loading
Artikels
1 jaar gelede
die-publiek-het-gepraat-en-solidariteit-het-geluister-hier-is-die-top-10-kleuterskoolonderwysers-vir-2023

Foto Krediet: Solidariteit

Die publiek het gepraat en Solidariteit het geluister – hier is die top-10-kleuterskoolonderwysers vir 2023

Deur Maryna Eksteen

Die nominasies vir uitsonderlike onderwysers het ingestroom en die top-10-finaliste vir die kleuterskoolafdeling se Onderwyser van die Jaar-kompetisie is aangewys. Dié groep dinamiese onderwysers deel so ʼn bietjie van hulself met die publiek. Hier is wat jy moet weet van jou top-10-kleuterskoolonderwysers:

Onica Roux (Laerskool Bakenkop)

“As ʼn onderwyseres met ʼn passie vir die voorskoolse kind, daag ek graag myself en ander uit om buite die boks te dink. Ek glo dat kinders leer deur te speel en ek moedig graag kinders en ouers aan om kinders daagliks toe te laat om met hul lyfies hul omgewing te ontdek en ervaar.” Onica is al meer as 20 jaar betrokke by voorskoolse onderwys en glo in lewenslange leer. Volgens haar kweek sy graag ʼn liefde vir leer en lees by die kinders wat aan haar toevertrou word.

“Ek het my B.Prim.Ed. graad deur Unisa behaal. Verder het ek my honneursgraad in Omgewingsonderwys voltooi, want ek glo dat kinders ʼn groot impak sal maak in die behoud van die omgewing. Ek is ook lief daarvoor om my leerders die wonder van die natuur te laat beleef, deur hulle bloot te stel aan die interessanthede in ons alledaagse lewe, tuine en in die onmiddellike omgewing waarin ons ons bevind.” Sy is tans besig met haar meestersgraad in Onderrig & Leer, wat Bestuur, Spesiale Onderwys en Onderrig & Leer as hoofvakke insluit. “Ek het spesifiek hierdie vakke gekies, sodat ek ʼn mentor kan wees vir ander studente en onderwyseresse, om ʼn ambassadeur te wees vir leerders wat uitdagings ervaar (hetsy emosioneel of skolasties) en laastens om die proses van onderrig en leer ten volle te kan verstaan en nuwe navorsing toe te pas, sodat ek die beste onderrig aan my leerders kan bied.”

Carisma Swanepoel (Oase Kidz Kleuterskool)

Carisma beskryf haarself as ʼn 23 jarige dame met Christelike waardes. Volgens Charisma is onderwys haar roeping en daarom is dit vir haar ʼn groot voorreg om deel te wees van elke kind se groeiproses. “Ek onderrig die 3 tot 4 jariges by ʼn kleuterskool in Klerksdorp en leef elke dag my passie ten volle uit.” Sy beskou haarself as ʼn doelgerigte onderwyseres wat gemotiveerd is en dien as ʼn steunpilaar vir haar kollegas, familie en vriende.  “Intelligence is what you use when you don’t know what to do.” – Jean Piaget

Veruchka Liebenberg (Naudeville Pre-Primêre Skool)

Veruchka beskou haarself as ʼn jong energieke juffrou wat ʼn liefde het vir jong kinders. “Ek sien altyd kans om met ʼn klein maatjie te werk en weer kind te wees, want God het tog gesê ons moet soos kinders wees om Sy koninkryk binne te gaan.” Volgens haar is dit haar passie om kleuters op die maklikste, lekkerste en kleurvolste manier te leer dat hulle enige iets kan doen deur Hom wat ons krag gee! “Ons as onderwysers is in staat om die wêreld te verander deur hierdie klein mensies op te lei om vol selfvertroue deur die lewe te gaan!”

Robé Grech-Wessels (Laerskool Hennopspark)

Robé het onderwys gekies omdat sy glo dat sy geroep is tot hierdie professie en volgens haar het die Here haar toegerus met ʼn gawe om met kinders te kan werk. “Ek is lief vir elke kind wat op my pad gestuur word en streef daarna om eerste na hul harte te kyk, want ʼn gelukkige kind in die klas sal hoë hoogtes bereik op akademiese vlak. Daar is vir my niks so bevredigend as om te sien hoe kinders op ʼn kognitiewe, emosionele en geestelike vlak groei nie.” Volgens juffrou Robé was sy in 2017 in die bevoorregte posisie om as Graad 1-assistent by Laerskool Hennopspark aangestel te word en in 2019 het groener weivelde haar na China gelok waar sy vir hoërskoolleerders Engels onderrig het. “Covid-19 het my huis toe gejaag waarna ek weer met ope arms by Laerskool Hennopspark verwelkom is in ʼn aflosposisie” Die borrelende jong onderwyseres is van mening dat sy haar ware passie vir onderwys by graad-R-leerders gevind het. “Dit is ook te danke aan ʼn ondersteunende hoof, bestuur en kollegas.”

Brenda Venter (Oase Kidz Kleuterskool)

Brenda het in 2001 haar pre-primêre graad aan die NWU verwerf waarna sy in 2019 begin skoolhou het en saam met Oase Gemeente ʼn kleuterskool begin het. “Ons het met drie maatjies begin en het wonderbaarlik tot 85 maatjies in 2023 gegroei, waar ons elke dag skoolmammas vir hierdie maatjies vanaf 4 maande- tot 6 jaar-oud is.”

Stephanie Botha (Thrive Preschool Academy, Doringkloof)

Stephanie beskou haarself as ʼn passievolle onderwyser met ʼn klas vol kinders wat sy haar eie noem. “Elke gesiggie is vir my spesiaal in sy of haar eie manier.” Sy is tans besig met haar graad in grondslagfase by Aros en het ʼn Graad R-sertifikaat deur Unisa verwerf. “Ek het die voorreg om te kan sê dat ek alreeds 11 jaar lank ʼn kleuterskoolonderwyseres is en ek geniet elke oomblik.” Buiten haar ongelooflike liefde vir kinders deel sy ook hierdie liefde met haar man. “Ek is in April vanjaar getroud met die beste man waarvoor enige vrou kon vra en is opgewonde oor wat die lewe vir ons inhou.”

Courtney van Wyk (Highland Kids)

Courtney se liefde vir onderwys het op die ouderdom van 24 jaar begin en vir die afgelope 10 jaar bied hierdie onderwyseres ʼn veilige hawe vir haar leerders in haar klaskamer. “My klaskamer moet ʼn veilige hawe wees vir elke leerder; leerders met struikelblokke asook bogemiddelde leerders.” Sy het in Pretoria wortel geskiet en is ʼn gekwalifiseerde ECD-onderwyser. Haar man is werksaam by die Suid-Afrikaanse lugmag en hulle is die ouers van drie pragtige seuns. “Hulle is my absolute trots. My familie is my alles.”

Sy is mal daaroor om buite te wees, sy gee baie om vir kinders en dieresorg is een van haar grootste sterkpunte. Sy is mal oor enige iets sjokolade en ʼn lekker koppie koffie in die oggend is vir haar ʼn móét veral saam met haar man. “Wanneer ʼn mamma en/of pappa hulle kleinding by my los moet hulle gerus voel en weet dat hulle lyfie net so kosbaar en spesiaal vir my is soos vir hulle. Elke leerder in my klas is soos my eie. My doelwit is om te verseker dat elke lyfie in my klaskamer optimaal onderrig word sodat hulle kan floreer. Onderrig is meer as net ʼn werk – die drukkies, lag en “lief vir jou juffrou” hou ʼn mens aan die gang.” Sy koester die grappige dinge wat die kleuters kwytraak en die snaakse dinge wat hulle doen, die vrae wat hulle vra en die stories wat hulle skryf.

Gwendolyne Porter (KoningsKinders Baba en Kleuterskool)

ʼn Onderwyseres wat die glas oorvol sien is niemand anders as Gwendolyne Porter nie. Sy is  37 jaar oud en soos sy het ʼn gebrek in haar been weens ʼn ongeluk met ʼn petroltenkwa. “Ek glo dit gee my die huppel in my stap. Ek hou daarvan om myself te wees en sal nie vir enige iemand verander nie. Ek glo daarin om my skoolkinders dieselfde as my eie kinders op te voed, maak nie saak wat nie.” Volgens haar is elke persoon uniek deur God geskape met hul eie doel hier op aarde.

“Ek geniet elke oomblik van skoolgee en glo dat dit my roeping is waarom God my die dag onder die petroltenkwa gered het. Ek geniet dit om saam met my kinders op te “dress” vir ons tema van die week en dis hoe ons leer – deur speel.” Volgens haar lyk dit soms asof ʼn warrelwind haar klaskamer getref het wat haar van oor tot oor laat glimlag omdat sy weet haar leerders het iets geleer. “Ek geniet die drukkies elke dag; dis my petrol en elke kind in my skool het hulle eie plekkie in my hart. Al is hulle nie in my klas nie, weet hulle my deur staan altyd oop; so ook vir die ouers. Hulle weet waar om my te vind as hulle hulp nodig het – skoolverwant of nie. Dis my passie! Al het ek nie baie nie is ek dankbaar dat my kinders nie honger gaan slaap nie.” Sy beskou dit as haar redding om betaal te word om elke dag te speel.

Shiska van der Berg (Oase Kidz Kleuterskool)

Shiska is ʼn mamma van twee seuntjies en sy glo dat liefde in haar uitborrel. Volgens haar deel sy graag haar liefde met almal. “Ek geniet dit om met kinders te werk, en ek help en leer graag my medewerkers waar en hoe ek kan. My doel is om gehoorsaam te wees aan God om elke kind wat op my pad kom te help met hul ontwikkeling. My leuse vir elke jaar: Doen jou bes, God doen die res!”

Love is patient, love is kind.” – 1 Corinthians 13  “Teaching kids to count is fine, but teaching them what counts is best.” – Bob Talbert

Natasha Alexander (Little Village Christian Nursery School)

Natasha is seker daarvan dat sy haar roeping ten volle uitleef en sê dat sy elke dag met ʼn lied in haar hart opstaan. “Daar is niks anders wat ek sou wou doen in die wêreld as om ʼn juffrou te wees nie. Dis ʼn passie en ʼn roeping waarvoor ek die Here elke dag loof en prys dat Hy my die voorreg gee om

Stem vir jou gunsteling-#WonderWyser van die jaar deur op Solidariteit se Facebook- of Instagram-blad die onderwyser se foto te “like”. Klik hier vir meer inligting oor Solidariteit se Onderwysernetwerk en indien jy by dié beroepsnetwerk wil aansluit.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel