loading
avatar
Artikels
4 uur gelede
so-slaan-sapd-deur-na-bevordering-in-kaptein-se-gesig-toe

Fotokrediet: Verskaf

Só slaan SAPD deur na bevordering in kaptein se gesig toe

Deur Robin-Lee Maré

ʼn Lid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), kaptein Marikus van den Heever, is danksy Solidariteit se bystand vergoeding gelykstaande aan vier maande se salaris toegeken, nadat die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) bevind het hy is onregverdig gedurende ʼn bevorderingsproses behandel.

Ronel Stander, organiseerder van die openbare sektor by Solidariteit, sê die uitspraak stuur ʼn duidelike boodskap aan werkgewers, veral in die openbare sektor.

“Werknemers het nie ʼn outomatiese reg op bevordering nie, maar hulle het beslis ʼn reg op ʼn billike en konsekwente proses. Wanneer reëls inkonsekwent toegepas word, word werknemers benadeel,” sê sy.

Van den Heever het ten tyde van sy aansoek om bevordering 30 jaar diens in die SAPD gehad, waarvan 19 jaar as kaptein. Hy het vir twee poste op die vlak van luitenant-kolonel aansoek gedoen, maar is nie eens op die kortlys vir onderhoude geplaas nie. Die keuringspaneel het sy aansoek afgekeur omdat sy bewys van matriek nie aanvaar is nie.

Kommissaris Janine Carelse het egter bevind die besluit was onbillik en arbitrêr. Die betrokke dokument is vir jare deur die SAPD aanvaar, geen vooraf waarskuwing oor strenger vereistes is gegee nie en soortgelyke dokumente van ander kandidate is wel aanvaar.

Hoewel die kommissaris nie bevind het onregverdige arbeidspraktyk ten opsigte van bevordering is bewys nie, het sy wel beslis Van den Heever is onregverdig die geleentheid ontsê om vir die poste mee te ding. Om dié rede is vergoeding gelykstaande aan vier maande se salaris aan hom toegeken.

Stander sê die uitspraak beklemtoon hoe belangrik prosedurele billikheid in enige keurings- of bevorderingsproses is.

“Administratiewe vereistes mag nie gebruik word om werknemers op ʼn selektiewe of inkonsekwente manier uit te sluit nie. Werkgewers behoort hul eie reëls konsekwent toe te pas en alle werknemers gelyk te behandel,” sê sy.

Sy voeg by Solidariteit sal voortgaan om op te tree wanneer lede onregverdig behandel word.

“Ons sal voortgaan om ons lede se regte te beskerm en toe te sien billike arbeidspraktyke geld in elke werkplek,” sluit sy af.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel