loading
Artikels
2 dae gelede
dokters-mag-nie-aan-depressie-ly-nie

Foto Krediet: Unsplash

Die donker dieptes van Dokter wees

Deur Maryna Eksteen

Dokters ondervind meer depressie en angs as die algemene bevolking. Volgens ʼn studie in die South African Medical Journal is daar ʼn hoë koers van uitbranding, depressie en angs onder mediese dokters. Uitbranding kom by 59% tot so hoog as 100% van dokters voor, terwyl depressie by tussen 21% en 40% van dokters waargeneem word.

Gedurende die Covid-19-pandemie is daar selfs hoër vlakke van uitbranding onder gesondheidsorgwerkers gerapporteer, met verskeie studies wat ‘n voorkoms van ongeveer 40% onder alle gesondheidsorgpersoneel aandui. Dit sluit nie net dokters en verpleegkundiges in nie, maar ook alle verwante personeel en spanne, insluitend gesondheidsorgwerkers in sielkunde, fisioterapie, ensovoorts. Die stigma rakende depressie is egter steeds sterk in die mediese gemeenskap, en daar is verskeie redes waarom geestesgesondheidkwessies as taboe beskou word in die mediese sektor.

Ten eerste daarvan is ʼn lang tradisie van stoïsisme onder mediese beroepslui. Dokters word opgelei om sterk te wees en geen swakheid te toon nie, wat dit soms uitdagend kan maak om hul eie geestesgesondheidsprobleme te erken. Daar word van dokters verwag om volmaak te wees. Dit is immers die mense wat altyd die antwoorde moet hê om uitdagings te hanteer wat oor pasiënte se pad mag kom.

Dr. Jerrie Bezuidenhout, psigiater en direkteur van mediese dienste by Vista Kliniek, deel sy insette oor die stigma van depressie en angs wat in die mediese beroep daaroor skuil. Dr. Bezuidenhout werk met pasiënte tussen die ouderdom van 18 en 65 jaar oud wat aan siektes soos depressie en algemene angsversteurings ly. Volgens dr. Bezuidenhout het die beroep hom gekies en nie hy die beroep nie. “Ek geniet mense; mense is interessant.”

Volgens dr. Bezuidenhout is depressie ʼn breinsiekte, en wat dit anders maak as ander siektes is dat die primêre limbiese breinareas wat by depressie betrokke is, die amigdala, hippokampus en dorsomediale talamus insluit. Kortliks beteken dit dat daar ʼn wanbalans in die brein is, en volgens dr. Bezuidenhout is die rede vir hierdie wanbalans onbekend.

Dokters ervaar ook baie druk om volmaak te wees. Daar word van dokters verwag om altyd die antwoorde te hê op enige uitdagings wat oor pasiënte se pad mag kom. Hierdie druk kan gevoelens van ontoereikendheid veroorsaak, wat die geestesgesondheidsprobleme verder vererger. Volgens dr. Bezuidenhout is sommige mense baie goed daarmee om depressie weg te steek om sodoende die stigma vry te spring.  Dit los egter nie die probleem op nie.

Dit is baie belangrik vir dokters om eers na hul eie gesondheid om te sien sodat hulle na hul pasiënte se gesondheid kan omsien. Dit is ʼn onwaar dat dokters nie aan depressie mag ly nie. Solidariteit se Doktersnetwerk is ʼn beroepsgemeenskap wat saamstaan en saamwerk. Hier kan dokters veilig met ander dokters praat oor geestesgesondheid. Niemand sal ʼn dokter se uitdagings beter verstaan as ʼn ander dokter nie. Klik hier om meer te lees oor die Doktersnetwerk.

Dokter, jy hoef nie alleen deur depressie te gaan nie. Raak deel van ʼn netwerk waarop jy kan staatmaak. Jy vertel gereeld vir jou pasiënte dat depressie nie hulle skuld is nie en dat dit nie ʼn persoonlike swakheid is nie, maar ʼn wanbalans in die brein. Dus moet jy weet dat jy ook mens is, Dokter, en dat depressie nie ʼn persoonlike swakheid is nie.  

Hier volg ʼn paar van dr. Bezuidenhout se wenke om die lewe met depressie beter te maak: 

  • • Oefen gereeld of bly aktief – talle navorsingstukke het bewys dat oefening ʼn effektiewe manier is om depressie te bestuur. Vind ‘n aktiwiteit wat jy geniet en maak dit ‘n gereelde deel van jou roetine. Dit kan enigiets wees waarby jy aanklank vind soos fietsry, joga, draf, dans, ens.
  • • Volg ʼn gebalanseerde dieet – om ‘n gebalanseerde dieet te eet wat ryk is aan vitamiene en minerale kan jou geestesgesondheid ondersteun. Vermy verwerkte voedsel, suikerhoudende drankies en alkohol, aangesien dit almal simptome van depressie kan vererger.
  • • Sosialiseer – om met iemand te praat wat verstaan ​​waardeur jy gaan, kan ongelooflik terapeuties wees.
  • • Probeer iets nuuts – dit kan ʼn uitstekende manier wees om jou gemoed te verbeter en jou geestesgesondheid te bevorder. Maak jou regterbrein so bietjie wakker deur ʼn kunsklas by te woon of iets kreatief te doen. Volgens dr. Bezuidenhout werk ons in ʼn linksdominante wêreld. 
  • • Fokus op geestelike groei – geestelike groei gaan oor jou geloofsraamwerk, en alle mense het ʼn geestelike komponent aan hulle. Volgens dr. Bezuidenhout moet daardie komponent uitgeleef word. “Gaan stap in die natuur; dit is ʼn geestelike aktiwiteit.”

 Jou geestesgesondheid is belangrik! Klik hier indien jy deel wil wees van ʼn gemeenskap waar jou stem saak maak of stuur ʼn e-pos na medies@solidariteit.co.za vir verdere navrae.

#JyHoortHier, want jy maak ʼn verskil!

Saam sal ons vry veilig en voorspoedig wees.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel