Fotokrediet: ChatGPT
Gekopieër
Solidariteit wil G4S en DKD om een tafel kry oor Mangaung-werknemers
Solidariteit wil die privaat sekuriteitsmaatskappy G4S en die Departement van Korrektiewe Dienste (DKD) so gou moontlik om een tafel kry om ʼn tussentydse oplossing te vind vir sowat 50 werknemers van die Mangaung Korrektiewe Sentrum wat sedert 1 Julie sonder hul gewone inkomste en sekerheid sit.
Volgens Theunis van Staden, koördineerder vir Solidariteit se openbare sektor, kan die regsprosesse oor die oorname van die sentrum voortgaan, maar daar kan nie van werknemers en hul gesinne verwag word om intussen die volle prys vir die geskil te betaal nie.
“Hierdie is nie bloot ʼn regsgeskil tussen twee partye nie. Terwyl daar oor aanspreeklikheid gestry word, raak mense se koskaste leeg, mediese dekking verval en skuld hoop op. ʼn Werknemer kan nie met ʼn hofbevel kos koop nie en ʼn gesin kan nie van ʼn appèl leef nie,” sê Van Staden.
Die arbeidshof het op 30 April vanjaar beslis dat DKD se oorname van die Mangaung Korrektiewe Sentrum ʼn oordrag ingevolge artikel 197 van die Wet op Arbeidsverhoudinge behels. Die geaffekteerde G4S-werknemers sou gevolglik op 1 Julie na DKD oorgaan.
DKD se daaropvolgende dringende aansoek om die werking van dié bevel op te skort is op 18 Junie van die hand gewys. Verdere regsprosesse duur voort.
Volgens Van Staden loop Solidariteit nie die uiteindelike uitkoms van dié prosesse vooruit nie. Solidariteit se onmiddellike kommer is die werknemers wat tussen die twee partye se botsende regsposisies vasgevang is.
ʼn Opname van ʼn G4S-personeelvergadering in Junie bevestig dat werknemers meegedeel is dat die hofbevel geldig en bindend is en dat hulle op 1 Julie na DKD sou oorgaan. Hulle is ook aangesê om op dié datum vir diens aan te meld. Baie van die werknemers het dit gedoen, maar kon nie hul normale werk hervat nie.
G4S se standpunt is dat die werknemers ingevolge die hofbevel op 1 Julie na DKD oorgegaan het en dat G4S gevolglik nie meer hul werkgewer is nie. DKD betwis op sy beurt die artikel 197-bevinding en meen dat G4S steeds verantwoordelik is.
“Ons verstaan dat albei partye hul regsposisies wil beskerm, maar dit kan nie beteken dat werknemers eenvoudig in die middel gelos word nie. Hierdie mense het vir diens aangemeld en is bereid om te werk, maar sit nou sonder hul gewone salaris en sonder sekerheid oor wanneer die situasie opgelos gaan word,” sê Van Staden.
Die onsekerheid het reeds ernstige praktiese gevolge. Geaffekteerde werknemers sukkel om toegang tot WVF-verligting te kry, terwyl hul werkgewer- en diensstatus onopgelos bly. Pensioen- en aftreeprosesse kan ook nie normaal afgehandel word sonder die nodige werkgeweradministrasie nie.
Volgens inligting wat lede aan Solidariteit verskaf het, is sommige werknemers se mediese dekking reeds ontwrig, terwyl ander s’n teen die einde van Augustus kan verval.
Solidariteit het reeds afsonderlik met G4S, asook met senior DKD- en regeringsverteenwoordigers, gesprek gevoer. Die tersaaklike hofstukke, ooreenkomste en kommunikasie is ook deur Solidariteit se Regsdienste oorweeg.
Solidariteit wil nou die partye bymekaar kry om, sonder benadeling van enigeen se regte in die voortgaande litigasie, ʼn werkbare tussentydse reëling vir die werknemers te vind.
“Ons vra nie van G4S of DKD om hul regsargumente prys te gee nie. Ons vra hulle om saam te sit en ʼn plan te maak vir die mense wat nou sonder inkomste is.
“Daar moet minstens gekyk word na tussentydse betalings of noodverligting, mediese dekking, WVF- en pensioenadministrasie en gereelde kommunikasie met die werknemers,” sê Van Staden.
Solidariteit het intussen ook met Solidariteit Helpende Hand in verbinding getree en doen vertroulike behoeftebepalings om lede en hul gesinne waar nodig by te staan.
Van Staden beklemtoon dat dié ondersteuning egter nie die verantwoordelikhede teenoor die werknemers kan vervang nie.
“Die Mangaung Korrektiewe Sentrum is ʼn funksionerende fasiliteit. DKD het intussen met ʼn werwingsveldtog begin waarin voormalige G4S-werknemers teen ʼn verminderde salaris werk aangebied is. Hulle het ook ander werknemers by hierdie fasiliteit aangestel wat nie deel van die artikel 197-geskil is nie.
“Maar ons lede sit by die huis sonder hul gewone inkomste en sonder antwoorde. G4S en DKD hoef nie vandag oor elke regsvraag saam te stem nie, maar hulle moet nou saamwerk om te voorkom dat werknemers en hul gesinne die volle prys vir hierdie geskil betaal,” sê Van Staden.