loading
avatar
Artikels
3 uur gelede
sosialemediawebinaar-maak-jou-kind-sosialemedia-slim-saam-met-solidariteit

Fotokrediet: Solidariteit

#Sosialemediawebinaar: Maak jou kind sosialemedia-slim saam met Solidariteit

Deur Kyla-Ann du Toit

Sosiale media vorm ʼn groot deel van hoe kinders kommunikeer, hulleself uitdruk, verhoudings bou en die wêreld rondom hulle ervaar. Hoewel dié digitale wêreld talle geleenthede vir verbinding en selfontdekking bied, kan dit jong mense ook blootstel aan groepsdruk, uitsluiting, ongesonde aanlyn gedrag en kuberboelie.

Daarom bied Solidariteit op 22 September 2026 om 19:00 ʼn gratis #Sosialemediawebinaar aan wat daarop gemik is om ouers te bemagtig met inligting oor die uitdagings en geleenthede van jong mense se digitale leefwêreld.

Wat gaan jy tydens hierdie webinaar leer?

Sosialemediageletterdheid gaan oor veel meer as om bloot te weet hoe ʼn app of platform werk. Ouers moet ook verstaan wat kinders aanlyn ervaar, watter risiko’s daar bestaan en hoe om betekenisvolle gesprekke daaroor te voer.

Tydens die webinaar sal dr. Serahni Symington onder meer gesels oor:

  • • wat sosialemediageletterdheid werklik beteken;
  • • hoe kuberboelie van tradisionele boeliegedrag verskil;
  • • watter invloed aanlyn gedrag op ’n kind se emosionele en sosiale welstand kan hê;
  • • hoe om tekens raak te sien dat jou kind moontlik aanlyn sukkel;
  • • hoe om gesonde grense rondom sosiale media te ontwikkel; en
  • • hoe om belangrike gesprekke oor groepsdruk, privaatheid, aanlyn gedrag en digitale verantwoordelikheid te voer.

Wie is die spreker?

Dr. Symington is ʼn geregistreerde berader met ʼn besondere belangstelling daarin om individue en gesinne op ʼn deernisvolle en holistiese manier te ondersteun. Sy het haar studie in Sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch voltooi, waarna sy haar honneurs- en meestersgraad behaal het. Sy is daarna vir die PhD-program in Sielkunde aan Noordwes-Universiteit aanvaar.

Haar ervaring met gesinsberading en ouerskap maak haar die ideale persoon om ouers prakties deur hierdie gesprek te begelei.

Hoekom is hierdie webinaar belangrik?

Die doel van die sessie is nie om kinders van tegnologie weg te hou nie, maar om hulle toe te rus om kritiese, verantwoordelike en veerkragtige digitale gebruikers te word.

Aanlyn uitdagings is nie altyd vir ʼn ouer sigbaar nie. ʼn Kind wat by die huis rustig op hul selfoon sit, kan terselfdertyd met uitsluiting, groepsdruk, vergelyking of boeliegedrag gekonfronteer word. Daarom is dit belangrik dat ouers nie net weet wát hul kinders aanlyn doen nie, maar ook ʼn verhouding skep waarin kinders gemaklik genoeg voel om te praat wanneer iets verkeerd voel.

Met praktiese riglyne oor gesonde grense, aanlyn gedrag en die identifisering van moontlike probleme, wil dié webinaar ouers beter toerus om hul kinders te ondersteun sonder om bloot tegnologie te verbied.

Help jou kind om sosialemedia-slim te wees

Moenie hierdie sessie misloop nie!

  • • Dit is gratis.
  • • Dit is prakties en spesifiek op die digitale uitdagings van kinders en tieners gerig.
  • • Dit is geskik vir ouers, voogde en persone wat met jong mense werk.
  • • Dit is aanlyn, sodat jy maklik van enige plek af kan inskakel.

Datum: 22 September 2026

Tyd: 19:00

Plek: Solidariteit-aanlyn

Jy het slegs ʼn gratis Solidariteit-profiel nodig om die webinaarsessie te kyk. Klik hier om sommer vandag nog jou profiel te skep indien jy nog nie het nie.

Met die regte gesprekke, gesonde grense en ʼn breër begrip van die digitale wêreld kan jy jou kind help om nie net veiliger nie, maar ook meer verantwoordelik en selfstandig aanlyn op te tree.

Klik hier om vandag nog jou plek vir Solidariteit se gratis #Sosialemediawebinaar te bespreek en bemagtig jouself om jou kind met groter begrip en selfvertroue deur die digitale wêreld te begelei.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel