Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Die twee dryfkragte agter Solidariteit se werkfasilitering
Deur Heléne Leonard
In ʼn tyd waar werksoekers en werkgewers meer as ooit tevore na nuwe maniere van interaksie en die vestiging van verbintenisse soek, het Solidariteit se werkfasiliteringplatform ʼn geleentheid vir albei partye geskep.
Solidariteit is nie ‘n werwingsagentskap nie, maar ons werkfasiliteringsplatform is ʼn aanlyn bymekaarkomplek waar werknemers en werkgewers in Afrikaans met mekaar kan netwerk!
Solidariteit het reeds die drome van talle mense bewaarheid en ʼn belangrike brug tussen werksoekers en werkgewers gebou. Agter die innoverende tegnologie wat daarvoor gebruik is en die suksesvolle interaksie wat bewerkstellig is, is twee inspirerende vroue wat hierdie droom vir werkgewers en werksoekers ʼn werklikheid maak. Mandy Thackwray en Delmei Deport het ʼn passie vir en is toegewyd aan Solidariteit se missie om ʼn puik waardeaanbod aan sowel werkgewers as werksoekers te bied.

Mandy Thackwray is die bestuurder van Solidariteit Werk, en sy het dit haar persoonlike doelwit gemaak om ʼn platform te skep wat werkgewers in staat stel om die regte kandidate vir hul poste te vind. Haar ywer ken geen einde nie en sy is voortdurend besig om die platform verder uit te bou en te verbeter. Sy beskou dit as ʼn uitdaging om netwerkgeleenthede vir werksoekers en werkgewers te skep en sy is ʼn ywerige navorser wat altyd op soek is na nuwe maniere om die platform uit te bou. Mandy deins ook nie terug vir uitdagings nie en is gedurig op die uitkyk na geleenthede om Solidariteit se werkfasiliteringsnetwerk te verbreed. Daarom tree sy gereeld in gesprek met ʼn verskeidenheid van organisasies. Haar visie is duidelik – ʼn beter toekoms vir almal wat deur middel van topwerkgeleenthede bereik word.

Delmei Deport, die koördineerder by Solidariteit Werk, is in die ware sin van die woord ʼn ondersteuner van werknemers. Sy het ʼn brandende passie vir die bemagtiging van mense sodat hulle in ʼn posisie is om suksesvol te kan aansoek doen vir hul droomwerk. Sy is veral betrokke by die jonger generasie wat dikwels hulp benodig om ʼn sterk CV te bou om só ʼn beter kans te staan om die werkplek te betree. Delmei gee nie net leiding en ondersteuning nie, sy is ook ʼn bron van inspirasie vir baie. Haar empatie en begrip vir die uitdagings wat werksoekers ervaar, maak van haar ʼn onmisbare bate vir Solidariteit se span.
Al twee die vroue wy hulle ten volle aan Solidariteit se werkfasiliteringsplatform. Hulle staan reg om enige navrae te hanteer en geniet dit om direk met werkgewers en werksoekers te gesels. Hulle het ʼn passie om mense te help om die platform ten volle te benut om só hul doelwitte te bereik. Dit maak nie saak of die interaksies in persoon of elektronies plaasvind nie, Mandy en Delmei is altyd reg om ʼn hand te gee en die pad na sukses te wys.
Mandy en Delmei maak ʼn wesenlike impak op Solidariteit se werkfasiliteringsaanbod en op die mense wat dit gebruik. Deur hul passie en toewyding wys hulle dat ware sukses bereik kan word deur ʼn droom na te jaag en deur mense te help om die regte geleenthede te vind. Solidariteit se werkfasilitering is in goeie hande. Die toekoms van werk lyk sommer blink vir ons gemeenskap, en dit danksy hul bydrae.