loading
Artikels
2 dae gelede
na-watter-vaardighede-soek-werkgewers-by-intreevlakkandidate

Foto Krediet: OkayDeer

Na watter vaardighede soek werkgewers by intreevlakkandidate?

Deur Reon Janse van Rensburg

Werkgewers In die Suid-Afrikaanse arbeidsmark soek na meer as net die teoretiese en tegniese kennis van potensiële kandidate vir werk. ʼn Goed afgeronde stel vaardighede kan die verskil maak in werknemers se vordering vanaf intreevlakkandidate na verdere geleenthede in hul professionele loopbaan. Gryp dus die geleentheid aan deur die volgende vaardighede op jou leer- en -leeslysie te plaas.

Harde vaardighede teenoor sagte vaardighede

Wanneer dit by vaardighede kom, is dit noodsaaklik om die onderskeid tussen harde vaardighede en sagte vaardighede te verstaan. Volgens kundiges wat op LinkedIn aangehaal word, is harde vaardighede (soos analitiese vaardighede) leerbaar en werkspesifiek, terwyl sagte vaardighede (soos leierskap, kommunikasie, probleemoplossing, werksetiek en samewerking) besondere waarde in die werksomgewing vir werkgewers bied.

Die topvyf-vaardighede waarna werkgewers op soek is

Die topvyf-vaardighede wat in die Suid-Afrikaanse konteks ʼn prioriteit vir werkgewers is, is die volgende:

Leierskap: Suid-Afrikaanse werkgewers waardeer sterk leierskapseienskappe. Dit sluit in selfontwikkeling, spanbou-deelname, kritiese denke, etiese besluitneming en innovering. Toon jou leierskappotensiaal deur aktiewe deelname aan groepprojekte en doen voortdurend kursusse oor leierskapsontwikkeling. Dit is ook nie ʼn slegte idee om ʼn mentor te vind wat jou met waardevolle advies kan bystaan om jou leierskap te ontwikkel nie. Solidariteit bied mentorskapprogramme aan. Klik hier om meer daaroor uit te vind.

Probleemoplossing: Werkgewers is op soek na individue wat uitdagings doeltreffend kan hanteer. Ontwikkel vaardighede deur jou kreatiwiteit, navorsingsvermoë, saamwerking in ʼn span, emosionele intelligensie, en besluitnemingsvaardighede te bemeester. Daar is waardering vir werknemers wat probleemoplossing in die arbeidsmark vernuwend benader.

Werksetiek: ʼn Sterk werksetiek gaan hand aan hand met fokus, tydsbestuur en organisatoriese vaardighede. Kweek goeie gewoontes aan, skakel afleidings uit en stel hoë standaarde aan jouself. Werkgewers waardeer individue wat ʼn onberispelike werksetiek handhaaf.

Samewerking: Goeie samewerking tussen kollegas is onontbeerlik by feitlik alle werkplekke. Bewys jou vermoë om ʼn aanpasbare spanspeler te wees deur ervarings te beklemtoon wat samewerking, leierskap, kritiese denke, die vermoë om aktief te luister, en doeltreffende kommunikasievermoëns beklemtoon.

Volgens Monster toon ʼn opname deur die Vereniging vir Mensehulpbronbestuur dat werkgewers die waarde van sagte vaardighede bo tegniese vermoëns plaas. Betroubaarheid, integriteit, respek, samewerking en kliëntefokus is as die topvaardighede geïdentifiseer.

In die mededingende Suid-Afrikaanse arbeidsmark is ʼn goed afgeronde stel vaardighede noodsaaklik vir jong mense wat sukses in hul loopbaan wil behaal. Beklemtoon jou leierskap-, kommunikasie- en probleemoplossingsvaardighede, asook jou werksetiek en jou vermoë om in ʼn span saam te werk op jou CV en tydens onderhoude om só jou kanse op sukses aansienlik te verbeter.

Daarom is dit belangrik om ʼn professionele CV te skep wat deeglik uiteengesit is, nie spel- of taalfoute bevat nie, maklik leesbaar is en volledige inligting weergee. Indien jy onseker is oor hoe ʼn CV moet lyk, is Solidariteit se CV Bouer net vir jou!

Strewe daarna om jou sagte vaardighede voortdurend te ontwikkel en te verfyn om voor te bly in die veranderende wêreld van werk. Onthou, dit gaan nie net oor wát jy weet nie, maar oor hoe doeltreffend jy jou vaardighede in ʼn professionele omgewing kan toepas.

Skep jou gratis profiel op Solidariteit en sluit aan by jou grootste Afrikaanse aanlyn netwerk van werk.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel