Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Solidariteit se Skoliere-aanbod: Jou kind se toekoms begin by selfkennis
Deur Mari Ferreira, netwerkorganiseerder van Solidariteit se Skoliere-aanbod
Elke ouer droom dat hul kind eendag gelukkig, vervuld en suksesvol sal wees. Daarom belê ouers soveel tyd, liefde en geld in hul kinders se opvoeding. Een van die waardevolste beleggings wat ʼn ouer egter kan maak, is om hul kind te help om ingeligte loopbaanbesluite te neem.
Vandag lyk die wêreld van werk heeltemal anders as 20 jaar gelede. Tegnologie ontwikkel vinnig, kunsmatige intelligensie verander beroepe en nuwe loopbaangeleenthede ontstaan voortdurend. Gevolglik gaan loopbaanontwikkeling nie meer net daaroor om ʼn beroep te kies nie, maar om jong mense toe te rus om hulself te ken en met selfvertroue besluite oor die toekoms te neem.
Ek het onlangs met Chanri Meuleman, ʼn loopbaanvoorligter verbonde aan Solidariteit se Skoliere-aanbod en psigometris wat spesialiseer in menslike gedrag en loopbaanontwikkeling, gesels. Volgens haar begin doeltreffende loopbaanbeplanning altyd by selfkennis. Wanneer ʼn jong mens hul persoonlikheid, belangstellings, waardes en natuurlike sterkpunte verstaan, raak dit baie makliker om ʼn studierigting of beroep te kies wat werklik by hulle pas.
Te dikwels sien ons dat leerders hul loopbaanbesluite baseer op wat hul vriende studeer, wat ʼn goeie salaris belowe of wat ánder dink die beste vir hulle sal wees. Hoewel hierdie faktore ʼn rol kan speel, behoort dit nooit die enigste rede vir ʼn loopbaanbesluit te wees nie. Belangstelling alleen is ook nie genoeg nie. Aanleg, persoonlikheid en waardes speel net so ʼn belangrike rol wanneer jong mense oor hul toekoms besluit.
Ouers speel óók ʼn ongelooflik belangrike rol in hierdie proses. Die grootste geskenk wat ʼn ouer vir ʼn kind kan gee, is nie al die antwoorde nie, maar die ruimte om vrae te vra, nuwe moontlikhede te ontdek en saam die toekoms te verken. Wanneer kinders voel hulle word gehoor en ondersteun, ontwikkel hulle die selfvertroue om verantwoordelike besluite te neem.
ʼn Professionele loopbaanassessering is dus veel meer as net ʼn paar vraelyste. Dit help leerders om hulself beter te verstaan deur na persoonlikheid, aanleg, belangstellings en waardes te kyk. Die doel is nie om vir ʼn leerder te sê watter beroep hulle móét kies nie, maar om rigting, duidelikheid en selfvertroue te gee.
Solidariteit se Skoliere-aanbod glo dat geen jong mens alleen deur hierdie belangrike fase hoef te gaan nie. Daarom bied ons ʼn verskeidenheid gratis hulpmiddels en ondersteuning aan om leerders en hul ouers te begelei. Van ons gratis Belangstellingsbepaler, wat leerders help om moontlike loopbaanrigtings te ontdek, tot begeleiding met vakkeuses, ondersteuning deur hul hoërskoolpad, en praktiese hulpbronne oor studie- en loopbaankeuses – ons stap die hele pad saam met jou en jou kind. Ons doel is om jong mense te help om hulself beter te leer ken, ingeligte besluite te neem en met groter sekerheid en selfvertroue na hul toekoms uit te sien.
Maar ons fokus nie net op loopbaanontwikkeling nie. Deur ons #LeerMyLeierskap-reeks help ons jong mense om die karakter, selfvertroue en leierskapsvaardighede te ontwikkel wat hulle nie net op skool nie, maar ook in hul studies, loopbane en die lewe sal nodig hê. Ons glo dat sterk leiers nie oornag gevorm word nie; hulle word elke dag ontwikkel deur doelbewuste pogings en die regte begeleiding.
As organiseerder van Solidariteit se Skoliere-aanbod is dit vir my ʼn voorreg om elke dag hierdie pad saam met leerders en hul ouers te stap. Daar is min dinge so besonders soos om te sien hoe ʼn jong mens van onsekerheid na selfvertroue groei wanneer hulle die regte ondersteuning ontvang. Dit is juis waarom ek so passievol is daaroor om jong mense te help om te ontdek wie hulle is, watter unieke potensiaal hulle het en hoe om hul toekoms met hoop en selfvertroue te beplan.
Elke kind se pad is uniek, en daar is nie net één regte roete na sukses nie. Met die regte begeleiding, ondersteuning en blootstelling kan elke jong mens die selfvertroue ontwikkel om hul eie pad met doelgerigtheid te stap.
As jy onseker is oor jou kind se vakkeuses, studierigting of loopbaantoekoms, moedig ek jou aan om Solidariteit se Skoliere-aanbod te kontak. Ons staan gereed om jou kind met gratis hulpmiddels, loopbaanvoorligting, leierskapsontwikkeling en praktiese leiding te ondersteun.
As ons vandag in ons jong mense belê, bou ons nie net aan hul toekoms nie – ons bou aan die toekoms van ons gemeenskappe en ons land.