loading
Artikels
2 dae gelede
regspraktisynsraad-weerhou-inligting-ons-gaan-hof-toe

Foto Krediet: OkayDeer

Regspraktisynsraad weerhou inligting: Ons gaan hof toe

Solidariteit het besluit om die Regspraktisynsraad (RPR) hof toe te neem nadat herhaalde pogings om dokumentasie oor die afskaffing van Afrikaans as eksamenmedium vir die toelatingseksamen te bekom, vrugteloos gebly het. Lees meer om te sien waar ons staan.


Deur Leré Nel

Nadat alle pogings om relevante inligting oor ʼn belangrike besluit van die Regspraktisynsraad (RPR) te bekom onsuksesvol was, het Solidariteit besluit om voort te gaan met regsaksie.

Wat het tot die hofaansoek gelei?

Paia-aansoek

Hierdie stap volg op meer as ʼn jaar van skriftelike versoeke, opvolgkommunikasie en selfs ʼn formele klag by die Inligtingsreguleerder (IR). Die kern van die saak? Die RPR se besluit om Afrikaans as eksamenmedium vir die toelatingseksamen te skrap – sonder behoorlike rede, deursigtigheid of konsultasie.

Die kwessie het reeds in Januarie 2024 begin kop uitsteek toe Solidariteit ʼn Paia-versoek (waarop die instansie geregtig is ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting) by die RPR ingedien het om toegang te verkry tot dokumente rakende die besluit om vanaf 2024 slegs Engels as eksamenmedium te gebruik. Ondanks opvolgbriewe en versoeke om samewerking, het die RPR óf versuim om te reageer óf onvolledige en sterk gesensorde dokumente verskaf – waarvan baie verouderde inligting bevat het wat irrelevant is tot die huidige besluit.

Die Inligtingsreguleerder

Die RPR se onbereidwilligheid om hul samewerking te gee, het Solidariteit genoop om die klag na die Inligtingsreguleerder te skuif. Alhoewel die IR aanvanklik ʼn sertifikaat uitgereik het wat aandui dat die klag afgehandel is, het Solidariteit beswaar gemaak aangesien die dokumentasie waarop dit gegrond was, heeltemal irrelevant was – dit het slegs op die 2020-besluit betrekking gehad, nie op die finale beslissing wat in Desember 2023 bevestig is nie.

Die dokumente wat uiteindelik verskaf is – insluitend ʼn agenda en gedeeltelike notules van ʼn RPR-vergadering – was óf verouderd en irrelevant, óf belangrike inligting is uitgeblok. Dit maak, soos Solidariteit in sy hofstukke uiteensit, ʼn bespotting van ʼn regmatige versoek tot inligting.

Aangesien alle moontlike regsmiddele en prosesse uitgeput is, is daar nou geen ander opsie behalwe om die saak hof toe te neem nie. Die beëdigde verklaringsis onderteken en die aansoek is ingedien. Die doel: om die hof te versoek om voldoende toegang tot die regsdokumentasie wat die besluit om Afrikaans as eksamenmedium te verwyder, af te dwing.

Wat is Solidariteit se standpunt?

Die RPR word deur regspraktisyns verkies – so waarom is die Raad onwillig om inligting met diegene te deel wat direk deur sy besluite geraak word? Sou die RPR ook onvolledige en gesensorde dokumente aan sy eie lede (d.w.s. praktiserende regspraktisyns) verskaf indien hulle ʼn soortgelyke versoek tot inligting rig? Lede van Solidariteit, soos alle lede van die RPR, is fooibetalende professionele persone wat aan die RPR se regulasies voldoen. Hulle het hul stemreg uitgeoefen om die einste ampsdraers te verkies wat hulle nou toegang tot selfs die mees basiese rekords weier. Onder hierdie omstandighede is die RPR se weiering nie net onregverdig nie, maar ook buitensporig arbitrêr en willekeurig.

Hoe raak dit jou as regspraktisyn?

Vir lede van Solidariteit – veral Afrikaanssprekende regspraktisyns en regstudente – gaan hierdie saak oor meer as net papierwerk. Dit gaan oor taalregte, billike toegang tot die beroep, en die verantwoordbaarheid van openbare instellings. Deur tot regsaksie oor te gaan, bevestig Solidariteit die beginsel dat geen liggaam – nie eens ʼn statutêre liggaam soos die RPR – bo die wet verhewe is nie.

Bly ingelig oor kwessies in jou beroep

Die Solidariteit Regsnetwerk sal voortgaan om Solidariteit-lede en lede van die Regsnetwerk op hoogte te hou van hierdie hofsaak se vordering. Indien jy vrae het of by die Regsnetwerk betrokke wil raak, kontak gerus die netwerk en bly ingeskakel! Ons is hier om jou regte te beskerm – in Afrikaans.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel