loading
Artikels
2 dae gelede
metaal-en-ingenieursbedryfkongres-2025-solidariteit-is-n-skild-vir-ambagslui

Foto Krediet: Solidariteit

Metaal- en Ingenieursbedryfkongres 2025: Solidariteit is ʼn skild vir ambagslui in onsekere tye

Die Metaal- en Ingenieursbedryfkongres 2025 is ʼn duidelike bewys dat Solidariteit ʼn onmisbare skild vir ambagslui is. Deur verteenwoordigers op te lei en hulle met strategiese kennis toe te rus, word lede beter beskerm teen diskriminerende wetgewing en werkonsekerheid. Danksy instellings soos Sol-Tech en verskeie werkskeppings- en opleidingsprojekte, bou Solidariteit doelbewus aan ʼn selfstandige en hoopvolle toekoms vir sy lede. Lees hier meer.


Deur Kyla-Ann du Toit

Die Metaal- en Ingenieursbedryfkongres 2025, wat op 3 Junie by Sol-Tech plaasgevind het, was veel meer as net ʼn byeenkoms van rolspelers in die bedryf – dit was ʼn daadwerklike bevestiging dat Solidariteit nie net ambagslui help om hul volle potensiaal te bereik nie, maar ook doelbewus veg om hulle en hul werk te beskerm in ʼn land waar die ekonomiese en politieke speelveld toenemend ongelyk word.

60 verteenwoordigers van Solidariteit het die konges bygewoon.

ʼn Kongres wat toerus en bemagtig

Ongeveer 60 verteenwoordigers van Solidariteit het van regoor die land by Sol-Tech byeengekom vir vanjaar se Metaal- en Ingenieursbedryfkongres. Die doel van hierdie kongres was om Solidariteit-verteenwoordigers toe te rus met die jongste inligting oor bedryfsuitdagings, beleidsveranderinge en Solidariteit se strategiese rigting. Só kan verteenwoordigers hul roeping as eerste linie van beskerming in die werkplek met insig, selfvertroue en volhoubaarheid vervul.

“Solidariteit se kollektiewe omgewing, veral die metaal- en ingenieursbedryf, verkeer baie onder druk weens die ekonomiese omstandighede. Daarom is dit vir ons baie belangrik om ons verteenwoordigers te bemagtig om lede tot die beste van hul vermoë by te staan,” sê Dirk Smit, netwerkorganiseerder van die Solidariteit Ambagnetwerk.“Solidariteit is ʼn skild vir ons lede – ons veg teen rassewette; ons bou ʼn toekoms vir ons jong mense; ons beskerm lede in die werkplek; en ons bied oplossings in ʼn onsekere wêreld.”

Deur verteenwoordigers op te lei en in te lig, stel Solidariteit hulle in staat om lede ten volle by te staan – in onderhandelinge, regskwessies en daaglikse interaksies met werkgewers.

ʼn Baken van hoop in onsekere tye

Blackie Swart, nuutverkose president van Solidariteit, het kongresgangers verwelkom, waarna Willie Venter, Solidariteit se adjunkhoofsekretaris vir die metaal- en ingenieurswesebedryf, geopen en die kernboodskap oorgedra het: Ons leef in onsekere tye – gekenmerk deur plaaslike wanbestuur, internasionale spanning en onderdrukkende rassewetgewing wat werksekerheid bedreig. Te midde van hierdie uitdagings staan Sol-Tech, en alles wat dit verteenwoordig, as ʼn baken van hoop. Dit is geen toeval dat hierdie kongres juis hiér plaasgevind het nie.

Elke Solidariteit-lid het ʼn aandeel in hierdie kampus. Dit is ʼn bewys dat ʼn toekoms gebou kán word, selfs in ʼn onstabiele wêreld.

Sol-Tech as ʼn simbool van selfstandigheid

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het die betekenis van Sol-Tech verder beklemtoon: Dit is nie net ʼn opleidingsinstelling nie – dit is ʼn simbool van gemeenskap, visie en volharding. Hier word jong mense in Afrikaans opgelei tot suksesvolle, waardegedrewe ambagslui. Dít is wat Solidariteit uniek maak – die vermoë om in te tree en konkrete oplossings te skep wanneer die stelsel faal.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het die gehoor toegespreek.

Solidariteit as ʼn waghond vir ambagslui

Solidariteit vervul ʼn waghondrol – veral in ʼn sektor waar beleidsrigtings ambagslui dikwels marginaliseer en bedreig. Die kongres het ook duidelik gewys dat Solidariteit nie skroom om teen diskriminerende rassewetgewing op te tree nie. Solidariteit se Regsfonds stel dié instelling in staat om litigasie in te stel teen nuwe regulasies wat duisende werksgeleenthede bedreig. Hierdie optrede is nie net proaktief nie – dit is noodsaaklik vir bedryfstabiliteit.

ʼn Skild van hoop, opleiding en werkbeskerming

Solidariteit beskerm nie net sy lede deur regsaksies nie, maar bou ook omgewings waarin ambagslui kan floreer. Solidariteit se werkfasiliteringsplatform, die uitbreiding van Sol-Tech, die ontwikkeling van ʼn nuwe universiteitskampus en talle ander projekte wys hoe ernstig Solidariteit oor werkskepping en opleiding is.

Hierdie inisiatiewe is slegs moontlik danksy lede wat elke maand bydra – elke bietjie maak ʼn groot verskil!

Hennie Bierman, hoof van die Solidariteit Netwerkplatform, het die verteenwoordigers meer oor die platform vertel.

Die kongres herinner ons aan ʼn eenvoudige waarheid: Solidariteit is net so sterk soos sy lede. Elke lid help bou – aan kampusse, regsaksies, studiefondse en aan die toekoms van die ambag. Jy is ʼn aandeelhouer in die oplossing. En deur verteenwoordigers op te lei, versterk Solidariteit die beskermingsnetwerk vir elke ambagsman en -vrou in die werkplek – want Solidariteit is jou skild!

Word deel van jou beroepsgemeenskap

In tye van onsekerheid is een ding seker: Solidariteit sal aanhou veg vir sy lede – vir werk, vir geregtigheid en vir ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms.

“Daar is niks in die land wat nie deur ʼn ambagsman help bou is nie. Ons moenie die rol van ambagslui onderskat nie.” Só beskryf dr. Hermann die kardinale rol wat ambagslui in Suid-Afrika speel. Solidariteit wil dus verseker dat jy nie net oor ʼn werk beskik nie, maar dat jy ook beskerm, bemagtig en verbind is binne ʼn gemeenskap wat saam bou aan ʼn toekoms met meriete en moed.

Raak vandag nog deel van die Solidariteit Ambagnetwerk en word deel van jóú beroepstuiste – ʼn gemeenskap wat jou loopbaanpad in maklike én moeilike tye saam met jou wil stap.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel