loading
Artikels
1 dag gelede
nuwe-spesialisasie-vir-kliniese-maatskaplike-werkers

Foto Krediet: Okay Deer

Neem beheer van jou loopbaan: Nuwe spesialisasie vir kliniese maatskaplike werkers

Deur Lize-Mari Verster

In die veeleisende dog lonende veld van maatskaplike werk, speel deurlopende professionele ontwikkeling ʼn deurslaggewende rol. Dit gaan nie net oor die handhawing van registrasie nie, maar oor die bemagtiging van jouself om te groei, te spesialiseer en nuwe hoogtes in jou loopbaan te bereik. Vir maatskaplike werkers met ʼn passie vir kliniese werk, het ʼn belangrike nuwe geleentheid pas oopgemaak wat presies hierdie soort bemagtiging moontlik maak.

Die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk is opgewonde om lede in te lig dat die Suid-Afrikaanse Raad vir Maatskaplike Diensberoepe (SACSSP) se proses vir registrasie as ʼn professionele kliniese maatskaplike werker nou oop is. Dit is ʼn beduidende stap vorentoe vir die beroep, aangesien dit vir praktisyns formele erkenning vir hul gespesialiseerde vaardighede bied.

Die pad na spesialisering

Volgens inligting wat bekom is, het ʼn toegewyde werksgroep van die SACSSP hul taak om die kriteria vir hierdie nuwe spesialisasie te ontwikkel, voltooi. Hierdie proses het van Februarie 2024 tot Mei 2025 geduur. Die gevolg is dat maatskaplike werkers wat voorheen slegs kon aandui dat hulle in ʼn kliniese praktyk werksaam is, nou amptelik aansoek kan doen om hul titel na “Kliniese Maatskaplike Werker” te verander. Die registrasieproses is reeds oopgestel vir aansoeke.

Hierdie ontwikkeling bou voort op bestaande raamwerke, soos dié uiteengesit in die Staatskoerant van 1 September 2017, wat die weg vir spesialisasie begin baan het.

Terwyl die deur na hierdie geleentheid nou oop is, bestaan daar nog onduidelikheid oor die praktiese implementering daarvan. Die amptelike aankondiging deur die SACSSP word nog afgewag, en praktisyns soek dringend antwoorde op die volgende vrae:

  • • Sal die 2017-riglyne wat in die Staatskoerant gepubliseer is aangepas word om die nuwe kriteria te weerspieël? Alhoewel die huidige proses op die 2017-riglyne gebaseer is, is dit onseker of ’n gewysigde weergawe binnekort gepubliseer sal word. (Lees meer hier.)
  • • Wat is die finale en volledige lys van vereistes en dokumentasie wat vir die aansoek ingedien moet word? Dit is raadsaam om direk by die Raad te bevestig dat jy die mees onlangse aansoekvorm en dokumentlys gebruik. (Lees meer hier.)
  • • Waarheen presies moet voltooide aansoeke gestuur word? Die aansoekvorm spesifiseer dat die oorspronklike dokumente per koerier of geregistreerde pos na die Registrateur gestuur moet word. Die adresse word soos volg verskaf:

Fisiese Adres: Annie Botha-laan 37, Riviera, Pretoria, 0084.   

Posadres: Privaatsak X12, Gezina, 0031.

Bemagtig jouself en wees proaktief

Hierdie oomblik van verandering is die ideale geleentheid om beheer oor jou eie loopbaanpad te neem. Moenie wag vir inligting om na jou toe te kom nie; bemagtig jouself deur proaktief te wees. Ons moedig alle belangstellende maatskaplike werkers aan om die SACSSP direk te kontak om duidelikheid oor die proses en vereistes te verkry.

Verder is spesialisering ook ʼn geleentheid om jou eie handelsmerk as professionele persoon te bou. Om jou spesialisering of privaat praktyk effektief te bemark, vereis nuwe vaardighede. Solidariteit se platform vir voortgesette leer bied ʼn wye verskeidenheid kursusse, soos Canva-opleiding, wat jou kan help om ʼn professionele beeld te skep en jou dienste aan die gemeenskap bekend te stel.

Die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk is ʼn gemeenskap wat jou in jou beroep ondersteun en toegang tot relevante opleidingsgeleenthede gee.  Ons is daartoe verbind om ons lede ingelig te hou en sal aanhou om antwoorde op hierdie belangrike vrae te soek.

Sluit vandag nog by jou beroepstuiste aan en wees deel van ʼn netwerk wat hom daarop toespits om die beroep te beskerm en loopbaangeleenthede te skep. Jou pad na spesialisering begin hier!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel