jy in die veld wil werk of in laboratoriums, besighede wil bou, of tegnologie wil ontwikkel wat produsente bemagtig – daar is plek vir jou. Hannelet se verhaal herinner ons daaraan dat jy nie eers alles hoef uit te pluis voordat jy begin nie. Jy begin net, jy leer, jy groei. En dalk, net dalk, is jy besig om ʼn weg vir ander te baan.


Solidariteit se Landbousektor-groep is jóú loopbaanvennoot en wil jou graag met relevante én interessante nuus en inligting bemagtig. Sluit vandag nog by Solidariteit se Landbousektor-groep aan en bly op hoogte van wat in jou beroep gebeur.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel