loading
avatar
Artikels
5 dae gelede
die-pad-na-n-rasvrye-suid-afrika-teen-2030

Foto Krediet: Solidariteit

Die Pad Na ʼN Rasvrye Suid-Afrika Teen 2030

Deur Kyla-Ann du Toit

Dit is tyd vir ʼn rasvrye Suid-Afrika!

Suid-Afrika se toekoms behoort nie deur ras bepaal te word nie. Dit behoort gebou te word op geleenthede, ekonomiese groei en ʼn stelsel waarin mense volgens hul vermoë, harde werk en werklike behoefte beoordeel word.

Tog speel ras steeds ʼn bepalende rol in baie van Suid-Afrika se wetgewing en beleid. Solidariteit glo dit is tyd om ʼn nuwe koers in te slaan en het daarom ʼn padkaart ontwikkel vir ʼn rasvrye Suid-Afrika teen 2030.

Die doel is nie om ongelykhede te ontken of mense se uitdagings te ignoreer nie. Inteendeel, Solidariteit stel voor dat ondersteuning eerder op werklike behoefte as op ras gegrond moet wees, sodat hulp die mense bereik wat dit die nodigste het, terwyl ekonomiese groei en werkskepping terselfdertyd bevorder word.

Solidariteit se verslag oor ʼn rasvrye Suid-Afrika teen 2030 toon juis aan dat rasgebaseerde beleid nie daarin geslaag het om armoede, werkloosheid en ongelykheid doeltreffend op te los nie. In plaas daarvan hou dit  Suid-Afrika vasgevang in verdeeldheid, swak ekonomiese groei en ʼn stelsel waarin gewone Suid-Afrikaners steeds te min geleenthede kry.

Suid-Afrika kan nie werklik vorentoe beweeg terwyl ras steeds die maatstaf vir beleid en geleenthede is nie. Dit is tyd om rasgebaseerde wetgewing, soos breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging (BBSEB) en streng indiensnemingsbillikheidsmaatreëls, uit te faseer en teen 2030 ʼn rasvrye, behoeftesgebaseerde stelsel te vestig wat ekonomiese groei, werkskepping en geleenthede vir almal bevorder.

Hier is Solidariteit se vyf stappe na ʼn rasvrye Suid-Afrika:

  1. 1. Stel ʼn einddatum vir rasgebaseerde wetgewing.
  2. 2. Maak gelykwaardige ekwiteitsbydraes (eerder as SEB) die norm.
  3. 3. Gebruik werknemersaandeleskemas (ESOP’s).
  4. 4. Implementeer die Solidariteit-IAO-skikking.
  5. 5. Verbreed die definisie van “aangewese groepe”.

Hierdie voorstelle vorm deel van ʼn breër visie waarin beleid daarop gemik is om meer geleenthede vir almal te skep, eerder as om mense volgens ras te klassifiseer. Suid-Afrika het ʼn stelsel nodig wat belegging, entrepreneurskap, werkskepping en ekonomiese groei aanmoedig, terwyl meriete en werklike behoefte die grondslag van besluitneming vorm.

Solidariteit se veldtog is ook ʼn uitnodiging aan Suid-Afrikaners om deel te word van die gesprek oor hoe die land se toekoms behoort te lyk. Deur die padkaart te ondersteun, help deelnemers om die beginsel van ʼn Suid-Afrika sonder rasgebaseerde wetgewing onder die aandag van besluitnemers te bring.

Klik hier en stap saam met Solidariteit die pad na ʼn rasvrye Suid-Afrika teen 2030.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel