Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
3 uur gelede
solidariteit-verwelkom-agoa-verlenging-vsa-besoek-lewer-vrugte

Fotokrediet: Pexels

Solidariteit verwelkom Agoa-verlenging; VSA-besoek lewer vrugte

Solidariteit verwelkom die Amerikaanse senaat se goedkeuring van ’n tweejaarverlenging van die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) tot einde Desember 2028.

Die senaat het die verlenging die afgelope week as deel van finansieringswetsontwerp goedgekeur. Alhoewel dit nou nog deur die Huis van Verteenwoordigers goedgekeur en daarna deur die Amerikaanse president onderteken moet word, word geen onmiddellike struikelblokke voorsien nie.

Tog bepaal Agoa dat die Withuis jaarliks lande wat deur Agoa begunstig word kan wysig en dit bly ‘n moontlikheid dat President Trump die huidige lys van 32 lande wat deel van Agoa uitmaak voor volgende jaar kan aanpas.

Die verlenging is nietemin goeie nuus vir Suid-Afrikaners.

Die Solidariteit Beweging, insluitend Solidariteit en AfriForum, het onlangs ’n afvaardiging na Washington DC gestuur om steun vir so ’n verlenging te werf.

Dit blyk dat hierdie besoek nou vrugte afgewerp het.

Tydens die onlangse besoek aan die VSA is met senior amptenare, kongreslede en ander rolspelers oor onder andere Agoa vergader.

Volgens Jaco Kleynhans, hoof van openbare skakeling by Solidariteit was die fokus van gesprekke om die ekonomiese belang van Agoa vir gewone Suid-Afrikaners, werkers en ondernemings te beklemtoon en te verseker dat Suid-Afrika se deelname nie bedreig word nie.

“Amerikaanse verbruikers put ook voordeel uit goeie gehalte Suid-Afrikaanse produkte wat teen ’n uiters mededingende prys op die Amerikaanse mark verkoop word.

“Ons verwelkom dus die senaat se besluit om Agoa met twee jaar te verleng nadat ons vir twee weke met talle senatore hieroor vergader het.

“Dit skep belangrike sekerheid vir Suid-Afrikaanse uitvoerders en die duisende gewone Suid-Afrikaners wie se werksgeleenthede daarvan afhanklik is,” sê Kleynhans.

Die Solidariteit Beweging bly egter bekommerd dat die swak verhouding tussen Suid-Afrika en die VSA risiko’s vir Suid-Afrika se deelname aan Agoa kan inhou.

Al is Agoa verleng kan die Withuis nog voor Januarie 2027 lande van die lys van begunstigdes verwyder of ander lande toevoeg. Volgens Kleynhans is daar steeds heelwat individue in Washington wat voel dat Suid-Afrika vanaf volgende jaar nie deel van Agoa moet wees nie.

“Sonder konkrete stappe om die bilaterale verhouding te herstel en beleidsprobleme aan te spreek, bly die risiko van uitsluiting groot.

“Solidariteit sal daarom voortgaan om in Washington en plaaslik te werk om Suid-Afrika se handelsbelange te beskerm en druk te plaas vir beter betrekkinge met die VSA.

“Ons herhaal ons oproep aan die Suid-Afrikaanse regering om konstruktief saam te werk om die verhouding met Amerika te herstel ten einde ekonomiese skade aan werkers en ondernemings te voorkom,” sê Kleynhans.

Solidariteit gaan intussen voort met gesprekke met die Withuis om te verseker dat Suid-Afrika nie as begunstigde verwyder word nie.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel