loading
Artikels
1 dag gelede
ontmoet-jou-nuwe-beste-kollega-ki

Foto Krediet: OkayDeer

Ontmoet jou nuwe beste kollega – KI

Deur Marisha Hermann

Om in die moderne werkplek te ontwikkel is dit noodsaaklik om saam met die tyd (en tegnologie) te groei. Kunsmatige intelligensie, beter bekend as KI, is ʼn hulpmiddel wat as ʼn waardevolle hulpbron kan dien. As jy leer hoe om dit doeltreffend te gebruik, kan dit ʼn beduidende voordeel vir jou inhou.

Hoe om vir KI ʼn opdrag te gee

Die gehalte van KI se uitsette hang sterk af van die manier waarop jy inligting invoer. Of jy nou ChatGPT, Copilot, Gemini of enige ander platform gebruik, gaan meer beskrywende en spesifieke insette gewoonlik beter resultate lewer.

Byvoorbeeld, die opdrag “Skryf ʼn berig” is heeltemal te vaag. Waaroor moet dit gaan? Hoe lank moet dit wees? Wie is die teikengehoor – jong of ouer lesers?

Nog ʼn nuttige strategie is om te maak asof KI ʼn persoon met ʼn spesifieke rol is. Byvoorbeeld, “Stel jouself voor jy is die bemarkingshoof van ʼn niewinsgewende maatskappy wat babahondjies versorg. Skryf ʼn bemarkingsplan met die spesifieke doel om die maatskappy se sigbaarheid op Instagram te verhoog. Maak ook voorstelle van hoe die grafika kan lyk.”

Wees duidelik oor wat in die teks of grafika ingesluit moet wees en ook nié moet wees nie. Wees daarmee saam duidelik oor die teikengehoor en die toon van die boodskap. Gee terugvoer aan KI deur foute uit te wys en vir verbeterings te vra soos jy aan opdragte werk – dit sal toekomstige resultate aansienlik verbeter. Die beste manier om KI te leer ken is om dit te gebruik.

Hou in gedagte dat jou KI-kollega steeds ʼn masjien is. Die inligting kan steeds onakkuraat, buite konteks of misleidend wees. Om hierdie rede is dit nie raadsaam om die inligting te gebruik sonder om die feite te verifieer en te herskryf nie! Dink aan jou KI-kollega as ʼn nuttige assistent, nie ʼn onfeilbare kenner nie.

Hierdie wenke is ook van toepassing op Canva se KI-funksies.

Canva AI

Canva AI bied ʼn reeks funksies, met uitgebreide kenmerke beskikbaar vir Pro-gebruikers.

Canva AI vir skryfwerk

Magic Write is ʼn teksskepper wat jou help om inhoud te skryf. Soortgelyk aan ChatGPT, kan dit bemarkingstekste, opskrifte, stories, sosialemediateks en meer genereer.

Canva AI vir ontwerp

Die Magic Media-funksie laat gebruikers toe om grafika, foto’s en video’s te skep gebaseer op die opdrag wat hulle invoer. Hierdie elemente kan in voorleggings en ander projekte gebruik word. Canva AI kan ook kode skryf vir gebruik op webblaaie. Daarbenewens kan gebruikers ook ʼn funksie gebruik waar Canva vir hulle ʼn dokumentuitleg voorstel.

Canva AI vir klank

Onder die apps-afdeling vind jy die AI generation-opsie waar jy vir KI kan vra om klankgrepe te skep, asook ander apps wat deur KI aangedryf word.

Canva AI vir alles!

As jy nie weet waar om te begin skryf nie, kan jy vir Canva AI vra vir inspirasie. Canva bied ook verskeie instruksievideo’s wat meer verduidelik hoe jy hierdie KI-hulpmiddel doeltreffend kan gebruik.

Hierdie funksies kan jou help om vinniger, makliker en meer kreatiewe ontwerpe te maak – veral as jou sterkpunte eintlik op ander gebiede is. Hou in gedagte dat KI-gegenereerde inhoud (teks en grafika) nie jou eie oorspronklike werk is nie.

Let wel: Dui altyd aan as jy KI gebruik het om die werk te doen, om die etiese element te behou.

Die beste manier om jou KI-kollega te leer ken is om dit op verskillende maniere te gebruik, terwyl jy steeds jou unieke elemente en insette op die werk behou.

Wil jy graag meer oor Canva leer?

Solidariteit-lede het nou gratis toegang tot ʼn splinternuwe aanlyn kursus wat ontwerp is om jou te leer hoe om Canva optimaal te gebruik. Die kursus is insiggewend, prakties en sal jou help om daai kreatiewe ratte weer te laat draai.

Waarvoor wag jy? Spring in – en jou volgende babatee-uitnodiging mag dalk net soos ʼn rooitapyt-geleentheid lyk.

Skep jou gratis profiel hier.

Skryf hier in vir Canva-kreatiwiteit

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel