loading
Artikels
8 maande gelede
die-nuwe-era-van-werk-menslike-volhoubaarheid

Foto Krediet: OkayDeer

Die nuwe era van werk: menslike volhoubaarheid

Deur Anja van den Berg

Ons leef in ʼn tyd waar mense sentraal staan in werk en in organisasies. Suksesvolle organisasies weet dat mense hul belangrikste hulpbron is. Hulle besef ook dat hul belangegroepe verder uitkring as bloot hul direkte werknemers. Hulle sien álle mense wat betrokke is by die organisasie – van kontrakteurs tot kliënte en gemeenskapslede – as deurslaggewend tot die organisasie se sukses. Hierdie menslike verbintenisse is die dryfveer agter alle waardes, insluitend inkomste, innovasie, produktiwiteit en handelsmerkgroei.

Ongelukkig prioritiseer nie alle maatskappy menseverhoudinge nie, deels omdat hulle vasgevang is in ʼn uitgediende denkwyse. Hulle sien mense as hulpbronne om uit te buit, eerder as vennote om saam ʼn beter toekoms te skep. Deloitte se 2024 Global Human Capital Trends rig ʼn ernstige waarskuwing aan sulke besighede en sê menslike volhoubaarheid is die enigste manier om besigheidsuitkomstes te laat groei.

Wat is menslike volhoubaarheid?

Menslike volhoubaarheid verwys na die mate waartoe ʼn organisasie waarde skep vir mense deur hulle met beter gesondheid en lewensgehalte, versterkte vaardighede, meer werksgeleenthede, geleentheid vir bevordering, groter gelykheid, samehorigheid en betekenisvolle doelstellings te laat. Organisasies wat hierdie benadering omarm, skep ʼn voordelige siklus wat mense bemagtig om al hoe beter te presteer tot voordeel van die gemeenskap.

Wat is die voordele van menslike volhoubaarheid?

Studies toon dat organisasies wat aan menslike volhoubaarheid werk, sterker resultate as hul mededingers oplewer. Besighede wat die beste met hulle arbeidsmag omgaan, toon hoër wins, ʼn laer personeelomset en minder foute. Die redes is interafhanklik maar ook voor die hand liggend. Wanneer mense met besluitnemingsvermoë en vaardighede bemagtig is, kan hulle beter keuses maak. Hulle is ook gesonder en gelukkiger omdat hulle dag-tot-dag-arbeid hul welstand én die welstand van hul gemeenskap ondersteun. Laastens neem hulle minder risiko’s wat die organisasie kan benadeel en ervaar hulle ʼn ware vennootskap met hul werkgewer.

Hoe om menslike volhoubaarheid te bevorder

Om hierdie benadering te omarm moet organisasies eers hul siening van mense herevalueer. Mense is nie hulpbronne nie, maar vennote. Leiers kan begin deur:

  • • te fokus op metings van werklike menslike uitkomste soos welstand en ontwikkeling;
  • • die besigheidsvoordele van menslike volhoubaarheid duidelik te definieer sodat ander daarby sal inkoop;
  • • bestuurders se belonings aan menslike volhoubaarheidsdoelwitte te koppel;
  • • menslike volhoubaarheidsbeheer op direksie- en topvlak te vestig; en
  • • werknemers by die herskryf van rolle en inisiatiewe te betrek.

Menslike volhoubaarheid is ʼn langtermynstrategie om ʼn beter toekoms vir almal te bou deur die vervlegte aard van gelykheid, vertroue, doelwitte en welstand te erken. Dit verg van leiers om hul rol as die bewaarders van menslike groei herontdek en verbind tot die bevordering van menslike uitkomste binne hul invloedsfere.

Alhoewel dit ʼn uitdaging is, kan menslike volhoubaarheid nie langer geïgnoreer word nie. Menslikheid moet sentraal staan in hierdie nuwe ekonomiese era as ons wil oorleef en gedy.

Solidariteit bemagtig sy lede om te weet dat hul regte in die werkplek beskerm word. ʼn Gesonde werkomgewing lei tot hoër menslike volhoubaarheid en is op die lang termyn die beste strategie wat ʼn werkgewer kan implementeer om sy werknemers, menslike kapitaal en hul kennis, te behou. #RaakTuis, registreer ʼn gratis profiel en raak deel van jou grootste aanlyn werksgemeenskap.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel