Fotokrediet: Verskaf
Gekopieër
Die mark laat Eskom se monopolie kwyn
Robin-Lee Maré
Eskom se jarelange monopolie oor Suid-Afrika se elektrisiteitsmark is besig om te kwyn namate huishoudings en ondernemings toenemend alternatiewe bronne van elektrisiteit vind.
Volgens Helgard Cronjé, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, is bekostigbare en betroubare elektrisiteit nou die belangrikste voorwaarde om te verseker dat die veranderende energiemark tot voordeel van die ekonomie én werknemers strek.
Dan Marokane, Eskom se uitvoerende hoof, het onlangs aan Bloomberg gesê dat die hervorming van die elektrisiteitsektor “onherroepelik” is en dat Eskom “werklik die idee prysgegee het om alles te besit of alles self te doen”.
Die kragvoorsiener ondersoek gevolglik nuwe inkomstebronne, waaronder datasentrums, elektriese voertuie, hernubare energie en streekuitvoer.
Volgens Cronjé is hierdie verandering egter nie bloot die gevolg van politieke besluite oor die hervorming en ontbondeling van Eskom nie. Ekonomiese en tegnologiese verandering het reeds ʼn punt bereik waar die tradisionele monopoliemodel toenemend onder druk verkeer.
“Die mark het reeds begin beweeg. Verbruikers en ondernemings het alternatiewe gevind omdat hulle nie meer bereid of in staat is om voortdurend stygende elektrisiteitspryse en onseker kragvoorsiening te absorbeer nie.
“Eskom en die regering het dus nie meer dieselfde ruimte om te kies of hervorming moet plaasvind nie. Dit gebeur reeds,” sê Cronjé.
Sedert 2008 het Eskom se gemiddelde elektrisiteitstariewe met meer as 1 000% gestyg, terwyl die koste van sonkragtegnologie oor dieselfde tydperk skerp gedaal het.
Dit het dit vir talle huishoudings en ondernemings toenemend aantreklik gemaak om hul eie elektrisiteit op te wek.
Suid-Afrika beskik reeds oor ongeveer 9 GW se sogenaamde agter-die-meter-sonkragkapasiteit. Die verskuiwing na private elektrisiteitsopwekking het ook bygedra tot die oortollige kapasiteit waaroor Eskom tans beskik.
Terselfdertyd staar Eskom ʼn groeiende skuldprobleem in die gesig. Munisipaliteite se skuld aan die kragvoorsiener beloop reeds sowat R122 miljard, terwyl betalende kliënte toenemend alternatiewe vir Eskom se elektrisiteit oorweeg.
“Hier lê die groot uitdaging. Eskom verloor van sy betroubare, betalende verbruikers aan alternatiewe opwekking, terwyl enorme bedrae steeds deur wanbetalende kliënte verskuldig is.
“Om bloot hoër tariewe van die oorblywende betalende kliënte te verhaal, is nie ʼn volhoubare antwoord nie,” sê Cronjé.
Bekostigbaarheid moet voorop staan
Cronjé meen Eskom beskik steeds oor belangrike voordele, waaronder sy omvang, bestaande infrastruktuur en vermoë om groot hoeveelhede elektrisiteit op ʼn stabiele grondslag te lewer.
Die koste waarteen hierdie elektrisiteit gelewer word, sal egter toenemend Eskom se mededingendheid bepaal.
Volgens Cronjé dra verkrygingsvereistes en transformasiedoelwitte tot onnodige kostedruk by wanneer dit voorkeur geniet bo koste-effektiwiteit, vaardigheid en doeltreffendheid.
Solidariteit se navorsing het voorheen bevind dat Eskom se produksiekoste gemiddeld sowat 27% hoër was as dié van vergelykbare kragvoorsieners nadat transformasie- en swart ekonomiese bemagtigingsdoelwitte sterker geprioritiseer is.
“Die vraag behoort eenvoudig te wees: Hoeveel goedkoper kan elektrisiteit wees indien onnodige premies en ondoeltreffendhede uit die stelsel verwyder word?
“Elke rand waarmee elektrisiteitskoste verlaag kan word, maak Suid-Afrika meer mededingend en gee energie-intensiewe ondernemings meer ruimte om te groei en werk te skep,” sê Cronjé.
Volgens hom behoort goedkoper en betroubare elektrisiteit self as ʼn belangrike instrument vir ekonomiese ontwikkeling beskou te word.
“Wanneer ondernemings mededingend kan produseer, kan hulle uitbrei, belê en mense in diens neem. Elektrisiteitsbeleid behoort daarom eerstens daarop gerig te wees om betroubare krag teen die laagste volhoubare koste moontlik te lewer.”
Verandering hou ook gevolge vir werknemers in
Die hervorming van die elektrisiteitsmark bring egter ook onsekerheid vir werknemers mee. Eskom se ontbondeling, die toetrede van nuwe rolspelers en moontlike verskuiwings van bates en funksies kan gevolge vir werksekerheid, diensvoorwaardes en vaardigheidsbehoeftes inhou.
Cronjé meen werknemers behoort daarom reeds gedurende die hervormingsproses georganiseerd te wees en inspraak te hê in die wyse waarop verandering plaasvind.
Solidariteit is reeds dekades lank by Eskom en die breër elektrisiteitsektor betrokke. Die organisasie het onder meer aan loononderhandelinge deelgeneem en vaardigheidslyste aan Eskom voorgelê toe die onderneming ernstige kundigheidstekorte ervaar het.
“Werkers kan nie wag totdat die nuwe elektrisiteitsmark volledig gevestig is voordat hulle oor hul plek daarin begin nadink nie. Die besluite wat nou oor strukture, vaardighede, poste en diensvoorwaardes geneem word, gaan die arbeidsmark van die toekomstige energiesektor vorm,” sê Cronjé.
Volgens Cronjé behoort werknemers daarom deur sterk vakbondverteenwoordiging inspraak te hê oor lone, werksekerheid, vaardigheidsontwikkeling en diensvoorwaardes gedurende die oorgang.
“Die einde van Eskom se monopolie is nie meer bloot ʼn teoretiese debat nie. Die mark verander reeds.
“Suid-Afrika se uitdaging is nou om hierdie verandering te gebruik om ʼn meer mededingende, doeltreffende en bekostigbare elektrisiteitsektor te bou wat ekonomiese groei ondersteun én sy kundige werknemers behou,” sluit Cronjé af.