loading
Artikels
5 dae gelede
nadia-lategan-se-wenke-vir-sukses-in-die-regsberoep

Foto Krediet: OkayDeer

Nadia Lategan se wenke vir sukses in die regsberoep

Deur Leré Nel

Solidariteit se regsnetwerk het by Nadia (Hattingh) Lategan gaan aanklop om waardevolle raad vir jong regspraktisyns en -studente in te samel.

Wie is Nadia Lategan?

Nadia se indrukwekkende loopbaan strek van vakansiewerk by die regsfirma Weavind & Weavind en logistieke maatskappy Afrirent Logistics, tot ʼn tweejaar-leerklerkskap by een van die vernaamste internasionale regsfirmas in die wêreld, Baker McKenzie. Sy het as dosent verskeie modules by STADIO Hoër Onderwys aangebied, waarna sy as ʼn assosiaatprokureur in die korporatiewe regs-, verkrygings- en samesmeltingsdepartement van Werksmans Prokureurs in Johannesburg aangesluit het.

In Januarie 2025 het sy as dosent in die Departement Privaat- en Handelsreg, in die Regsfakulteit van Akademia, aangesluit en doseer, onder andere, Ondernemingsreg en Regspluralisme. Nadia het ʼn groot passie vir besigheid en entrepreneurskap, asook vir die ontwikkeling van haar studente – die volgende generasie regspraktisyns.

Haar loopbaan, wat reeds vroeg deur inisiatief, aanpasbaarheid, deeglike navorsing, voorbereiding en selfstandigheid gekenmerk word, dien as inspirasie vir enige regstudent of jong prokureur wat ʼn verskil wil maak.

Raad oor voorbereiding vir die beroep en onderhoude

Die regsberoep is veeleisend, mededingend en dikwels oorweldigend vir jong praktisyns, studente en klerke wat nog hul voete probeer vind. Maar dit is ook ʼn beroep wat vol oneindige moontlikhede is – mits jy die regte benadering volg. Nadia is iemand wat presies weet hóé om dit te doen.

Sy beklemtoon dat dit belangrik is om van vroegs af al ʼn idee te hê van wat jy in dié beroep wil bereik: “Ek het al in die eerste jaar van my studie besluit dat ek vir ‘een van daardie groot firmas in Sandton’ wou werk. Om by groot regsfirmas te werk, was nog altyd my droom.”

Wat onderhoude betref, stel Nadia deeglike voorbereiding voor, soos asof dit ʼn groot eksamen is: “Ek het so veel as moontlik gelees, insluitend die nuus, belangrike hofuitsprake, wetgewende veranderinge en alles wat ek oor die betrokke firma kon opspoor. Dit wys dat jy jou huiswerk gedoen het.”

Verder het sy ook praktiese voorbereiding gedoen: “Ek het met eerlikheid my eie sterk- en swakpunte, asook my unieke eienskappe ondersoek, byvoorbeeld ‘wat maak my ʼn waardevolle kandidaat en hoe kan ek dit effektief oordra?’”

En dan het sy baie geoefen: “ʼn Goeie vriendin het my altyd met algemene en tegniese vrae gepeper, sodat ek die onderhoud gemaklik, selfversekerd en voorbereid kon aanpak.”

Die onderskeid tussen groter regsfirmas en kleiner firmas

“In beide groot en kleiner firmas word daar teen ʼn hoë tempo vir lang ure gewerk. In groter firmas, waar hoër winste en streng teikens nagejaag word, is die werkdruk, kliëntverwagtinge en werktempo beslis hoër,” verduidelik Nadia. “Groot firmas beskik egter oor meer hulpbronne, soos 24-uur-sekretaressedienste en selfs ʼn 24-uur IT-hulptoonbank wat deur die jaar, enige tyd gekontak kan word.”

Met betrekking tot die werkkultuur, deel sy dat: “Ten spyte van Baker McKenzie se internasionale regsfirma klassifikasie, is die werkkultuur relatief informeel, terwyl die ander regsfirmas meer formeel is. Elke firma is uniek en deur ervaring leer jy waar jy die beste in pas,”

Raad vir praktisyns wat by top-firmas wil werk

As student of jong praktisyn moet jy so vroeg as moontlik begin om ervaring op te doen, selfs al is dit nie in die regsbedryf nie. “Vakansiewerk is die beste manier om die praktyk en kultuur van verskillende firmas te leer ken, en dit help jou om beter loopbaankeuses te maak, maar ook om as ʼn meer ingeligte en gepaste kandidaat voor te kom,” sê Nadia. Sy beveel ook aan om loopbaanskoue by te woon, netwerkgeleenthede te benut en jou LinkedIn-profiel en professionele netwerk vroeg te begin bou.

Haar tyd by groot regsfirmas soos Baker McKenzie en Werksmans het haar geleer om in kompeterende spanne en onder hoë druk akkuraat, professioneel en vinnig te werk. Dit behels opwindende adrenalien-elemente, maar is ook veeleisend. “My professionele loopbaan by groot firmas was baie waardevol, maar ek het ook besef dat my loopbaan nie binne die perke van ʼn groot firma hoef te bly om suksesvol en bevredigend te wees nie.”

Die belangrikheid van mentorskap en ʼn netwerk

“ʼn Sterk netwerk en mentorskap is ʼn voorvereiste vir volhoubare sukses in die regsberoep,” sê Nadia. “En dit begin reeds in die lesinglokaal met die studente langs jou.”

Oor mentorskap sê sy: “ʼn Mentor hoef nie noodwendig meer senior as jy te wees nie, want selfs iemand wat ʼn jaar of twee voor jou is, kan waardevolle insigte bied.”

Vir jong praktisyns is die maklikste manier om ʼn netwerk vinnig op te bou, om by jou beroepsnetwerk in te skakel. Binne jou beroepsnetwerk is daar ook ʼn waardevolle mentorskapsprogram wat jou die geleentheid bied om ʼn amptelike mentor te kies wat een-tot-een ondersteuning en raad kan bied gedurende die begin van jou loopbaan.

Hoe laat jy jouself uitstaan?

Volgens Nadia is daar spesifieke vaardighede wat ʼn kandidaat sal laat uitstaan:

  • • Uitstekende rekenaarvaardighede: hoe vinniger en met meer akkuraatheid jy kan tik en dokumente formuleer, hoe beter.
  • • Goeie geskrewe en mondelinge kommunikasievaardighede.
  • • Tydsbestuur: “In die regsberoep is tyd letterlik geld”.
  • • Veerkragtigheid en aanpasbaarheid: “Sperdatums en verwagtinge verander en jy moet kan aanpas sonder om kwaliteit of momentum te verloor.”

Vir jong praktisyns wat onseker is as gevolg van die huidige politieke en ekonomiese omstandighede, het Nadia ʼn realistiese, praktiese en hoopvolle boodskap:

“Werk hard, bou ondervinding en werk doelbewus aan jou netwerk. Dít is ʼn tydlose resep vir sukses in enige beroep – selfs in tye van onsekerheid of veranderende omstandighede. Hou jou fokus en, soos my fietsry-instrukteur altyd gesê het, al beweeg jy hóé stadig, hou net aan beweeg. Só skep jy jou eie geleenthede.”

En dalk die belangrikste van alles: “Neem tyd om jou sterkpunte regtig te verstaan en eerlik daaroor te reflekteer. Vra jouself wat jou entoesiasme en dryfkrag aanwakker, en volg daardie pad met oorgawe, ongeag die titel of status. Jou loopbaan moet vir jóú sin maak.”

Bly ingeskakel by die Solidariteit Regsnetwerk vir nog insiggewende leesstof oor jou beroep.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel