Fotokrediet: Pexels
Gekopieër
Solidariteit deel van gesamentlike beroep op Premier om Tulbagh-inmaakfabriek oop te hou
Solidariteit, die Kongres van Suid-Afrikaanse Vakbonde (Cosatu), die Suider-Afrikaanse Klere- en Tekstielwerkersunie (Sactwu) en die Landbou-, Voedsel- en Verwante Demokratiese Werkersunie (Afadwu) het kragte saamgesnoer om ’n beroep op Premier Group Limited te doen om die voorgestelde sluiting van sy Fruit Products Western Cape (FPWC) inmaakfabriek in Tulbagh op te skort.
Sien die gesamentlike skrywe hier.
Die organisasies verteenwoordig die belange van die fabriek se 424 werknemers, ongeveer 200 tot 220 vrugteprodusente, plaaswerkers, kontrakteurs en die talle ondernemings en gemeenskappe wie se lewensbestaan direk of indirek van die fabriek afhanklik is.
Suid-Afrika, met ’n verwoestende werkloosheidskoers van 43,8% wat selfs hoër in landelike gebiede is, kan nie bekostig om ’n enkele werkgeleentheid te verloor nie. Die landelike gemeenskap van Tulbagh sal deur die sluiting van hierdie steunpilaar van die gemeenskap verpletter word en die dorp kan uiteindelik in ’n spookdorp ontaard.
Volgens Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, het in ’n gesamentlike ope brief aan die belanghebbendes – onder meer Premier se uitvoerende hoof, Kobus Gertenbach, asook groot aandeelhouers soos dr. Christo Wiese, Brait, Allan Gray en die Openbare Beleggingskorporasie (PIC) – ’n beroep gedoen dat die huidige afleggingskonsultasies oor die Tulbagh-inmaakfabriek vir 12 tot 24 maande opgeskort word.
“Dié tydperk moet gebruik word om saam met alle belanghebbendes ’n volhoubare oplossing vir die fabriek en sy werknemers te vind,” sê hy.
Du Plessis meen daar bestaan ook ernstige kommer by die belanghebbende partye dat die sluiting van die Tulbagh-fabriek ’n hele ekonomiese ekosisteem bedreig.
“Die fabriek ondersteun honderde produsente en duisende werkers, terwyl dit ook werk skep vir vervoeroperateurs, kontrakteurs, verskaffers, diensverskaffers, kleinhandelaars en ondernemings in Tulbagh, Saron, Gouda, Wolseley, Ceres, Hermon en omliggende gebiede.”
Du Plessis sê die belanghebbendes asook Solidariteit waarsku ’n sluiting van die fabriek sal ’n groot deel van die streek se produksievermoë en kundigheid permanent laat verlore gaan.
“Potensiële beleggers, produsente, georganiseerde arbeid, die regering, munisipaliteite en die betrokke gemeenskappe moet almal die geleentheid kry om by te dra tot ’n oplossing wat werk beskerm en hierdie strategies belangrike landbou- en vervaardigingsekosisteem in stand hou,” sê Du Plessis.
Dit was juis hierdie maatskaplike vennootskap, met die steun van die Suid-Afrikaanse regering en die Wes-Kaapse Provinsiale Regering, wat ’n paar jaar gelede suksesvol in Ashton ingegryp het om die Langeberg-inmaakfabriek van ’n soortgelyke ekonomiese ramp te voorkom. Dit kan en móét weer vir die gemeenskap van Tulbagh gedoen word.
Solidariteit saam met al die ander belanghebbendes bly verenig in hul oproep om die Tulbagh-fabriek oop te hou en die werkers, boere en gemeenskap te beskerm.