loading
Artikels
1 week gelede
helen-joseph-maar-net-voorsmakie-van-ngv

Foto Krediet: Verskaf

Helen Joseph maar net voorsmakie van NGV

Solidariteit is geensins verbaas oor die video wat tans wyd versprei word op sosiale media waarin die haglike omstandighede by die Helen Joseph-hospitaal uitgewys word nie.

Alhoewel die Gautengse Departement van Gesondheid kennis geneem het van die inhoud in die video wat deur die omroeper, Tom London, opgeneem is, is kanse op ingrypende verandering skraal.

Peirru Marx, netwerkkoördineerder van Solidariteit se Doktersnetwerk, sê veel erger toestande as dié is al by ander openbare gesondheidsorgfasiliteite aangemeld en dit wat by Helen Joseph afgeneem is, is ongelukkig die standaard wat verwag kan word.

“Dié vervalle infrastruktuur dien as ʼn simbool van die gebrekkige standaarde wat in gesondheidsorginstellings onder die staat se beheer heers. Dit is ʼn monument wat die nalatigheid van die staat uitbeeld. Dit is die werklikheid van die breër gesondheidsorgstelsel in Suid-Afrika. Dit is vervalle sonder dat enigiemand tot verantwoording geroep word,” sê Marx.

Vir Solidariteit is dit duidelik hoe die voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekeringswet (NGV-wet), waar privaat gesondheidsorg ook by die staat se verantwoordelikhede ingesluit sal word, tot veel groter verwoesting aanleiding sal gee.

“Dit is weens mense se ervarings soos dié by Helen Joseph dat die land duidelik ‘nee’ sê vir die NGV. Mense vertrou nie die staat met hulle gesondheid nie. Die staat se reaksie op hierdie kritiek bestaan dikwels uit verskonings, en mense sien nou regdeur dit.

“Die NGV gaan dieselfde krisisafmetings aanneem, maar net op ʼn veel groter skaal en daarom het Solidariteit ʼn reusehofstryd daarteen begin,” sê Marx.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel