loading
Blogs
9 maande gelede
die-pyle-in-ons-koker

Foto Krediet: okay Deer

Die pyle in ons koker

Deur dr. Dirk Hermann

Ons is pas klaar met ons besoeke aan die Verenigde Nasies in Geneve. Ons is tevrede met hoe dit verloop het.
Ons het ‘n verslag ingedien teen die regering se rasbeleide, ‘n aanbieding gedoen en met die Internasionale Arbeidsorganisasie gepraat oor die ooreenkoms tussen Solidariteit en die regering.
Die VN-proses is goed, maar ons heil is nie net by die VN nie. Dis wel een van die vele pyle in ons koker.
Ek wil vier pyle bespreek.
Internasionale druk. Suid-Afrika het internasionale konvensies geratifiseer. Dit is dus deel van ons reg. Internasionale forums is plekke waar ons stem gehoor word. Die onlangse verhoorproses by die Internasionale Arbeidsorganisasie het tot ‘n ooreenkoms tussen Solidariteit en die regering gelei. Dit was ‘n groot deurbraak wat tot ‘n bevel van die hof gelei het. Dit het internasionaal begin, maar gee nou vir ons plaaslike slaankrag. Die IAO het gevra vir verdere voorleggings. Dit is stadige, maar nodige prosesse.
Plaaslike veg. Internasionale prosesse is egter nie op hulle eie genoeg nie. Die VN gaan nie ons gevegte vir ons veg nie. Solidariteit veg op elke vlak teen die regering se rasmalheid. Ons veg deurlopend in howe en het al verskeie sake in die grondwethof gewen. Ons het die aanvaarding van die nuwe mal rasregulasies, saam met vennote, teruggedruk. Ons is nou in ‘n geveg met die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie oor hul rasgedrewe verslag by die VN.
Helpmekaar. Veg is belangrik, maar daar is nog meer krag in helpmekaar. Solidariteit het onlangs ‘n reuse ‘werkmark’ op www.solidariteit.co.za bekend gemaak. Dis ‘n mark sonder enige rasvereistes en net meriete. Bykans 2000 poste is al deur meer as 700 werkgewers daar gelaai. Ons help mekaar.
Ons sal self. Ons sal internasionale druk plaas en die regering veg, maar ons is nie afhanklik van enige iemand nie. Ons sal self beteken ons neem self verantwoordelikheid vir die toekoms. Daarom help ons bou aan Sol-Tech, Akademia, Bo-Karoo Opleiding, die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut en eersdaags ‘n modelskool. Ons help met voortgesette opleiding, beroepsnetwerke, loopbaanvoorligting, werkbeskerming en meer. Alles om seker te maak ons mense kan goed werk.
Ons skiet verskeie pyle. Alles saam is kragtig.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel