
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Wat is nuut? Solidariteit se geveg teen sektorkodes in die regsberoep
Die nuwe sektorkodes in die regsberoep is ʼn brandende kwessie wat die tonge laat klap. Waar trek Solidariteit met sy geveg teen hierdie onregmatige oorregulering? Lees meer om uit te vind.
Deur Leré Nel
Die regsberoep in Suid-Afrika bevind hom tans by ʼn kruispad en die Solidariteit Regsnetwerk staan vas in die stryd teen onregmatige oorregulering. Die sogenaamde sektorkodes vir swart ekonomiese bemagtiging (SEB) wat op 20 September 2024 deur minister Parks Tau onderteken is, hou verreikende gevolge vir elke regspraktisyn in die land in. Hierdie artikel gee ʼn oorsig van wat reeds gedoen is, waar die regsproses nou staan, en wat dit vir jou as regspraktisyn beteken.
Wat het gelei tot Solidariteit se hofaansoek?
Ná die aankondiging van die sektorkodes het Solidariteit spoedig opgetree. ʼn Aanmaning is aan die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging, die minister van justisie en die Regspraktisynsraad (RPR) gerig. Die kern van Solidariteit se beswaar was dat die SEB-kodes:
- onwettig, irrasioneel en ongrondwetlik is;
- teenstrydig is met die Wet op Gelyke Indiensneming en die Grondwet; en
- dat die besluitnemingsproses nie aan wetlike vereistes voldoen het nie.
Aangesien die aanmaning geen reaksie ontlok het nie, het Solidariteit op 11 Maart 2025 ’n hofaansoek ingedien om die sektorkodes tersyde te laat stel.
Waar staan sake nou?
Solidariteit het op 12 Mei 2025 ʼn aanvullende beëdigde verklaring beteken waarin ernstige tekortkominge in die rekord van besluitneming uitgelig word. Hierdie rekord wat uit meer as 3 200 bladsye bestaan, is nie net onvolledig nie, maar wys ook op ʼn reeks prosedurele en substantiewe onreëlmatighede.
Die hoofbevindinge sluit in:
- ʼn Onregmatige besluitnemingsproses: Die sektorkodes se rigting is bepaal deur ʼn “Steering Committee”. Daar is egter geen wettige magtiging vir so ʼn komitee nie en die besluitnemingskragte is dus uitgeoefen deur ʼn onverkose, onverantwoordelike liggaam, wat teenstrydig is met wetlike voorskrifte.
- ʼn Gebrek aan deeglike openbare deelname: Alhoewel daar openbare kommentaar ingewin is, wys die rekord geen noemenswaardige oorweging of verwerking van die insette nie. Inteendeel was 76% van die kommentaar daarteen gekant, maar dit is bloot geïgnoreer. Teenkanting is ook op ideologiese gronde van die hand gewys (byvoorbeeld deur dit as “anti-transformasie” te bestempel) eerder as om op die regsgeldigheid of feitelike meriete daarvan oorweeg te word.
- Gebrekkige en misleidende motivering: Die sogenaamde “besigheidsrede” vir die kode is ondeurdag, ongegrond en gebaseer op verouderde of geen data. Die kodes is van toepassing op minder as 5% van regspraktisyns – wat die rasionaal agter sulke ingrypende regulering onhoudbaar maak.
- Misleidende en selektiewe gebruik van data: Statistiese voorstellings, byvoorbeeld oor eienaarskapsdemografie, of strukturele diskriminasie, word aangebied sonder verwysing na kredietwaardige studies, of word direk weerspreek deur bewyse in die rekord. Bewerings dat firmas in wit mense se besit die meeste regsinstruksies ontvang, word sonder bewys gemaak, terwyl betroubare teenbewyse geïgnoreer word.
Solidariteit se standpunt
Solidariteit glo vas dat:
- die regsberoep uniek en onafhanklik is, met sy eie dinamika en interne regulering, en dat dit nie met sjabloon-SEB-vereistes oor dieselfde kam as ander beroepe geskeer kan word nie;
- hierdie sektorkodes die reg op vrye keuse van regsverteenwoordiging bedreig en nadelige inmenging in firma-eienaarskap en bestuur meebring; en dat
- regspraktisyns nie die slagoffers mag word van politieke of ideologiese agendas wat nie op feite of regmatige prosesse berus nie.
Wat verwag ons nou?
Volgens Emil Glas, organiseerder by die Solidariteit Regsnetwerk, wag Solidariteit tans op die opponerende hofstukke van die partye wat die sektorkodes ondersteun. Daarna sal die saak die gewone hofproses volg.
Terselfdertyd loods Solidariteit ’n ondersteuningsveldtog om breër bewusmaking oor die sektorkodes en die mobilisering van regslui teen die sektorkodes te verseker.
Waarom raak dit jou?
As regspraktisyn:
- word jou vryheid van praktyk en bestuursoutonomie bedreig;
- kan jy geklassifiseer, uitgesluit of beperk word op grond van jou ras – ongeag jou vaardigheid of ervaring; en
- word jy blootgestel aan moontlike sanksies indien jy nie aan hierdie ongrondwetlike vereistes voldoen nie.
Wat kan jy doen?
- Bly ingelig – Hou ʼn oog op die Regsnetwerk se webtuiste en Solidariteit se ander sosialemediaplatforms.
- Sluit aan by die veldtog – Help ons om te keer dat regspraak vir politieke agendas misbruik word.
- Steun die hofaansoek – Jou stem en betrokkenheid gee die saak gewig in die publiek en in die howe.
- Raak betrokke by die Regsnetwerk – dit stel ons in staat om die saak vorentoe te neem en jou in te lig oor kwessies wat jou raak.
Solidariteit hou aan met veg
Solidariteit se Regsnetwerk sal nie terugstaan wanneer die kernwaardes van die regstaat en die beginsels van billikheid en regverdigheid in die regsberoep bedreig word nie. Saam kan ons keer dat die regsberoep nie ideologies totaal aan bande gelê word nie.
Bly ingeskakel by die Solidariteit Regsnetwerk om op hoogte te bly van sake wat jou raak.