loading
Mediaverklarings
2 dae gelede
solidariteit-waarsku-oor-rassereels-vir-regsberoep

Foto Krediet: Verskaf

Solidariteit waarsku oor rassereëls vir regsberoep 

Solidariteit het met kommer kennis  geneem van die drakoniese rassereëls en -syfers wat die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging luidens ʼn onlangse mediaverklaring as BSEB-sektorkodes vir die regsberoep wil instel.
In reaksie op die verklaring, wat op 12 September uitgereik is, het Solidariteit reeds met sy regspan gekonsulteer om moontlike stappe te bespreek. Solidariteit het ook vroeër van die geleentheid gebruik gemaak om kommentaar oor die kodes vir die regsektor in te dien.
Volgens die departement se mediaverklaring gebruik die minister van handel, nywerheid en mededinging, Parks Tau, die sektorkodes as ʼn instrument om die onregte van die verlede te hanteer.
Hierdie kodes reik rassevoorskrifte uit aan die regsektor soos 50%- swart eienaarskap, waarvan 25% swart vroue móét wees. Die kodes stel ook 50%- swart verteenwoordiging in die bestuur van ʼn regspraktyk as ʼn voorwaarde waaraan voldoen moet word.
Riaan Visser, hoof van die Solidariteit Regsnetwerk, sê Solidariteit gaan sonder twyfel tot die stryd toetree indien die regering beoog om dié rigiede syfers op die regsberoep af te dwing. 
“Ons wag nou eers om die volledige inhoud van die sektorkodes onder oë te kry voor ons op ʼn plan van aksie besluit. 
“Tog het ons reeds regsadvies ingewin, want indien die kodes enigsins strook met dít wat in die verklaring staan, is dit onaanvaarbaar,” sê Visser.
Die kodes sal glo Vrydag in Die Staatskoerant gepubliseer word.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel