
Foto Krediet: ChatGPT
Gekopieër
Die VSA se geduld met SA is op en gewone landsburgers gaan die prys betaal
Deur Kyla-Ann du Toit
Die waarskuwingsklokke vir Suid-Afrika se internasionale betrekkinge het ophou lui.
Joshua Meservey, ʼn senior ontleder van die invloedryke Hudson Institute in Washington, het onlangs op die sosialemediaplatform X (voorheen Twitter) gesê dat dit nie meer die ANC of die Suid-Afrikaanse regering is wat geloofwaardigheid in die VSA het nie, maar eerder burgerlike afvaardigings wat die regering se optrede openlik kritiseer. Ironies genoeg is dit juis hierdie onafhanklike afvaardigings – soos die Solidariteit Beweging – wat tot dusver gehelp het om sanksies teen Suid-Afrika af te weer. (Lees hier meer oor ʼn afvaardiging van die Solidariteit Beweging, Solidariteit en AfriForum vroeër vanjaar.)
Die uurglas het egter nou leeggeloop. Die VSA se waarskuwings het nou na daadwerklike optrede gelei.
Die VSA het opgetree
President Donald Trump het in Julie 2025 aangekondig dat indien geen nuwe handelsooreenkoms bereik word nie, toegang tot die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) herroep kan word en die huidige tariewe op Suid-Afrikaanse uitvoere verhoog sal word.
Die VSA het uiteindelik op 1 Augustus 2025 ʼn 30%-invoertarief op alle Suid-Afrikaanse goedere aangekondig. Volgens die Trump-administrasie is die doel van dié “wederkerige” maatreël om te reageer op die ANC se voortgesette steun aan lande soos Iran, China, Rusland en terroriste-organisasies soos Hamas – ten koste van volhoubare diplomatieke bande met die Weste.
Hierdie verhoogde tarief tree vanaf 8 Augustus 2025 in werking.
Wat beteken dit in praktyk?
Agoa is ʼn handelsvoorkeurprogram wat reeds duisende plaaslike werksgeleenthede ondersteun. Volgens Lesetja Kganyago, president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, word sowat 100 000 werksgeleenthede in sektore soos landbou, vervaardiging en die motorbedryf deur hierdie nuwe tarief bedreig.
Dit is nie die ANC of sy kaderbeheerde strukture wat die gevolge hiervan gaan dra nie. Dit gaan die gewone Suid-Afrikaner wees – die entrepreneur, die boer, die fabriekswerker en die jong gegradueerdes wat sukkel om ʼn vastrapplek in die arbeidswêreld te kry.
Die regering systap aanspreeklikheid
Meservey beskryf die ANC-regering as een wat diplomatieke gesprekke as blote teaterpolitiek aanbied – sonder enige werklike voorneme om betekenisvolle verandering te prioritiseer én mee te bring nie. Hy wys op Suid-Afrika se jarelange bande met onderdrukkende regimes en vra tereg: Hoe lank gaan die wêreld nog hierdie fasade glo terwyl korrupsie, ekonomiese verval en rassediskriminasie voortwoed?
Vir Solidariteit is hierdie kommentaar nie net ʼn bevestiging van die ANC se ideologiese verkramptheid nie – dit is ʼn duidelike waarskuwing: Rasgebaseerde beleid, politieke alliansies met onderdrukkende regimes en die verwaarlosing van infrastruktuur is besig om die land internasionaal te isoleer.
En die res van die wêreld begin dit ook nou besef.
ʼn Duur prys om te betaal
Meservey stel dit reguit: Indien sanksies ingestel word, sal dit juis diegene wees wat reeds onder regeringswanbestuur ly wat die swaarste getref gaan word.
Die ANC sal dalk steeds met hul diplomatieke “teateropvoering” kan voortgaan, maar dit is die jong ingenieur wat nie ʼn werk gaan kry nie, die boer wat gaan sukkel om produkte uit te voer en die maatskappy wat sakeverhoudings met die VSA gaan verloor wat die gevolge sal dra.
Dit is waarom Solidariteit al lank sê: ʼn Regering wat nie aanspreeklik gehou word nie, gaan uiteindelik die mense onder hom skade berokken.
Dit is nou die tyd vir selfstandigheid
Die ANC verloor nie net binnelandse steun nie, maar ook stadig maar seker sy plek aan die internasionale tafel. Hierdie agteruitgang het egter regstreekse gevolge vir gewone Suid-Afrikaners. Die vraag is: Wat kan ons as gemeenskap doen?
By Solidariteit glo ons nie daaraan om te wag nie. Ons glo in selfdoen. Ons gemeenskap bou beroepsnetwerke as teenvoeter vir werksverliese. Ons dra by tot die ontwikkeling van skole, universiteite, opleidingsinstellings om ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms vir ons nageslag te verseker. Ons vorm ʼn burgerlike teenwig vir die staat – juis omdat ons weet dat wanneer die regering faal, die gemeenskap sterk moet staan.
Die tyd om weg te kyk is verby. Die res van die wêreld is besig om na die ANC se teateropvoering te kyk en die uurglas is reeds leeg. Joshua Meservey is slegs een van talle internasionale stemme wat toenemend vrae begin vra oor die ANC-regering se buitelandse beleid, interne wanbestuur en die gevolge daarvan vir gewone Suid-Afrikaners soos ek en jy.