loading
Artikels
18 uur gelede
die-uitdagings-waarmee-sa-se-besighede-te-kampe-het

Foto Krediet: OkayDeer

Die uitdagings waarmee SA se besighede te kampe het

Deur Nico Strydom

Die sakelandskap het oor die afgelope paar jaar met ongekende uitdagings te kampe gehad.

Dit sluit onder meer in die vinnige opkoms van hibriede werk, kunsmatige intelligensie (KI) en die integrasie van innoverende instrumente soos virtuele realiteit (VR).

“Hierdie transformerende kragte hervorm fundamenteel hoe maatskappye funksioneer en plaas druk op hulle om by nuwe tegnologieë aan te pas, terwyl elemente soos produktiwiteit, werknemerbetrokkenheid en steeds veranderende kliëntverwagtinge gebalanseer moet word,” sê Anne-Marié Pretorius, direkteur by Bizmod.

Terwyl Suid-Afrikaanse besighede hierdie komplekse en ietwat oorweldigende omgewing navigeer, word hulle volgens Pretorius gekonfronteer met sowel die geleenthede as die uitdagings van ‘n vinnig veranderende digitale wêreld. “Die druk is groot om nie net aan nuwe werkswyses te voldoen nie, maar ook om te innoveer en strategieë te ontwikkel wat voordeel trek uit ontluikende tegnologieë,” sê Pretorius.

Afstandswerk en hibriede werk het drasties toegeneem sedert die Covid-19-pandemie. Volgens Pretorius is daar gesien dat ‘n hibriede werksomgewing werknemerbehoud kan verbeter en ook as ‘n kragtige werwingsinstrument kan dien om toptalent te lok.

“Aan die anderkant het werkgewers die afgelope jare gesukkel om ‘n sterk kultuur te kweek en samewerking tussen werknemers te bevorder wanneer hulle nie persoonlik saamwerk nie.”

Die gebruik van generatiewe KI in Suid-Afrika het aansienlik toegeneem. Pretorius sê hoewel KI nie die diepgaande kennis en begrip kan naboots wat ervare werkers na ‘n besigheid bring nie, kan dit kortsigtig wees om die geleenthede wat KI aan besighede kan bied, oor die hoof te sien. 

Sy waarsku dat hoewel KI op historiese data staatmaak, wat dalk nie altyd die huidige besigheidsrealiteite weerspieël nie, daar aansienlike risiko’s aan die gebruik daarvan verbonde is. “KI-gegenereerde insigte kan soms onakkuraat, misleidend of oneties wees, wat moontlik tot swak of skadelike besluite kan lei as dit nie noukeurig deur bekwame professionele persone bestuur word nie.”

Kuberveiligheid en die gepaardgaande bedreigings is nog een van die groot uitdagings waarmee besighede in Suid-Afrika te kampte het.

“Besighede moet in robuuste kuberveiligheidsmaatreëls belê ten einde hul waardevolle data en stelsels te beskerm. Namate hierdie kuberbedreigings aanhou toeneem, neem die vraag na vaardige kuberveiligheidspersoneel ook toe.”

Volgens Pretorius neem die tekort aan IT-vaardighede toe, en moet organisasies nuwe maniere vind om werknemers te werf, op te lei, te behou en te verbeter.

“Die vinnige opkoms van nuwe tegnologieë en toerusting lei tot ‘n gaping tussen werknemers se vaardighede en tegnologie, aangesien individue sukkel om daarmee tred te hou. Dit is duidelik dat besighede wat die fyn balans kan bereik om ‘n hibriede arbeidsmag effektief te bestuur en die geleenthede omarm wat digitale transformasie kan meebring, beter toegerus sal wees vir toekomstige groei en welvaart.”   

Solidariteit is jou vennoot in die werkplek. Alhoewel talle uitdagings in die mark hul verskyning maak, is Solidariteit jou standvastige vennoot. Deur jou te bemagtig en te beskerm, sal jy sukses kan bereik en nie net goed werk nie, maar ook jou volle potensiaal kan bereik! Sluit vandag nog aan by hierdie gemeenskap van werkendes – dis gratis en Afrikaans!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel