
Foto Krediet: Pretoria Sakekamer webtuiste
Gekopieër
Die Pretoria-sakekamer: Bou saam aan ’n wêreldklas Pretoria
Deur Leré Nel
In onstuimige tye, waar die stadsbestuur sloer en die infrastruktuur vinnig agteruitgaan, kies sakeleiers om op te staan en self verantwoordelikheid te neem. Een van hulle is Fergus Ferguson, voorsitter van die Pretoria-sakekamer. Sy betrokkenheid skep nie net hoop vir Pretoria se toekoms nie, maar inspireer ook ander sakeleiers en besigheidseienaars om hulle deel te doen om Pretoria weer op te bou. Solidariteit se Finansiesnetwerk het met Fergus gaan gesels om meer oor dié sakekamer uit te vind.
Die Pretoria-sakekamer se doel
Die Pretoria-sakekamer is in Maart 2023 gestig toe Fergus besef het dat sake-eienaars in Pretoria nie meer op politici kan staatmaak om sakebelange te beskerm nie. “Ons as sake-eienaars van die stad moet eienaarskap neem van die probleme,” sê hy. Die idee is eenvoudig: as jy nie iets sê of doen nie, word jou stilbly as toestemming gesien. Daarom het hy en sy span vrywilligers besluit om op te tree, nie vir eie gewin nie, maar vir die gemeenskap.
’n Wêreldklas visie teen 2050
Die sakekamer se visie is om Pretoria teen 2050 as ’n wêreldklas-sakesentrum te vestig. Om dit te bereik, moet die sakegemeenskap saamwerk om infrastruktuur te verbeter, korrupsie te beveg en goeie bestuur te verseker. “Ons wil die stad verander — vir almal wat hier bly,” verduidelik Fergus.
’n Belangrike beginsel is dat sakeondernemings self ook verantwoordbaar gehou moet word. “In elke transaksie waar daar bedrog plaasvind, is daar ʼn amptenaar, sowel as ʼn besigheid betrokke,” sê hy. Daarom is die Pretoria-sakekamer vasberade om verantwoordbaarheid en etiese sakepraktyke te bevorder.
Waarom sake-eienaars moet inskakel
Finansiële professionele mense en sake-eienaars is dikwels besluitnemers met insig in die finansiële bedrywighede van ʼn besigheid. Die gewone werk wat hulle elke dag doen, help bou aan wêreldklas besighede. En wêreldklas-besighede bou wêreldklas-stede. Deur by die Pretoria-sakekamer aan te sluit, kan lede deel word van ’n groter beweging wat fokus op praktiese oplossings en samewerking met sleutelrolspelers, soos byvoorbeeld die Tshwane Economic Development Agency.
“Ons wil hê sake-eienaars moet die stad se ekonomiese trajekte verstaan en daardeur slim finansiële besluite kan neem,” sê Fergus. “Dit is hoe jy nie net jou eie besigheid versterk nie, maar ook jou gemeenskap dien.”
Resultate en projekte
Die sakekamer werk reeds aktief daaraan om ʼn verskil te maak. Fergus vertel van ’n onlangse projek naby Rosslyn waar sake-eienaars, nadat die munisipaliteit versuim het om ’n rioolblokkasie op te los, saamgewerk het om die probleem reg te stel. Hulle het selfs die burgemeester laat besoek aflê om die omvang van die probleem self te aanskou — ’n aksie wat daartoe gelei het dat die rioolstelsel weer funksioneer.
Sulke inisiatiewe wys die krag van gemeenskapsgedrewe sakeleierskap.
Sluit aan en maak ’n verskil
Met reeds meer as 200 lede en groeiende belangstelling, bied die Pretoria-sakekamer ’n netwerk, ’n platform en ’n stem vir elke sake-eienaar wat nie langer wil stilbly nie. “Die sakekamer is ’n dinkgroep, ’n drukgroep en ’n aksiegroep met die oogmerk om weg te breek van politieke agendas en die stad self reg te ruk,” sê Fergus.
As jy as sake-eienaar en lid van die Solidariteit Finansiesnetwerk ook glo dat Pretoria ’n beter toekoms verdien, is dit jou kans om betrokke te raak. Gaan volg die Pretoria Sakekamer op Facebook, kontak die Pretoria-sakekamer by 063 952 1341 of stuur ʼn e-pos na admin@pretoriasake.co.za en word deel van die span wat Pretoria herbou.
Hou die Solidariteit Finansiesnetwerk se platform dop vir meer interessante inligting rondom jou beroepsveld.