loading
Mediaverklarings
6 dae gelede
sluiting-van-assmang-se-beeshoek-myn-kan-byna-700-werkers-werkloos-laat

Foto Krediet: Okay Deer

Sluiting van Assmang se Beeshoek-myn kan byna 700 werkers werkloos laat

Solidariteit gaan daadwerklike ingryping eis in die voorgestelde konsultasie oor afleggings nadat Assmang ʼn kennisgewing uitgereik het waarin die moontlike sluiting van sy Beeshoek-ystertsmyn, naby Postmasburg in die Noord-Kaap, uitgelig word.
Ernstige twyfel bestaan oor die voortbestaan van bedrywighede by die myn aangesien sy enkele groot kliënt, ArcelorMittal SA (Amsa), self onder ernstige finansiële druk probeer oorleef.
Volgens Adéle Rossouw, Solidariteit-netwerkorganiseerder, sal dit ʼn ramp vir die Beeshoek-myngemeenskap en groter gemeenskap rondom Postmasburg wees, aangesien die myn ʼn lewensaar vir die dorp en sy mense is.
Die ganse werkmag van die myn kan hul werk verloor.
“Die probleem is dat Beeshoek net nasionaal ystererts lewer en dus aan die staalbedryf se eie kleitrappery uitgelewer is. Tog is Beeshoek ʼn myn wat nog altyd winsgewend hoë gehalte erts kon lewer, en daar móét tog ʼn gepaste afsetgebied wees.”
“Omdat hulle nie uitvoer nie en aangesien hulle enigste kliënt nie verder by hulle kan koop nie, word die heel ergste opsie nou oorweeg,” sê Rossouw.
In die afleggingskennisgewing, uitgereik deur Assmang-ystererts , word daar gesê dat ʼn totaal van 688 permanente poste moontlik in gedrang kan kom.
Solidariteit verwag dat daar deeglik oor moontlike alternatiewe opsies vir die werknemers gekonsulteer sal word, wat betrekkings by ander myne in die omgewing insluit.
Ten einde sy lede se belange te beskerm, sal Solidariteit aktief aan gesprekke met rolspelers deelneem om hierdie werkverliese soveel as moontlik te beveg. 

Klik hier vir die kennisgewing.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel