
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Die Solidariteit Finansiesnetwerk vier nuwe baanbrekende slypskool
Die Solidariteit Finansiesnetwerk se slypskool is amptelik op 16 April 2025 tydens ʼn glansgeleentheid by Moonshot Café bekendgestel. Hierdie aanlyn slypskool bestaan uit 13 modules wat op die nodige kennis en vaardighede fokus wat studente en jong werkendes nodig het om suksesvolle loopbane in finansies te verseker. Lees hier meer oor die bekendstellingsgeleentheid en die waarde van die slypskool.
Deur Kyla-Ann du Toit
Vyftig gaste is op 16 April 2025 tydens ʼn glansgeleentheid by Moonshot Café verwelkom vir die bekendstelling van die Solidariteit Finansiesnetwerk se slypskool. Gaste was behoorlik omring deur die kennis van almal wat teenwoordig was, terwyl hulle heerlike verversings, geselskap en musiek geniet het. Dit was ʼn ware spoggeleentheid wat die bekendstelling van die Solidariteit Finansiesnetwerk se splinternuwe slypskool op waardige wyse gevier het.

“Een van die Solidariteit Finansiesnetwerk se kerndoelstellings is die ‘student tot meester’-konsep. Ons wil studente en jong werkendes graag met die nodige kennis en inligting bemagtig sodat hulle meesters in hul onderskeie beroepsvelde kan wees,” sê Rickus Botha, netwerkorganiseerder van die Solidariteit Finansiesnetwerk. Daarom het die Solidariteit Finansiesnetwerk ʼn slypskool ontwikkel sodat studente en jong werkendes werklik praktykgereed kan wees.

Wat maak dié slypskool anders?
Hierdie slypskool beloof om ʼn praktiese opleidingsgeleentheid te wees wat finalejaar-finansiestudente en jong voornemende finansiële praktisyns ʼn voorsprong in die wêreld van werk sal gee. Dit is nie net nóg ʼn akademiese kursus nie; dit is spesifiek ontwerp vir studente wat hul kennis prakties wil toepas en die professionele finansiële omgewing met selfvertroue wil betree.
“Die slypskool het ten doel om die gaping tussen akademie en praktyk te vernou. Dit sal studente en jong werkendes dus bemagtig, praktykgereed kry en verseker dat hulle ʼn mededingende voordeel in die werkplek het,” sê Botha.

Die slypskool is aanlyn beskikbaar en bestaan uit 13 pasgemaakte modules wat fokus op die vaardighede en kennis wat jy in die werklike wêreld gaan nodig kry, danksy die kundigheid en insigte van topkenners in die veld. Jy kry nie net teoretiese insig nie, maar ook praktiese voorbeelde, bankgesprekke met kundiges, aflaaibare template én wenke – hulpbronne wat jy andersins net deur jare se ervaring sou aanleer.
“Indien jy ʼn finalejaarstudent in finansies is of reeds in die finansiesbedryf werksaam is, dan moet jy nie hierdie geleentheid misloop om die Solidariteit Finansiesnetwerk se slypskool te doen nie! Dit sal jou beslis ʼn mededingende voordeel in die arbeidsmark gee,” sê Marike Burger, koördineerder van Solidariteit se Jongwerkende-lidmaatskap.
Van hoe om ʼn finansiële praktyk te bestuur en top- rekeningkundige sagteware te verstaan tot hoe om kasboeke te balanseer en beginsels rondom belasting – hierdie slypskool is jou sleutel tot sukses in die wêreld van finansies!

Jou loopbaan begin nóú
Daar is geen rede om te wag tot jy in ʼn werkplek is om noodsaaklike kennis en vaardighede aan te leer nie. Danksy hierdie slypskool kry jy reeds ʼn voorsprong. Jy leer nie net hoe dinge werk nie, maar hoe jy dit self kan doen. Dit beteken dat jy nie net “graad-gereed” is nie, maar praktykgereed.
Slyp jou toekoms, bou jou vaardighede en wees dié kandidaat wat met selfvertroue by ʼn onderhoud instap. Skryf vandag nog in vir die Solidariteit Finansiesnetwerk se slypskool en verseker ʼn suksesvolle loopbaan in finansies!