loading
Blogs
1 week gelede
die-rede-hoekom-motsoaledi-nie-oor-ngv-geld-wil-se-nie-is

Foto Krediet: Verskaf

Die rede hoekom Motsoaledi nie oor NGV-geld wil sê nie is

Pieter Jordaan

Oor die meeste dinge wat die minister van gesondheid, Aaron Motsoaledi, oor die Nasionale Gesondheidsverskering (NGV) kwytraak, kan ons maar net ons koppe in ongeloof skud.

Tog het ek volle begrip vir een antwoord wat hy gister op ʼn parlementêre vraag gegee het.

“Waar gaan die geld daarvoor vandaan kom?” is hy toe gevra. Ons wat hier lees, sal saamstem dat dit ten minste ʼn eenvoudige vraag is.

So wat was sy antwoord? Sy antwoord is dat hy weier om die vraag te beantwoord. Hy hoef dit nie te verduidelik nie.

Dit is hier waar ons vir ʼn oomblik begrip moet hê. Want hoe kan jy iets verduidelik wat immers letterlik nie bestaan nie? Sien, daar is nie geld vir die NGV nie. So wat verwag ons moet die minister dan nou eintlik sê?

Sekerlik kan hy nie erken dat dit van die belastingbetaler verhaal gaan word nie, kan hy? Dit sou tog politieke selfmoord wees. En Motsoaledi en sy ANC is hier in ʼn oorlewingstryd gewikkel, man.

Dis nie nou die tyd om jou te steur aan kleinlikhede soos die moontlike vernietiging van die ekonomie, of die reuse-uittog van dokters, of ʼn groot verlies aan menselewens onder ʼn eksklusiewe staatsgesondheidsorgstelsel wat nie werk nie.

In die afwesigheid van enige amptelike kosteberamings, het ander groepe dus namens die minister die moeite gaan doen. Waarop hulle afgekom het, lyk woes. Gaan kyk hier na Solidariteit se NGV-kosteverslag wat in 2023 gedoen is.

“R1 300 miljard per jaar,” hou ʼn politieke teenstander dit toe gister aan die minister van gesondheid voor – ʼn berekening wat een mediese fonds gedoen het.

“Nee, nee, nee … nooit sóveel nie,” sê hy dan.

“Hóéveel” sê hy egter ook nie, want soos ons teen dié tyd reeds weet, kán hy nie ʼn antwoord gee en só die groepe reg bewys wat sê hy dra Suid-Afrikaners se gesondheid en die ekonomie reguit na die afgrond toe nie.

Die NGV is onverdedigbaar. Dit kan nie werk nie en dit kan nie bekostig word nie!

Dit is hoekom die minister nie anders kan nie as om daaroor te swyg.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel