Fotokrediet: Okay Deer
Gekopieër
Hoe kan jou kind ontdek waarin hulle regtig goed is?
Deur Liza Joubert
Loopbaankeuses begin by selfkennis – nie by druk of verwagtinge nie.
Vir baie graad 11-leerders is dit hierdie tyd van die jaar wanneer die werklikheid begin insink: studieaansoeke is op dreef en die vraag “Wat wil jy eendag word?” word al hoe moeiliker om te vermy. Vir ouers kan dié tyd ook onsekerheid meebring, want hulle wil hul kinders help om die beste moontlike besluite oor hul toekoms te neem.
Die beste loopbaankeuses begin nie by die vraag watter beroep die meeste geld betaal of die meeste status inhou nie, maar by ʼn baie eenvoudiger vraag: Wie is jy?
Loopbaanvoorligting help jong mense om ingeligte besluite te neem deur hul belangstellings, persoonlikheid, waardes en aanlegte te ondersoek. Die doel is nie om vir iemand ʼn beroep te kies nie, maar om hulle te help verstaan watter rigting die beste by hul unieke profiel pas.
Belangstelling en aanleg gaan hand aan hand
ʼn Algemene wanopvatting is dat ʼn mens bloot die beroep moet kies wat die interessantste klink. Hoewel belangstelling ʼn belangrike rol speel, is dit slegs een deel van die prentjie.
Belangstelling verwys na die aktiwiteite wat ʼn persoon geniet en waarin hulle graag tyd spandeer. Aanleg verwys weer na natuurlike vermoëns en kognitiewe vaardighede. Wanneer hierdie twee faktore met mekaar ooreenstem, is die kans groter dat iemand nie net suksesvol sal wees nie, maar ook langtermyn-werksbevrediging sal ervaar.
Volgens Mari Ferreira, netwerkorganiseerder van Solidariteit se Skoliere-aanbod, begin doeltreffende loopbaanbeplanning by selfkennis.
“Wanneer jong mense hul persoonlikheid, belangstellings, waardes en natuurlike sterkpunte verstaan, is dit makliker om ’n studierigting of beroep te kies wat werklik by hulle pas.”
Ouers se verwagtinge kan soms in die pad staan
Baie ouers probeer hul kinders beskerm deur beroepe aan te beveel wat ʼn goeie inkomste of werksekerheid bied. Hoewel dit uit ʼn plek van liefde kom, waarsku loopbaanvoorligters dat dit problematies kan wees wanneer ʼn kind se eie sterkpunte en persoonlikheid nie in ag geneem word nie.
Volgens die Universiteit van Pretoria fokus professionele loopbaanvoorligting juis daarop om ouers en kinders saam deur die besluitnemingsproses te begelei. Die uitslae van psigometriese assesserings behoort as riglyne gebruik te word en nie as die finale besluit oor ʼn kind se toekoms nie. Gesprekke, navorsing en selfs skaduwerkgeleenthede bly belangrike dele van dié proses.
Gebruik die regte hulpmiddels
Vandag hoef leerders nie meer op raaiwerk staat te maak wanneer hulle oor hul toekoms besluit nie. Solidariteit se Belangstellingsbepaler is ʼn aanlyn hulpmiddel wat deur gekwalifiseerde bedryfsielkundiges ontwikkel is. Die ongeveer 20-minute assessering help leerders om hul belangstellings te identifiseer en gee ʼn verslag met moontlike beroepsrigtings, studierigtings en opleidingsinstellings wat by hul profiel kan pas. Dit dien as ʼn vertrekpunt vir verdere loopbaanbeplanning.
’n Vroeë begin kan later onsekerheid voorkom
Vir leerders wat meer sekerheid wil hê, bied Solidariteit ook toegang tot ʼn netwerk van HPCSA-geregistreerde loopbaanvoorligters en psigometriste wat persoonlikheids- en aanlegtoetse afneem en die resultate tydens ʼn konsultasie bespreek.
Vir graad 11-leerders is dit juis nóú die ideale tyd om hul opsies te ondersoek voordat studieaansoeke en vakkeuses finaal vasgelê word. Deur vroeg reeds hul belangstellings en aanlegte te verken, kan leerders met groter selfvertroue besluite neem en onnodige veranderinge aan studierigtings later vermy.
ʼn Loopbaankeuse hoef nie ʼn sprong in die donker te wees nie. Met die regte leiding, betroubare hulpmiddels en eerlike selfondersoek kan jong mense ʼn studierigting kies wat nie net by hul drome pas nie, maar ook by hul unieke talente en vermoëns.
Registreer vandag nog jou kind se gratis profiel op Solidariteit-aanlyn en kry toegang tot waardevolle hulpmiddels, loopbaanvoorligting en praktiese ondersteuning vir jou kind. Neem vandag nog die eerste stap na ʼn toekoms wat by hulle talente en drome pas!