Fotokrediet: ChatGPT
Gekopieër
Media24 glo nie redakteurs en bestuur se vergoeding relevant tot afleggingsproses
Media24 glo nie die openbaarmaking van die vergoeding en personeelkoste van sekere redakteurs, sy senior bestuur en uitvoerende vlak is relevant tot die afleggingsproses wat hy tans betree nie.
Dit terwyl die mediamaatskappy terselfdertyd omvangryke afleggings op grond van kostebesparings probeer regverdig.
Solidariteit het dié inligting aangevra om te bereken hoeveel werknemers se poste moontlik gered kan word indien van die vereiste besparings eerder op senior bestuursvlak gevind word.
“Media24 sê vir werknemers dat sy kostestruktuur nie volhoubaar is nie en dat aansienlike besparings daarom nodig is. Maar wanneer ons vra wat senior bestuur gesamentlik kos en watter besparings dáár moontlik is, word daardie deel van die kostestruktuur skielik irrelevant verklaar,” sê Johan Roos, arbeidsverhoudinge-organiseerder by Solidariteit.
Roos benadruk dat Solidariteit beslis geen ongesonde begeerte het om te weet wat individuele bestuurders verdien nie, maar dat hy volledige inligting benodig om die totale koste van senior bestuur en uitvoerende poste te kan bereken en dit teen moontlike alternatiewe tot afleggings op te weeg.
Die versoek kom ook te midde van geldige vrae oor die koers wat topbestuur ingeslaan het, wat telkens tot nóg afleggings gelei het.
“Ons wil ʼn baie eenvoudige maar belangrike berekening kan doen: Hoeveel werknemers se poste kan moontlik gered word indien ʼn bepaalde besparing eerder uit senior bestuurskoste verkry sou word? Sonder die nodige inligting kan ons nie daardie alternatiewe behoorlik bereken en toets nie.
“Dit kan byvoorbeeld beteken dat bonusse of aansporings verminder word, vakante bestuursposte nie gevul word nie, bestuursvergoeding aangepas word of bestuurslae gekonsolideer word. Elke rand wat op ʼn ander manier bespaar kan word, moet opgeweeg word teen die moontlikheid dat dit ʼn werknemer se pos kan red,” sê Roos.
Solidariteit voer aan dat hierdie inligting regstreeks verband hou met die doel van die afleggingskonsultasie, naamlik om alternatiewe te vind wat gedwonge afleggings kan voorkom of die aantal afleggings kan verminder.
Daarom het Solidariteit onder meer gevra vir die aantal senior bestuurs- en uitvoerende poste in Media24 se media-afdeling, die gesamentlike personeelkoste van dié poste, gesamentlike bonusse en aansporings, asook besonderhede oor bestuursposte wat reeds geskrap, gekonsolideer, gevries of vakant gelaat is.
Solidariteit wil ook weet of vermindering in senior bestuursvergoeding of die aantal bestuursposte reeds as ʼn alternatief tot afleggings oorweeg is.
Indien hierdie opsies oorweeg maar verwerp is, wil die vakbond weet waarom en wat die geraamde besparing sou wees.
“Dit is nie ʼn ongewone versoek in ʼn afleggingsproses nie. Finansiële en koste-inligting wat nodig is om alternatiewe tot afleggings behoorlik te toets, is juis relevant tot betekenisvolle konsultasie.
“Media24 kan nie sy personeelkostebasis gebruik om afleggings te regverdig en dan ʼn moontlik wesenlike deel van dieselfde kostebasis van die ondersoek uitsluit nie. Ons vra dus die inligting vir ʼn baie spesifieke rede: om te bereken of daar ander besparingscenario’s is waarmee poste gered kan word,” sê Roos.
Die geskil oor bestuursvergoeding vorm deel van ʼn breër reeks kwessies wat Solidariteit tydens die huidige artikel 189A-konsultasieproses met Media24 geopper het.