
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Die veranderende landskap van sosiale media vir tieners
Deur Maryna Eksteen
Sosiale media het oor die afgelope dekade aansienlik ontwikkel en gediversifiseer. Waar tieners vroeër Facebook gebruik het as hul primêre sosiale platform, het dié platform sy relevansie onder jonger generasies verloor. Vandag is TikTok, Instagram, YouTube, SnapChat en Discord die platforms wat hul aandag trek, elk met sy eie unieke eienskappe en gebruike.
Solidariteit se Maatskaplikewerkersnetwerk het so bietjie by dr. Serahni Symington gaan inloer om te gesels oor die effek wat sosiale media op leerders het.
In die tienerjare is die soeke na identiteit en groepvorming van kardinale belang. Erik Erikson, ʼn bekende ontwikkelingsielkundige, het hierdie fase as “identiteit teenoor rolverwarring” beskryf. Tieners probeer om hul eie, unieke identiteit te ontwikkel en hul plek in die wêreld te vind. Hierdie proses word dikwels bemoeilik weens druk van portuurgroepe en die invloed van sosiale media.
Sosiale media kan ʼn groot impak hê op die sosiale en emosionele ontwikkeling van tieners. Hoewel dit ʼn ruimte bied vir selfuitdrukking en verkenning, kan dit ook gevoelens van minderwaardigheid en jaloesie aanwakker. Tieners vergelyk dikwels hulself met die “perfekte” lewens wat ander op sosiale media uitbeeld, wat tot ʼn lae selfbeeld en onsekerheid by die tiener kan lei.
Die wetgewing rakende sosiale media en tieners is streng. In Suid-Afrika word ʼn kind as ʼn persoon onder die ouderdom van 18 jaar beskou, en kinders vanaf die ouderdom van 7 kan in die naam van hul ouer of voog gedagvaar word. Tieners tussen 11 en 18 kan in hul eie naam gedagvaar word, maar met die bystand van ʼn ouer of voog. Die gebruik van sosialemediaplatforms het oor die algemeen ʼn minimum ouderdom van 13 jaar, en sommige vereis ouerlike toestemming.
Wanneer sosialemedia-aktiwiteite die funksionering van ʼn tiener begin beïnvloed, is ingryping nodig. Hierdie ingrypings sluit in psigo-opvoeding oor die gebruike en risiko’s van sosiale media, ondersteuning vir ouers in die bestuur van sosialemedia-gebruik en skermtyd, asook mentorskap vir tieners in hul identiteitsontwikkeling.
Volgens dr. Symington is dit belangrik vir maatskaplike werkers wat met tieners werk, om te besef dat tieners van ʼn vertroulike verhouding in ʼn terapie-situasie hou, maar indien hulle by gevaarlike bedrywighede betrokke is, is ʼn maatskaplike werker verplig om inligting te deel ten einde die kind te beskerm.
Dit is belangrik dat beraders en ouers bewus bly van die invloed van sosiale media op tieners, en dat hulle proaktief optree om ʼn gesonde en gebalanseerde aanlyn ervaring vir hulle te verseker. Bly op hoogte van nuus in jou wêreld, sluit aan by die Maatskaplikewerkersnetwerk. Jy maak ʼn wesenlike verskil in jongmense se lewe en daarom sê ons vir jou #JyHoortHier!