
Foto Krediet: Sora Shimazaki
Gekopieër
Die Solidariteit Regsfonds is nodig vir die toekoms van regsorde in die land
Benjamin Franklin het tereg opgemerk dat die doel van ʼn grondwet is om die mense teen die regering se goeie bedoelings te beskerm. Dit gaan nie net oor die beperking van slegte bedoelings nie, maar oor die beperking van oormatige selfregverdiging. Henry Kissinger het ook gesê die grootste uitdaging in die politiek is nie om boosheid te beheer nie, maar om regverdigheid te beperk.
Dit is belangrik om te verstaan dat ʼn grondwet nie ʼn land regeer nie, maar die party wat die mag het. Ná 1994 het die meerderheidsparty die mag om wetgewing aan te pas en te skep volgens hul veranderende beleidsvoorkeure. Dit beteken dat die grondwetlike raamwerk voortdurend in die lig van politieke magsverskuiwings geherdefinieer word. Dit is dus noodsaaklik dat ons as burgerlike samelewing nie passief staan en wag dat die staat vir ons regte veg nie – ons moet dit sélf doen.
Ons kan nie aanneem dat die reg almal sal red en ons niks verder hoef te doen nie. Soos prof. Koos Malan sê: “Daar is geen grondwetlike heilsleer wat ons kan red nie.” Solidariteit verstaan hierdie werklikheid en bou daarom op selfdoenaksies en ʼn sterker gemeenskapsgerigte strategie om vir sy mense ʼn toekoms te verseker.
Grondwetlike regte beteken niks as dit nie prakties afgedwing word nie. Sonder lewenskragtige instellings en aktiewe burgerlike betrokkenheid bly hierdie regte op papier. Solidariteit se stryd fokus op die beskerming van sy gemeenskappe se regte – deur optrede soos arbeidsgeskille, die beskerming van Afrikaanse skole en teenkanting teen onbillike arbeidswetgewing en transformasiebeleide. Ons sien daagliks hoe mense se regte nie outomaties gerespekteer word nie. Daarom is Solidariteit se gemeenskapsmobilisering en regsoptredes ʼn noodsaaklike deel van ons strategie.
Zimbabwe se verval het nie oornag gebeur nie. Dit was die gevolg van ʼn magsbehepte regering wat die land se grondwet geminag het en burgerlike instellings verswak het. Wanneer ʼn regering nie die reg respekteer nie, betaal die samelewing die prys daarvoor. Ons in Suid-Afrika kan nie wag totdat ons in dieselfde rigting beweeg nie. Daar is tekens dat ons regte onder druk is en dat ons harder sal moet werk om ons vryhede te beskerm. Solidariteit bly waaksaam en ons gaan voort om ons gemeenskappe te mobiliseer om hierdie dreigende gevaar te beveg.
Ons is egter nog nie Zimbabwe nie, maar die tekens van ʼn verswakkende staat is duidelik. Die regering probeer sy wil onder die vaandel van transformasie afdwing, wat Solidariteit dikwels in die howe teenstaan en danksy die Solidariteit wat ons met regsake behaal, bewys Solidariteit dat ons steeds deur die howe toegang tot geregtigheid kan verkry. Ons regstelsel is steeds sterk, maar dit moet deur waaksaamheid en voortdurende deelname beskerm word.
Die krag van Solidariteit lê nie net in getalle nie, maar in die gewig wat ons as gemeenskap het. Deur strategiese regsake en volgehoue druk op die regering uit te oefen, beskerm ons ons lede se regte. Suksesvolle sake soos dié teen swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en staatskaping is ʼn bewys van ons impak. Die stryd om ons waardes en die oppergesag van die reg te behou, duur voort en ons sal nie toelaat dat die magstaat ons regstaat vernietig nie.
Solidariteit bly ʼn waghond vir sy gemeenskappe, en ons sal voortgaan om die regte en belange van ons mense te verdedig – op élke moontlike manier, want #JyHoortHier! Raak betrokke en help om jou gemeenskap te beskerm.