Fotokrediet: Verskaf
Gekopieër
Erkenning red nie werk nie – Ramaphosa moet ʼn Agoa-reddingsplan voorlê
Solidariteit doen ʼn beroep op president Cyril Ramaphosa om leierskap te toon en dringend ʼn konkrete plan met duidelike sperdatums voor te lê om Suid-Afrika se deelname aan Agoa te probeer behou.
Ramaphosa se skielike erkenning dat Suid-Afrika uit dié handelsprogram gesluit kan word, kom te laat en bied geen gerusstelling aan werkers wie se inkomste daardeur bedreig word nie.
Volgens Solidariteit het die organisasie reeds ʼn konkrete plan wat hy lankal met die regering wil deel tot voordeel van Suid-Afrika se mense en werkers. Dié aanbod word egter verwerp, terwyl Solidariteit se pogings om werk en handelsvoordele te beskerm as inmenging afgemaak word en radikale groepe dit selfs as hoogverraad bestempel.
Jaco Kleynhans, hoof van openbare skakeling by Solidariteit, sê Ramaphosa en sy span se spyt kom heel moontlik nou te laat.
“Werkers het meer as ʼn waarskuwing van die president nodig. Hulle het optrede nodig wat hul werk beskerm.
“Die president moet sy werk doen en verduidelik watter dringende diplomatieke en beleidsoptrede gaan volg, wie daarvoor verantwoordelik is en teen wanneer dit uitgevoer moet word,” sê hy.
Solidariteit waarsku reeds jare lank dat Suid-Afrika se verslegtende verhouding met die VSA die land se handelsvoordele en werkgeleenthede in gevaar stel. Die organisasie het ook die Withuis genader met ʼn pleidooi dat Suid-Afrika se deelname aan Agoa behoue moet bly.
“Ons het reeds ʼn konkrete plan en wil dit met die regering deel. Ons wil saamwerk om Suid-Afrikaners se werk en inkomste te beskerm.
“Tog word ons toenadering verwerp en word ons ook deur oningeligte kommentators van inmenging beskuldig. En hier kom die president en erken nou self die gevaar waarteen ons waarsku.
“Dit is nou duidelik: Ego’s moet opsy geskuif word, en die president moet bereid wees om na oplossings te luister,” sê Kleynhans.
Volgens Solidariteit ondersteun Suid-Afrika se uitvoere na die VSA meer as ʼn halfmiljoen plaaslike werkgeleenthede. Ongeveer die helfte daarvan is in sektore wat by Agoa se gunstige handelsvoorwaardes baat. Uitsluiting kan ondernemings se mededingendheid verswak en uitvoerbestellings, inkomste en werksekerheid bedreig.
Die nagenoeg 250 000 werkgeleenthede wat op die spel is, is rofweg gelykstaande aan die totale getal werknemers van Suid-Afrika se vyf grootste mynmaatskappye.
Kleynhans sê Ramaphosa behoort te besef dat betrekkinge met die VSA nie bloot ʼn politieke spel is nie.
“Hoe sou Suid-Afrika reageer as al vyf die grootste myngroepe tegelyk sluit? Hierdie is nie net ʼn politieke speletjie nie.
“Agter hierdie syfers is gesinne wat huispaaiemente, skoolgeld en kos moet betaal. Die gevolge kan deur hele gemeenskappe spoel. Vir die president om ʼn traak-my-nie-agtige houding in te neem en vir hierdie mense te vra om op die ergste voor te berei is nie genoeg nie.
“Dit is Ramaphosa en Lamola se werk om in die beste belang van die land op te tree. Om die VSA te vervreem is nie in die beste belang van die land nie,” sê Kleynhans.
Kleynhans voer verder aan dat geen land ʼn florerende uitvoerekonomie kan handhaaf sonder goeie betrekkinge met die VSA nie.
“Amerika verteenwoordig meer as ʼn kwart van die wêreld se verbruikersekonomie. Selfs China is geheel en al afhanklik van goeie handelsbetrekkinge met die VSA.
“Polities kan jy van die VSA verskil, maar as hierdie verskille handel bedreig, is dit tyd om te herbesin.”
Solidariteit doen ʼn beroep op Ramaphosa om dringend met die organisasie in gesprek te tree, die beskikbare voorstelle te oorweeg en ʼn gekoördineerde poging te lei om die diplomatieke geskil met die VSA by te lê.