loading
Artikels
2 dae gelede
direkteur-generaal-laat-glip-dat-seb-wel-vsa-onderhandelinge-benadeel

Foto Krediet: Solidariteit

Direkteur-generaal laat glip dat SEB wel VSA-onderhandelinge benadeel

Deur Leré Nel

Die nuus dat nuwe handelstariewe tussen Suid-Afrika en die VSA in werking gestel gaan word, het onlangs opslae gemaak. Dié tariewe sal van 7 Augustus 2025 op alle invoerprodukte van toepassing wees. Tog het Zane Dangor, direkteur-generaal van die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, volgens Breitbart, gedurende die aanloop tot hierdie sperdatum voortgegaan met ʼn beleidsrigting wat teen Amerikaanse belange indruis – alles terwyl hy klaarblyklik nog op ʼn gunstige handelsooreenkoms gehoop het. In die proses het Dangor laat glip wat Solidariteit al lankal sê: swart ekonomiese bemagtiging (SEB) is ʼn ernstige struikelblok in ons internasionale handelsonderhandelinge – veral dié een.

Volgens Breitbart News staar Suid-Afrika al vir ʼn geruime tyd die moontlikheid van drastiese tariewe in die gesig: ʼn 30%-heffing op alle uitvoere na die VSA, met ʼn verdere 10%-boete op al die BRICS-lande, weens sogenaamde “anti-Amerikaanse”-beleide, tensy ʼn nuwe ooreenkoms betyds gesluit kan word.

Tog blyk dit dat die regering nie bereid is om sy omstrede SEB-beleid te herevalueer nie, selfs al beteken dit die ekonomie gaan ʼn ernstige hou vat. Dangor erken self dat die VSA herhaaldelik gevra het dat SEB-beleide, wat hoofsaaklik ʼn klein elite bevoordeel en die armes nog armer maak, gestaak moet word.

Asof dit nie genoeg is nie,  gaan diplomatieke verhoudinge met die VSA met elke publieke uitlating agteruit. Dangor het openlik verklaar dat Israel van “… die misdaad van volksmoord, oorlogsmisdade en die misdaad van apartheid” skuldig is. Dít terwyl hy goed geweet het dat die Suid-Afrikaanse regering se anti-Israel-houding een van die grootste spanningspunte tussen die VSA en Suid-Afrika is.

Wat die situasie nog meer belaglik maak, is dat hierdie nuwe invoertariewe heeltemal vermybaar was. Die regering erken self dat hul binnelandse beleid internasionale onderhandelinge kniehalter, maar weier steeds om enigiets daaraan te doen, al kan dit biljoene rande spaar en duisende werkgeleenthede skep. Hierdie selfbelemmering plaas Suid-Afrika op ʼn gevaarlike pad. Handelsvennote verloor geduld en ons ekonomie balanseer op die randjie van ʼn nuwe krisis.

Te midde van hierdie onsekerheid bly Solidariteit, soos altyd, toegespits daarop om sy lede te beskerm, te bemagtig en te help bou aan ʼn toekoms, ten spyte van waansinnige regeringsbeleide. Om dit reg te kry, het Solidariteit reeds ʼn voorstel vir ʼn gunstige ooreenkoms aan president Trump en president Ramaphosa gestuur. Lees hier meer daaroor.

Wat dink julle gaan gebeur? Sal die Suid-Afrikaanse regering voor 7 Augustus wakker skrik en probeer om internasionale verhoudinge te herstel? Of gaan die regering se hardkoppigheid oor SEB-beleide ons duur te staan kom?

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel