loading
Artikels
3 maande gelede
die-solidariteit-regsnetwerk-se-klerkskap-101-webinaar-toegerus-vir-sukses

Foto Krediet: Pexels

Die Solidariteit Regsnetwerk se Klerkskap 101-webinaar: Toegerus vir sukses

Die Solidariteit Regsnetwerk nooi jou uit na die volgende Klerkskap 101-webinaar wat in Mei 2025 aangebied word! Hierdie praktiese sessie aangebied deur Dana Grové fokus op basiese arbeidsreg – ʼn noodsaaklike vaardigheid vir enige jong regsprofessie. Lees in dié artikel meer oor die voordele van ons regswebinare.


Deur Robin-Lee Maré

Die oorgang van teorie na praktyk is een van die grootste uitdagings wat regstudente en klerke of kandidaatprokureurs in hul loopbane ervaar. Die Solidariteit Regsnetwerk het hierdie behoefte raakgesien en die Klerkskap 101-webinaarreeks geloods – ’n platform wat eerstejaarsklerke praktiese vaardighede bied en hul selfvertroue bou. Hier is ʼn oorsig van hierdie inisiatief wat daarop gemik is om regstudente en klerke beter toe te rus vir die eise van die regsberoep.

Die visie agter die webinaarreeks

Die Klerkskap 101-webinaar het ontstaan as gevolg van ʼn dringende behoefte aan praktiese ondersteuning. Emil Glas, organiseerder van die Solidariteit Regsnetwerk , verduidelik: “Eerstejaarsklerke ervaar dikwels ’n gebrek aan praktiese ervaring, en ons wou ʼn platform skep wat hulle kon toerus met basiese moets en moenies.” Deur ’n informele en praktiese benadering, help hierdie reeks nie net om selfvertroue te bou nie, maar ondersteun dit ook regsfirmas deur beter voorbereide klerke te lewer.

Wat is reeds behandel?

In die eerste twee webinare is sleutelvaardighede aan deelnemers oorgedra:

  • Webinaar 1: Ruan Wepener het gefokus op die voorbereiding van klerke, hoe om PVT-registrasie by die LPC te hanteer, en die verskyningsbevoegdheid van klerke.
  • Webinaar 2: Zinta van der Linde het ’n diepgaande oorsig gegee oor dagvaardings en die funksionering van die onderhoudshof.

Wat lê voor?

In Mei 2025 word die derde webinaar deur Dana Grové aangebied. Hierdie sessie sal ’n praktiese blik gee op hoe om basiese arbeidsreg te hanteer – ’n noodsaaklike vaardigheid vir enige jong regsprofessie. “Ons streef daarna om regstudente en klerke of kandidaatprokureurs toe te rus met vaardighede wat hulle onmiddellik in die werkplek kan toepas,” sê Glas.

Die Solidariteit Regsnetwerk: Meer as net webinare

Die Solidariteit Regsnetwerk se betrokkenheid by regstudente strek verder as net die Klerkskap 101-webinaar. Glas beklemtoon: “Ons primêre fokus is om regsfirmas en -studente te ondersteun deur praktykgerigte inisiatiewe en ander geleenthede wat regstudente help om beter met die praktyk te skakel.” Deelnemers word aangemoedig om hierdie en ander platforms aktief te benut.

Praktiese raad vir klerkskapkandidate

“Doen die webinare, raak betrokke en woon elke moontlike geleentheid by,” is die eenvoudige maar kragtige raad van Glas. Deur hulself aan praktiese leergeleenthede bloot te stel, kan kandidate makliker die oorgang van teorie na praktyk maak.

Hoe om deel te neem

Regstudente wat belangstel om by toekomstige webinare in te skakel, kan Solidariteit se sosialemediaplatforms dophou vir registrasie-inligting. Glas voeg by: “Hierdie webinare is ’n onmisbare hulpmiddel vir enige regstudent wat ernstig is oor hul toekoms in die regsberoep.”

Die langtermyn-impak

Die Klerkskap 101-webinaarreeks is daarop gemik om studente en klerkskapkandidate toe te rus met selfvertroue en praktiese vaardighede. Die langtermynvisie is dat deelnemers gereed sal wees om elke geleentheid aan te gryp en suksesvol by te dra tot die regsberoep. Glas sluit af: “Ons hoop dat hierdie webinare ’n blywende impak sal hê op die toekoms van jong regslui.”

Met hierdie inisiatief bewys die Solidariteit Regsnetwerk weereens dat hulle toegewy is aan die ondersteuning van jong regslui. Hierdie reeks is meer as net ’n webinaar – dit is ’n bousteen vir sukses.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel