
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Jy is jou eie produk: Wenke om in die IT-werwingswêreld uit te staan
Deur Claudie Kannenberg, besturende direkteur van Centice
Jy het die kwalifikasies. Jy het die ervaring. Jy is bereid om te leer. Jy kry egter steeds nie daardie onderhoud nie. Wat nou?
In ʼn wêreld waar tegnologie vinniger verander as wat ons kan byhou, is jou vaardighede alleen nie meer genoeg nie – jy moet jouself kan verkoop. Elke dag ding duisende talentvolle IT-professionele persone mee om ʼn handjievol geleenthede. Die vraag is nie of jy goed genoeg is nie – dit is of jy sigbaar genoeg is. Die IT-bedryf is dinamies en mededingend, en dit verg ʼn strategiese benadering om uit te staan.
Ken jou unieke waarde en weet hoe om dit te verkoop
Elke persoon in die IT-bedryf bied iets uniek gedurende ʼn onderhoud. Maar wat onderskei jou van ander kandidate? Is dit ʼn spesifieke kundigheid, jou aanpasbaarheid of jou ervaring in ʼn ander sektor? Dit is belangrik om hierdie eienskappe en vaardighede doeltreffend by jou CV in te sluit.
ʼn Inleidende opsomming wat hierdie punte uitlig, moet aan die begin van jou CV verskyn sodat dit onmiddellik sigbaar is. Hierdie opsomming kan ook melding maak van kwalifikasies en ondervinding wat relevant is vir ʼn spesifieke posisie.
Unieke vaardighede kan vrywilligerswerk of bydraes tot oopbronprojekte insluit. Selfbegin-projekte is ook ʼn aanduiding van inisiatief en passie – eienskappe wat jou onmiddellik laat uitstaan. Deelname aan kompetisies of “hackathons” verhoog ook jou bemarkbaarheid.
Wees strategies oor die poste waarvoor jy aansoek doen
Maatskappye en werwingsagentskappe ontvang honderde aansoeke vir elke pos wat hulle adverteer. Dit is dus ʼn tydrowende proses om deur al die aansoeke te werk om gekwalifiseerde kandidate te identifiseer. Moenie jou CV “spam” deur aansoek te doen vir elke pos wat jou pad kruis nie. Wees eerder strategies in jou benadering deur ondersoek in te stel na maatskappye wat by jou kwalifikasies, ondervinding en bedryfskennis kan baat.
Dit is belangrik om in jou dekbrief uit te lig waarom jy voel jy ʼn aanwins vir ʼn maatskappy sal wees. Sluit meetbare prestasies in jou CV in – byvoorbeeld, as jy verantwoordelik was vir kostebesparings op ʼn projek of as jy ʼn span gelei het om ʼn projek voor skedule te lewer. Dit dien as maatstawwe wat jou vermoëns en suksesse weerspieël.
Bemeester jou tegniese vaardighede en hou dit op datum
In ʼn dinamiese bedryf wat daagliks groei is dit noodsaaklik om jou vaardighede op datum te hou. Vaardighede kan nuwe tegnologieë, programmeertale en nuwe ontwikkelings insluit. Platforms wat kortkursusse aanbied, sluit in Coursera, Udemy, Pluralsight, en LinkedIn Learning.
Solidariteit se leerplatform is ook ʼn uitstekende geleentheid om nagenoeg 150 kursusse te voltooi – alles gratis vir lede! Solidariteit wil jou bemagtig om jou volle potensiaal te bereik deur lewenslange leer.
Ontwikkel sagte vaardighede en kommunikasievaardighede
Die IT-bedryf is nie net tegnies nie. Mense met goeie spanwerk-, probleemoplossings- en kommunikasievaardighede blink dikwels uit. Hierdie vaardighede word gereeld indirek in onderhoude getoets. Om sagte vaardighede en kommunikasievaardighede doeltreffend te ontwikkel, fokus op selfbewustheid, oefening, die soeke na terugvoer en om by ander te leer. Prioritiseer spesifieke vaardighede soos aktiewe luister, duidelike kommunikasie en spanwerk. Gebruik opleiding, mentorskap en werklike ondervinding om hierdie vaardighede te slyp.
Bou ʼn sterk aanlyn teenwoordigheid
Talle platforms in die IT-bedryf laat jou toe om jou professionele profiel aanlyn te bou en te vertoon. Skep ʼn professionele LinkedIn-profiel – hoe meer volledig dit is, hoe meer doeltreffend sal dit jou loopbaan weerspieël. Vra ook aanbevelings van bestuurders en lys projekte waarop jy gewerk het.
Oorweeg ook om ʼn persoonlike portefeulje-webwerf of GitHub-profiel te skep om jou werk te vertoon. Maak seker dat jou kontakbesonderhede op hierdie platforms beskikbaar is. Neem ook deel aan forums soos Stack Overflow of plaas artikels oor tegniese onderwerpe.
Netwerk, netwerk, netwerk
Sluit aan by verskeie IT-gemeenskappe – hetsy aanlyn of in persoon. Woon netwerkgeleenthede, “meetups”, konferensies en soortgelyke byeenkomste by. Hierdie omgewings bied waardevolle geleenthede om met ander in die bedryf te skakel en verhoudings te bou, selfs al soek jy nie aktief na nuwe geleenthede nie. Baie loopbaangeleenthede ontstaan bloot deur die regte mense op die regte plekke te ontmoet.
Die Solidariteit IT-netwerk is ook spesiaal vir jóú ontwikkel. Dit is jou loopbaanvennoot wat netwerkgeleenthede bied wat jou kan bemagtig en jou professionele netwerke kan uitbrei.
In ʼn mededingende en vinnig ontwikkelende IT-omgewing is dit nie genoeg om net tegnies vaardig te wees nie. Jy moet doelbewus werk aan jou sigbaarheid, jou persoonlike bemarking en jou netwerk. Deur jou unieke waarde te ken, strategies aansoek te doen, jou vaardighede te slyp, ʼn sterk aanlyn teenwoordigheid te bou en aktief te netwerk, plaas jy jouself in ʼn veel sterker posisie om raakgesien te word – én om daardie onderhoud te kry.
Onthou, in die werwingswêreld is jý jou eie produk. Verkoop jouself met selfvertroue en egtheid.