
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Ontbytgesprek oor VSA-tariewe: “Ons vul die gaping waar die regering misluk”
Deur Leré Nel
Met die VSA se nuwe invoertariewe op Suid-Afrikaanse goedere wat op 8 Augustus 2025 in werking tree, het Solidariteit op Woensdag 6 Augustus ʼn ontbytgesprek by sy hoofkantoor in Centurion gehou om die diplomatieke krisis tussen Suid-Afrika en die VSA te bespreek. Die gesprek het verskeie belangrike punte uitgelig, onder meer die regering se swak diplomatieke optrede, die feit dat hierdie tariewe ʼn straf is in reaksie op die ANC se optrede, en Solidariteit se plan van aksie om die skade hiervan te beperk.
Dirk Hermann: “Ons het vir Suid-Afrika ingetree toe die regering versuim het om dit te doen!”
Solidariteit se bestuurshoof, Dirk Hermann, het die gesprek geopen met ʼn bemoedigende boodskap aan lede en die breër gemeenskap: “Solidariteit se werk is mense se werk. Ons werk is om teen dít wat mense se werk bedreig, te beskerm.”
Hermann het die ANC se beleid as die dryfveer agter die tariewe uitgewys en die implikasies daarvan duidelik uiteengesit. Hy het beklemtoon dat die tariewe duidelik ʼn politieke instrument is waarmee die ANC gestraf word vir hul wandade en beleide. Die ANC het die land se diplomatieke betrekkinge verhoudinge tot op die rand van ineenstorting gedryf. Solidariteit se internasionale skakelwerk in Februarie 2025 was ʼn reddingspoging … ʼn daad van verantwoordelike patriotisme. “Ons het vir Suid-Afrika ingetree toe die regering versuim het om dit te doen,” sê Hermann.
Monica Mynhardt: “Die ANC is meestersin skynhandelinge”
Monica Mynhardt, politieke en ekonomiese joernalis by Maroela Media, het die regering se gebrek aan visie en strategie uitgelig: “Die regering het ʼn ongelooflik kortsigtige siening vanhierdie situasie geneem.” Sy het ook kritiek uitgespreek teen die ANC se “struggle”-mentaliteit, wat volgens haar internasionale samewerking belemmer: “Die ANC is meesters in skynhandelinge, eerder as om die probleem – waarvan hulle gewoonlik die oorsaak is – op te los.”
Connie Mulder: “Mandela is oorlede. Ons kan nie meer die simpatiekaart speel nie.”
Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), het die ANC se internasionale bemoeienis as een van die grootste bydraers tot die tariefkrisis beskryf: “Wat jy bereik deur soveel in te meng in twee groot krisisse (Rusland en Gaza) wat baie ver weg plaasvind, is dat niemand eintlik verstaan waarom jy betrokke raak nie.” Suid-Afrika se inmenging by albei hierdie oorloë was nie net onnodig en sinneloos nie – dit was ʼn boodskap aan die VSA dat ons regering geen respek het vir die waardes van die Weste nie, en nie omgee om dit wat hulle probeer regkry, te dwarsboom nie.
Hy het ook die regering se passiwiteit gekritiseer: “Hulle is soos ʼn bok verstar in die hoofligte. Hulle is al twee keer raakgery, maar hulle beweeg steeds nie.” En noudat daar gevolge vir hulle dade is, is hulle verbaas.
Jaco Kleynhans: “Ons het ʼn plan”
Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling by Solidariteit, het bevestig dat die organisasie reeds proaktief aan oplossings werk – beide plaaslik en deur internasionale skakeling. “Solidariteit wil dit baie duidelik stel dat ons ʼn plan het om die tariefkrisis te hanteer. Ons weet dat duisende mense, insluitend Solidariteit-lede, waarskynlik oor die volgende paar weke hul werk gaan verloor. Ons is al vir weke besig om breedvoerig met politieke partye, ander vakbonde en burgerlike organisasies te skakel om ʼn breë netwerk in Suid-Afrika te ontwikkel ten einde hierdie tariefkrisis doeltreffend te hanteer. Ons kan dit nie alleen doen nie – daarom plaas ons, saam met ander groepeasook die Amerikaanse regering, politieke druk op die regering. Die Solidariteit Beweging gaan volgende maand weer ʼn afvaardiging na die VSA stuur om met Amerikaanse owerhede oor hierdie kwessie te gesels.”
Die hartseer werklikheid is dat meer as 100 000 mense waarskynlik hul werk kan verloor as gevolg van hierdie tariewe. Kleynhans moedig diegene wat geraak word aan om Solidariteit se werkfasiliteringsplatform te gebruik as hulpmiddel om gou weer ʼn werk te kry.
Werner Human: “Die tariefkrisis skep ʼn geleentheid”
Werner Human, operasionele hoof van die Solidariteit Beweging, het die gesprek afgesluit met ʼn hoopvolle blik op dietoekoms: “Die diplomatieke krisis met die VSA skep eintlik ʼn diplomatieke geleentheid vir ons as kultuurgemeenskap. Ons as Afrikaners het baie gedeelde waardes met die VSA. Ons staan nie bakhand nie. Ons blus nie herhaaldelik brande nie. Ons vind eerder werklike langtermynoplossings deur te skep en te bou.” Die Solidariteit Beweging sal aanhou om gesonde voorstelle vir ons land te maak en oplossings te vind – nie omdat ons die ANC wil red nie, maar omdat ons lief is vir ons land.
Solidariteit sal in die komende weke voortgaan om druk op die regering te plaas, internasionale bande te versterk en sy lede by te staan.
Klik gerus hier om na die volledige gesprek te kyk.