
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Die SOS vereer onderwysers en skoolhoofde by Onnieveerder-toekenningsgeleentheid
Deur Kyla-Ann du Toit
Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het op 27 November 2024 innoverende onderwysers en skoolhoofde tydens hul jaarlikse Onnieveerder-toekenningsgeleentheid vereer. Hierdie spoggeleentheid is ʼn huldeblyk aan individue wie se toewyding en innoverende benadering tot onderwys ʼn blywende verskil maak in die lewens van leerders en hul gemeenskappe.
Lalindei Botha, onderwyser by Laer Meisieskool La Rochelle, is as die Onnieveerder van 2024 bekroon. Haar energieke en innoverende onderrigstyl bevorder nie net kritiese en kreatiewe denke onder haar leerders nie, maar verbeter ook akademiese uitkomste. Haar klaskamer dien as ʼn veilige ruimte waar elke leerder aangemoedig word om hul volle potensiaal te bereik.

“Om hierdie toekenning te ontvang, is ʼn absolute voorreg,” sê Botha. “Ek is dankbaar om ’n onderwyser te wees en sien daarna uit om voort te gaan met my roeping om leerders te inspireer om nuuskierige, kreatiewe en selfversekerde grootmense te word.”
Jannie Raath, skoolhoof van Laerskool Hennopspark, is as die mees innoverende skoolhoof van 2024 vereer. Onder sy leiding het die skool ʼn kultuur van innovasie gevestig, wat onderwysers bemagtig om moderne en doeltreffende onderrigmetodes te implementeer. Sy visie en strategie het ʼn ruimte geskep waar kreatiwiteit en samewerking floreer.

“Hierdie erkenning dra ek graag op aan my onderwysspan, wat elke dag saam met my hierdie pad stap. Ek is trots om deel te wees van ʼn skoolgemeenskap wat innovasie omarm en saamwerk om leerders vir die toekoms toe te rus,” sê Raath.
Volgens Valentyn van der Merwe, hoof van innovasie by die SOS, is hierdie wenners ʼn bewys van die kragtige impak wat kreatiwiteit en innovasie in die onderwys kan maak. “Lalindei en Jannie se toewyding tot hul werk inspireer nie net hul leerders nie, maar ook die breër onderwysgemeenskap,” sê hy.

Die Solidariteit Onderwysernetwerk het ten doel om ʼn beroepsgemeenskap vir onderwysers in Afrikaanse skole te skep waardeur die beroep beskerm en bevorder kan word. Dit is ʼn tuiste vir onderwysers waar hulle vir hul harde werk vereer word en waar hul regte binne die onderwyssektor beskerm word.
As lid van die Solidariteit Onderwysernetwerk, kwalifiseer jy vir gratis lidmaatskap by al 15 van die SOS se vakverenigings wat jou in staat stel om gratis hulpbronne en opleiding te ontvang. Jy kry ook toegang tot ál Die Wolkskool se video’s, werkkaarte, assesserings en elektroniese handboeke, asook die SOS se splinternuwe Vraagbank waar hulle toetse en vraestelle kan genereer met reeds gemodereerde vrae.
Klik hier om vandag nog aan te sluit en word deel van jóú beroepstuiste!
Fotokrediet: Minét van Wyk