Fotokrediet: Solidariteit
Gekopieër
Die ramp van media-afleggings raak ons almal | Media24
Deur Bianca Smit
Die afleggings by Media24 en eNCA plaas my in ʼn ongemak wat wyer strek as net ʼn opregte kommer oor mense wat hul werk kan verloor.
Die ongemak gaan ook oor dit wat die beroep self prysgee.
Wanneer iemand met 10, 15 of 20 jaar se ervaring hul werk verloor, verloor ons nie net ʼn pos nie, maar ook die kennis van iemand wat jare lank stories vertel het wat mense se lewens op verskeie maniere verryk het.
Dit is nie ʼn vaardigheid wat oornag bemeester word nie.
Ons het hier te doen met iemand wat mense ken, wat betroubare bronne versamel en behou het, wat konteks verstaan en die toneel kan skets, en wat weet watter vrae om aan wie te vra.
Joernaliste of verslaggewers het uit die aard van hul werk ʼn aanvoeling ontwikkel vir wanneer iets nie heeltemal reg klink of is nie.
Daardie ervaring kan jy nie sommer net vervang nie.
As ons heeltemal eerlik met onsself is, dan sal ons natuurlik vir mekaar sê dat hoëgehalte-joernalistiek onder ernstige, ernstige druk verkeer.
Ek dink daar is meer aan die storie as net “mense lees nie meer koerante nie” of “niemand wil meer vir nuus betaal nie”.
Natuurlik het die manier waarop mense nuus inwin verander. Sosiale media het alles verander. Mense wil vandag onmiddellik weet wat aangaan, terwyl almal ʼn platform het. Ons weet van ʼn brand by ʼn huis, danksy inligting op sosiale media en WhatsApp-groepe, vóór die plaaslike nuus daaroor rapporteer.
Maar iets veel groters het die nuuslandskap verander, en dit is die verlies aan vertroue!
Dit is ʼn gesprek wat ons nie moet vermy as ons oplossings vir die bedryf soek nie.
Die media is onder druk om hul eie geloofwaardigheid te red. Dit is ʼn gesprek wat gevoer moet word en kwessies soos onafhanklikheid en feitelikheid moet insluit, asook oor die redaksionele leiding wat moet verseker die regte vrae word aan die regte mense gevra, ongeag wie hulle is.
In die lig hiervan glo ek dat die politieke omgewing waarin die media funksioneer ʼn invloed op sommige nuushandelsmerke gehad het.
Die beïnvloeding van narratiewe het met verloop van tyd bygedra tot ʼn omgewing waar mense al hoe meer begin wonder het: Kan ek hierdie mediahuis steeds vertrou om ʼn storie onafhanklik en eerbaar te vertel?
Dit het boonop nie net ʼn betrokke publikasie geraak nie, maar ook die nuuslandskap in die geheel.
Sosiale media het die situasie beslis ontwrig, en tog moet ons vra waarom subskripsies gekanselleer is en nuusinligting op Facebook of Tiktok in soveel gevalle die voorkeurkeuse geword het.
Was meerderwaardigheid ʼn faktor en het die groot mediabesluitnemers genoeg waarde aan hul eie geloofwaardigheid geheg toe strategiese en redaksionele besluite geneem is?
En noudat die antwoord “nee” blyk te wees, wie betaal die prys?
Nie die mense wat die groot besluite neem en soms na politieke pype dans nie. Nee. Dit is die mense wat elke dag opdaag om die operasionele take getrou te verrig: die joernaliste, fotograwe, videograwe en -vervaardigers, grafiese en bladontwerpers, en bemarkers.
Dis op hul lessenaars wat die afleggingsbriewe lê.
Dit is die deel wat my die meeste pla. Almal praat maklik oor “die media” asof dit ʼn groot, gesiglose ding is.
Maar die media is ook mense!
Mense met huise, kinders, verantwoordelikhede en drome wat jare van hul lewe aan ʼn beroep gewy het.
Die werklikheid is dat wanneer hulle as storievertellers verdwyn, ons almal iets verloor.
Ons verloor die ervaring en kennis van mense wat gehelp het om die geskiedenis van hierdie land deur hul werk te dokumenteer en konteks aan ons wêreld kon gee.
Dalk verloor ons selfs toekomstige joernaliste wat nou kyk na wat in die beroep gebeur en hulself afvra: “Is dit ooit die moeite werd om in hierdie rigting te gaan studeer? Is daar ʼn toekoms?”
Ek dink ons moet anders begin dink oor ondersteuning aan hierdie beroepsveld. Die ondersteuning gaan nie net oor hoe ons hierdie afleggings kan hanteer nie. Dit gaan ook oor hoe die beroepsveld omvorm is en waarom dit gebeur het.
Dit gaan ook oor hoe en waar spesialiste in hierdie beroepsveld met waardigheid kan opstaan en dit kan laat herleef as die noodsaaklike onafhanklike verteenwoordiger van mense in ʼn demokrasie – soos dit hoort.
En dit is ook waar ʼn netwerk soos hierdie belangrik raak. Dit skep ʼn veilige tuiste vir mediaberoepslui om, los van ʼn redakteur of ʼn handelsmerk, te kan praat oor wat dit gaan verg om die beroep oplaas weer afleggingsbestand te maak.
Om vir die mense agter die beroep ʼn plek te gee waar hulle beskermd kan voel en so partydig as wat hulle wil te kan sê hoe hulle voel.
Vir vandag is dit nuttig vir iemand wat dalk hul werk kan verloor om te voel hulle staan nie alleen nie. Vir iemand anders kan dit ʼn geleentheid skep om ervarings te deel, jong mense te mentor of werksgeleenthede aan te stuur.
Ons het ʼn verantwoordelikheid teenoor mekaar om weer op te staan, want natuurlik kan ons nie elke aflegging keer of elke mediahuis red nie.
Ons kan mekaar wel optel en probeer bemagtig en saam die reputasie van die beroep probeer beskerm en sodoende ook Suid-Afrika dien.
Hoëgehalte- en eerbare joernalistiek móét ʼn plek in die Suid-Afrikaanse demokrasie behou. Maar sonder die nodige respek vir mense met jare se geslypte vaardighede, is dit ʼn onbegonne taak.
Bianca Smit is die koördineerder van Solidariteit se Kommunikasie- en Bemarkingsnetwerk. Lees hier meer.