loading
Artikels
2 jaar gelede
die-seb-sektorkode-oortree-die-grondwet

Foto Krediet: OkayDeer

Die SEB-sektorkode oortree die Grondwet

Deur Maryna Eksteen

Op 22 Julie 2022 het die minister van handel, nywerheid en mededinging, Ebrahim Patel, ingevolge artikel 9(5) van die Wet op Breëbasis- Swart Ekonomiese Bemagtiging (No. 53 van 2003) (soos gewysig) (“die BBSEB-wet”), die konsep-sektorkode van die Regspraktykraad (RPR) op aanbeveling van die minister van justisie en korrektiewe dienste, Ronald Lamola, uitgereik.

In 2020 het die RPR ʼn mandaat uiteengesit om transformasie in die regsberoep te bevorder en die proses vir die ontwikkeling van ʼn transformasiekode vir die sektor te begin. Volgens die konsepkode is die proses deur die BBSEB-wet sowel as die gewysigde kodes vir goeie praktyk gelei. Die uitkoms hiervan het uitgeloop op die aanvaarding van die voorgestelde sektorkode in Februarie 2021.

Alvorens die voorgestelde sektorkode aan die kabinet vir hersiening en bespreking voorgelê is, het Lamola die kode vir insae van belanghebbende partye oor die inhoud daarvan uitgereik. In reaksie hierop het Solidariteit se Regsnetwerk in sy kommentaar sy teenkanting teen die kode op grond van prosedurele en wesenlike konkreetheid uitgespreek.

Volgens Patel het die konsepkode vir die regsektor (“Draft Legal Sector Code”) ten doel om ongelykhede te hanteer wat voortspruit uit swart mense se sistematiese uitsluiting van waardevolle deelname aan die ekonomie. Volgens Solidariteit se Regsnetwerk skep die konsepkode die gevaar dat onkonstitusioneel gehandel kan word.

Die konsep-sektorkode is ʼn regstellende benadering tot die regsberoep. Dr. Dirk Hermann, die bestuurshoof van Solidariteit, sê in ʼn artikel The Return of Race Law dat jy in Suid-Afrika verplig is om jouself op ʼn rassegrondslag te klassifiseer. Hy meen dat jou ras ʼn faktor gaan wees wanneer jy aansoek doen om toelating tot ʼn universiteit, gaan bepaal of jy sal kan werk kry, of jy toegelaat sal word om sake met die regering te doen en of jy ʼn permit van die regering sal kry om ʼn onderneming te bedryf. Verder voer hy aan dat dit ook van jou ras en die rassesamestelling van jou arbeidsmag sal afhang en dat die staat ook ander ondernemings in kennis sal stel of hulle met jou  mag sake doen of nie. “Ras het die nuwe normaal geword, solank jy dit nierassigheid noem,” sê Hermann.

Die SEB-konsepsektorkode staan in kontras met die Grondwet

Volgens Hoofstuk 2 van die Grondwet is (1) elkeen gelyk voor die reg en het elkeen die reg op gelyke beskerming en voordeel van die reg; (2) sluit gelykheid die volle en gelyke genieting van alle regte en vryhede in ten einde die bereiking van gelykheid te bevorder en kan wetgewende en ander maatreëls getref word vir die beskerming of ontwikkeling van persone, of kategorieë van persone wat deur onbillike diskriminasie benadeel is; en (3) mag die staat nie regstreeks of onregstreeks op een of meer gronde onbillik teen iemand diskrimineer nie, met inbegrip van ras, geslagtelikheid, geslag, swangerskap, huwelikstaat, etniese of sosiale herkoms, kleur, seksuele oriëntasie, ouderdom, gestremdheid, godsdiens, gewete, oortuiging, kultuur, taal en geboorte.

Die SEB-sektorkode staan in kontras met die beskerming wat die Grondwet vir die regte van alle mense in ons land bied. Terwyl die wetgewing beoog om diskriminasie te bekamp en gelykheid te bevorder, misken die sektorkode die reg op gelykheid in die regsberoep. Waar word die lyn getrek wat diskriminasie betref? Is diskriminasie dan ʼn kleurgrens?

Die RPR maak stellings sonder stawing

In die sektorkode word ʼn bewering gemaak dat “daar ʼn gebrek aan voldoende gehalte-regsinstruksies aan swart prokureurs en advokate was.” In die sektorkode word voorts aangevoer dat meer effektiewe “ingryping” ten opsigte van “sekere elemente” van die telkaart geïmplementeer moet word. Solidariteit se Regsnetwerk meen egter dat die RPR behoorlike gronde moet stel van hoe dié stellings objektief wetenskaplik bepaal is en waarom dit regverdig is.

Volgens Gerrit Visser, die afdelingshoof van die Algemene Litigasie-afdeling van Solidariteit, is dele in die sektorkode op ongegronde aannames, verouderde inligting en selfs ontoepaslike studies gebaseer.

Die RPR is oortuig dat wit mense (“whites”) die beroep oorheers

Die sektorkode maak die bewering dat die regsektor hoofsaaklik homogeen is en deur wit mans oorheers word. Soos met ander bewerings is daar egter geen bewyse gelewer wat dié rasgebaseerde en verdelende bewering staaf nie. En asof die stelling nie aanstootlik genoeg is nie, voer die RPR dit ʼn stappie verder en beweer dat daar nie genoeg groot regsfirmas in swart besit in Suid-Afrika is om, wat grootte, skaal en dienslewering betref, teen die gevestigde firmas in wit besit te kan meeding nie. Die RPR beoog verder om die eienaarskap van regsfirmas by wyse van regstellende aksie so vas te stel dat minstens 75%-eienaarskap by ʼn swart man moet berus of 51% van die eienaarskap moet in besit van ʼn swart vrou wees. Hierdie mikpunte blyk egter gestel te wees sonder om die huidige eienaarskap of vlak van BBSEB in die grootste firmas te bepaal. Met eenvoudige navorsing kan tien van die grootste regsfirmas in Suid-Afrika se BBSEB-sertifikate opgelewer word. Solidariteit se navorsing het bevind dat vier van hierdie firmas reeds vlak 1-BBSEB-status het, terwyl drie vlak 2-status het, een vlak 3-status en twee vlak 4-status het. Op grond van hierdie navorsing meen Solidariteit se Regsnetwerk dat die sektorkode nie die produk van konstruktiewe betrokkenheid en feitelike oorweging van Lamola is en sal wees nie. Volgens Visser toon die tipe aannames wat daarin gemaak word eerder ʼn ingesteldheid wat oneerbiedig teenoor die regsberoep en die regspraktisyns is.

Die Grondwet se visie is dat almal gelyk hanteer moet word en niemand ongeag ras, geslag of geloof bo die Grondwet verhef mag word nie. Die vraag ontstaan: Is BBSEB deur die gebruik van ras as ʼn absolute dan met die Grondwet, en vernaam die strewe na nierassigheid en die reg op gelykheid, belyn? Daar is reeds 75 bestaande wette wat ras in Suid-Afrika reguleer. Waar gaan dit stop? Iewers moet die #Rasmalheid einde kry.

Indien die sektorkode soos dit tans lees wel van krag word, sal Solidariteit nie toekyk hoe regstellende aksie die regsberoep met ongegronde aannames skaad nie. Ons sal vir geregtigheid veg. Indien jy die volledige konsep-sektorkode wil lees, klik hier of besoek Solidariteit se webtuiste om Solidariteit se Regsnetwerk se kommentaar op die sektorkode te lees.

Staan saam met Solidariteit in die stryd teen rasmalheid. Klik hier om ʼn lid van Solidariteit te word sodat ons vry, veilig en voorspoedig kan wees.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel