
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Die rol van data in verkope
Deur Nico Strydom
Data speel ’n kritieke rol in verkope en moet om hierdie rede optimaal gestoor en aangewend word ten einde ’n waardevolle bate vir ’n maatskappy te wees.
Data help verkoopspersone om kliënte beter te verstaan, en sodoende beter besluite te neem en prestasie te verbeter. Data kan jou help om nuwe kliënte te kry, kliënte beter te behou, kliëntediens te verbeter, probleme op te los, prestasie te verstaan en prosesse te verbeter.
Daar is drie hoofkategorieë waarin data verdeel word, naamlik:
- 1. kliëntedata, wat demografiese inligting, belangstellings en gedrag (aankoopgeskiedenis en webwerf-interaksies) insluit;
- 2. markdata, wat na neigings in die betrokke industrie, mededingende ontleding en ekonomiese aanwysers verwys; en
- 3. verkoopsprestasiedata wat onder meer verkoopsmaatstawwe en verkoopsverteenwoordigersprestasie insluit.
Tegnologie het groot veranderinge gebring in hoe data vir verkope gebruik word. Dit het onder meer gelei tot data-gedrewe besluitneming deur die gebruik van stelsels vir die bestuur van kliënteverhoudinge (CRM).
Die stoor en organisering van kliënt-data stel verkoopspersone in staat om diepgaande insigte te verkry rakende kliënte se voorkeure en gedrag om sodoende interaksies met kliënte te kan verpersoonlik en hul strategieë aan te kan pas om aan spesifieke behoeftes te voldoen.
ʼn CRM-stelsel het ten doel om kliënt-data te bestuur. Dit behels onder meer om kontakbesonderhede op datum te hou, elke kliëntinteraksie na te spoor en kliënterekeninge en -verhoudinge te bestuur. Kliënt-data word oor verskillende kanale en kontakpunte saamgestel, dit kan onder meer insluit webwerfbesoeke, telefoonoproepe en sosialemedia-interaksie.
’n CRM-stelsel kan ook uitvoerbare insigte lewer en help verkoopspersone om wenke te bestuur, verkoopsgeleenthede op te spoor en interaksies met kliënte te organiseer. Dit kan ook met sosiale media geïntegreer word waar wolk-gebaseerde CRM-stelsels volledige mobiliteit en toegang tot verskeie pasgemaakte toepassings bied.
CRM-stelsels help nie net om kliëntediens en kliëntetevredenheid te verbeter nie, maar ook om tydbestuur en die verkoopsproses optimaal toe te pas wat uiteindelik tot groter doeltreffendheid lei.
Die huisvesting (“hosting”) van CRM-data is ook uiters belangrik in terme van sekuriteit, toeganklikheid en doeltreffendheid. Dit gaan nie net oor die beskerming van data nie, maar ook om te verseker dat data altyd beskikbaar is en gestoor word in ooreenstemming met relevante databeskermingsregulasies.
Die veilige en private berging en organisering van data is van kritieke belang en robuuste sekuriteitsmaatreëls moet geïmplementeer word om kliënte se inligting teen ongemagtigde toegang, oortredings of misbruik te beskerm.
Die Solidariteit Kommunikasie- en bemarkingsnetwerk bemagtig jou in jou beroep, sodat jy nie net werkbeskerming geniet nie, maar ook groeigeleenthede kan ontdek, jou netwerk kan uitbrei en uitstaan in jou veld. Die toekoms is blink!