
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Die skaduwee wat jou toekoms kan verander
Deur Marisha Hermann
Skaduwerk. Ja, dit beteken letterlik om vir ‘n rukkie iemand se skaduwee te wees. Anders gestel, jy is ’n mentor se stertjie. Jy dink saam, jy gesels saam, jy neem waar.
Jy eet selfs saam, maar die saam eet is die beste tyd aangesien jy dan die persoon se storie leer ken en jou vrae kan vra.
Ek het voor my studie die geleentheid gekry om skaduwerk te doen by Maroela Media asook Solidariteit, en in my eerste jaar by Kwikstert, ʼn Afrikaanse digitalebemarkingsagentskap. Ek het in hierdie skaduwerktye besef joernalistiek en kommunikasie is definitief die rigting waarin ek wil gaan studeer en werk. Veral in een van die vergaderings, toe die koerant in die middel van die tafel lê en van die mense in die vergadering blommetjies daarop teken, het ek besef: “Dis my tipe mense!” Daarna was die besluit maklik. Ek gaan kommunikasie en joernalistiek by Akademia studeer.
My skaduwerk voor my studie het daartoe gelei dat ek internskappe tydens my studie kon doen. Natuurlik het Solidariteit se internskapprogram my ook baie gehelp. Elke geleentheid het my ’n treetjie voor ander kommunikasiekundiges in die werkplek geplaas.
My skaduwerk in my eerste jaar het die geleentheid gebied om ná my studie verder by Kwikstert te leer.
Waarom is skaduwerk voor en tydens jou studie belangrik?
- 1. Dit gee jou die geleentheid om te sien of die rigting wat jy beplan om te studeer werklik is wat jy wil doen.
- 2. Skaduwerk skep die geleentheid om netwerke te bou.
- 3. Jy leer meer as jy die teorie in die praktyk kan raaksien. Verder is dit baie lekker om te sê: “O, ja! Ek het hierdie aspek al in die werkplek gesien.” Dit maak die teorie meer sinvol.
- 4. Skaduwerk stel jou bloot aan die werklikheid van die werkplek en hoe ’n tipiese dag in hierdie beroep sal lyk.
- 5. Jy kry ook die geleentheid omʼn paar wenke en truuks aan te leer wat jy eendag in die werkplek kan gebruik.
Hier is bietjie raad as jy skaduwerk oorweeg:
- 1. Elke studierigting dek ʼn wye veld van werk. Wees oop daarvoor om oor verskeie goed te leer. Wie weet – dalk sien jy iets anders waarvan jy hou.
- 2. As jy by verskillende plekke internskap doen, moenie die plekke met mekaar vergelyk en dit met jou lynhoof bespreek nie. Die wêreld is kleiner as wat jy dink, dus moet jy nie brûe verbrand nie en eerder jou netwerk uitbou.
- 3. Tydens skaduwerk is waarneming baie belangrik. Kyk hoe word dinge gedoen, en dit is heeltemal in orde om te vra: “Hoekom doen julle dit op hierdie manier?” Op só manier leer jy die denkproses ken en leer jy ook meer.
- 4. Skryf neer wat jy raaksien en leer. Jy mag dit dalk nie tydens jou studie gebruik nie, maar die moontlikheid is daar dat jy dit in die werkplek sal moet gebruik.
- 5. As jy personeellede of kliënte ontmoet, bou ’n verhouding. Netwerke is baie belangrik. Hierdie mense kan moontlik eendag jou kollegas of kliënte wees.
- 6. By elke plek: Groet die sekuriteitswag, die ontvangsdame en die persoon wat die kantoor skoonmaak.
Skaduwerk is ʼn ideale manier om jou CV uit te bou, ervaring op te doen en ʼn netwerk te begin vestig. Dit plaas jou so klein treetjie voor jou mededingers wanneer jy uiteindelik vir poste gaan aansoek doen.
Jy sal nie spyt wees nie!