Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
5 uur gelede
mtbr-moet-geld-in-mense-se-sakke-hou-nie-meer-daaruit-haal-nie-solidariteit

Fotokrediet: ChatGPT

MTBR moet geld in mense se sakke hou, nie meer daaruit haal nie – Solidariteit

Solidariteit se Navorsingsinstituut (SNI) meen môre se mediumtermynbegrotingsrede (MTBR) moet ’n duidelike koers na laer staatsuitgawes, belastingverligting en die verwydering van groeibeperkende beleid aandui.

Suid-Afrikaanse huishoudings en ondernemings kan nie langer die rekening vir ’n ondoeltreffende staat en skadelike beleidskeuses dra nie.

Volgens die SNI behoort twee oudits die grondslag van dié benadering te vorm: een om vas te stel watter poste in die staatsdiens werklik waarde toevoeg en ’n tweede om beleid en wetgewing se uitwerking op ekonomiese groei te beoordeel.

Theuns du Buisson, ekonomiese navorser verbonde aan die SNI, sê die minister van finansies, Enoch Godongwana, moet veral die omvang en koste van bestuursposte in die staatsdiens onder die loep neem.

“Die probleem is nie noodwendig dat staatsamptenare te veel verdien nie, maar dat daar hopeloos te veel mense in bestuursposte is, waar hulle wel te veel verdien.

“Die belastingbetaler kan nie aanhou om op te dok vir miljoenêrstaatsamptenare nie,” sê Du Buisson.

Die SNI voer aan dat poste wat nie waarde toevoeg nie, afgeskaf moet word en dat tegnologie, waaronder kunsmatige intelligensie, ingespan moet word waar dit doeltreffendheid kan verbeter en koste kan bespaar.

Volgens die SNI sal besnoeiings egter onvoldoende wees indien die regering terselfdertyd voortgaan met beleid wat investering ontmoedig en ekonomiese bedrywighede belemmer.

Die voorgestelde beleidsoudit moet daarom onder meer swart ekonomiese bemagtiging, onteiening sonder vergoeding en onnodige belasting- en lisensievereistes insluit.

“As iets in die pad van ekonomiese groei staan, moet dit summier geskrap word,” sê Du Buisson.

Die SNI verwag ook dat die minister belastingverligting vir salaristrekkers ernstig sal oorweeg. Die persoonlike inkomstebelastingstelsel moet hersien word, met aandag aan belastingkoerse en die indeling van die belastingkerwe, sodat werk en bykomende inkomste sterker aangemoedig word.

Bykomende verdienste kan tot ’n onverwagte belastingrekening lei wanneer onvoldoende belasting gedurende die jaar daarop betaal is.

Volgens die SNI behoort die stelsel mense te help om hul finansiële posisie deur ekstra werk te verbeter.

Verder behoort die minister belasting en voorgeskrewe heffings te hersien wat ekonomiese aktiwiteit belemmer. Die SNI sonder suikerbelasting uit en vra ook dat die koste verbonde aan eiendomsoordrag en verbandregistrasie ondersoek word.

Hoë transaksiekoste bemoeilik toegang tot eiendom en kan mense verhinder om te verhuis of kapitaal vir ander doeleindes beskikbaar te stel.

Wat brandstof betref, meen die SNI dat korttermynverligting, waar die fiskale ruimte daarvoor bestaan, met ’n langertermynplan gepaard moet gaan.

Dit behoort voorsiening te maak vir strategiese fisiese brandstofreserwes en ’n sterker finansiële buffer om toekomstige prysskokke te versag. Duidelike reëls vir bydraes tot en onttrekkings uit die egalisasiefonds behoort deel hiervan te vorm.

Die instituut beklemtoon dat die begroting se uitgangspunt moet wees om meer geld in huishoudings en ondernemings se hande te laat, waar dit besteding, investering en werkskepping kan ondersteun.

“Die mense van Suid-Afrika kan nie meer betaal nie. Die uitgangspunt vir die mediumtermyn moet wees om so veel as moontlik geld in huishoudings en ondernemings se sakke te hou,” sê Du Buisson.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel